Woestynplant getem tot plaasgewas

Andries Gouws

HEEL LINKS: Die wortels van die duiwelsklou word geoes, in skyfies gesny en gedroog. Die gedroogde wortels word veral in Duitsland gebruik om natuurlike middels te maak vir die behandeling van onder meer artritis en inflammasie.

LINKS: Die saad lyk soos 'n klou vol dorings. As die saad om 'n dier se bek vasgryp, kom dit baie moeilik los en so 'n dier kan vrek. Dit is waarskynlik waarom die plant duiwelsklou genoem word.

REGS: Uit dié blommetjie ontwikkel 'n saad wat soos 'n duiwelsklou lyk.

ONDER: Sowat 'n hektaar geselekteerde duiwelsklouplante is digby Gouda gevestig om te verseker daar is genoeg goeie plantmateriaal vir kommersiële verbouing.

Duiwelsklou, 'n plant inheems aan die Kalahari en ander droë dele van Suider-Afrika, is veral in Europa gesog weens sy medisinale waarde. Dit is deur 'n Kaapse wetenskaplike getem om kommersieel verbou te word.

GOEIE geld word verdien met gedroogde duiwelsklouwortel wat in die veld geoes en aan 'n nismark in die buiteland gelewer word. Die gewas is nou feitlik gereed om kommersieel geplant te word en mits die produsent 'n kontrak vir lewering het, kan 'n aansienlike wins daarmee gemaak word.

Prof. Earle Graven is 'n akkerboukundige wat die afgelope 20 jaar 'n studie gemaak het van Suid-Afrikaanse aromatiese inheemse plante en vlugtige olies wat daaruit onttrek kan word. Hy is nou hoof van die onderneming Grassroots Natural Products digby Gouda in Wes-Kaap. Hy het plantmateriaal versamel, in kweekhuise gekweek en vermeerder en met welslae in landerye geplant.

In die natuur word tot 3 kg nat wortels per plant geoes. Prof. Graven glo die produksie kan met besproeiing en organiese bemesting aansienlik opgestoot word. Met aanvullende besproeiing is dit waarskynlik moontlik om tot 10 000 plante per hektaar te plant wat teoreties 30 ton per hektaar kan lewer.

Hy waarsku egter dat die gedroogde wortels aan 'n nismark gelewer word wat tans grootliks versadig is met wortels wat in die veld geoes word en dikwels ál inkomstebron is vir plaaslike gemeenskappe. Nuwe leweringskontrakte word van tyd tot tyd beskikbaar wat nuwe moontlikhede vir kommersiële boere kan skep.

Sowat 60 jaar gelede het mnr. G.H. Mehnart wortels van die duiwelsklou in Namibië versamel en dit na Duitsland gebring waar dit verwerk en die medisinale waarde vir artritis en inflammasie bepaal is.

Die plant is saam met aalwyne en boegoe die enigste drie inheemse Suid-Afrikaanse plante wat in die amptelike internasionale lys van medisinale plante opgeneem is.

Duiwelsklou het oor die jare gewilder geraak as medisinale plant en vandag is daar 'n beperkte, dog bestendige vraag daarna.

Tot nou toe is die wortels uitsluitlik van plante geoes wat wild in die veld groei. Namate kommer oor die omgewing en die uitwissing van inheemse spesies toegeneem het en daar aanduidings is dat die beheer oor die oes van die plante in die natuur ál strenger kan word, het die behoefte ontstaan om die plante kommersieel te verbou.

'n Belangrike beperking is egter dat geen chemiese stowwe (kunsmis, onkruid- of plaagdoders) tydens verbouing gebruik kan word nie.

Prof. Graven sê sy onderneming het sowat twee jaar gelede begin met die identifikasie van die regte genotipes, die versameling van plantmateriaal in die veld en die vermeerdering daarvan. In dié proses word nou saamgewerk met kenners van internasionale ondernemings en net gedroogde materiaal word uitgevoer.

Die oudste aanplanting op die onderneming se plaas by Gouda is sowat twee jaar oud.

Die oogmerk is om die verbouing uit te brei om te verseker dat genoeg van die regte plantmateriaal beskikbaar is wanneer boere die gewas kommersieel wil begin verbou.

Hy sien duiwelsklou, saam met ander inheemse plante, as 'n natuurlike bate vir die land wat hier verder ontwikkel en verbou moet word tot voordeel van die land. Kommersiële aanplantings moet egter net gedoen word waar nuwe kontrakte beding kan word of wanneer tekorte begin ontstaan as die insameling daarvan in die veld deur bewaringswetgewing beperk word. Die voordeel wat plaaslike mense daaruit trek, moet nie in die gedrang kom nie.

Tydens die navorsing oor die plant is saad en vegetatiewe plantmateriaal in die veld versamel.

Afgesien van landboukundige kenmerke is dit ook belangrik dat die chemiese verbindings van stowwe in die wortel in 'n spesifieke kombinasie voorkom wat dit aanvaarbaar maak vir verwerking deur oorsese vervaardigers van medisyne.

'n Spesifieke spesie, Harpagophytum procumbens (subspesie procumbens), voldoen tot nou toe die beste aan dié vereistes. Daar word beweer dat die samestelling van die chemiese verbindings in die wortels gekoppel is aan die vorm van die saad (wat soos 'n klou vol dorings lyk), maar met die ondersoek is gevind dat daar binne spesies baie groot variasies voorkom.

Dit is die maklikste om die plant van saad te kweek, maar met vegetatiewe voortplanting kan die kenmerke van die moederplant net so oorgedra word na die nakomelinge.

In die kweekhuise is die plante geselekteer vir groeikragtigheid en die beste chemiese samestelling van stowwe in die wortels, en die onderneming het nou goeie plante op sowat 'n hektaar gevestig.

Om duiwelsklou te vestig, word die grond diep geploeg en goed organies bemes. Die plantjies word in die lente uitgeplant.

Sanderige dele

Die plante kom natuurlik hoofsaaklik in die sanderige dele vanaf Mareetsane in 'n breë strook deur die Noord-Kaap en Suid-Bot-swana voor tot in die noorde van Namibië.

In die aanplanting by Gouda word drupbesproeiing gebruik op die sanderige grond wat baie goed met boegoereste bemes is. Daar is al wortels geoes wat 85 cm lank en 6 cm in deursnee was. Tot nou lyk dit asof die beste resultate behaal word as die wortels elke twee jaar geoes word. Net die wortels word ingesamel. Die hoofstam van die plant word herwin en weer geplant.

In dié aanplanting is die plante in rye 'n meter uitmekaar en in die ry ook 'n meter uitmekaar geplant. Proewe word nog gedoen om te bepaal watter plantestand die beste sal vaar.

Nadat die wortels gewas is, word dit in skywe van sowat 10 mm dik gesny en gedroog. Die mark benodig nou sowat 800 ton per jaar wat nog uitsluitlik voorsien word met wortels wat in hoofsaaklik Namibië en Botswana in die veld geoes word.

Prof. Graven sê sy onderneming het nou 'n nuwe kontrak gesluit om 100 ton gedroogde wortels per jaar te lewer en die oogmerk is om belangstellende boere te kry om die duiwelsklou ingevolge 'n ooreenkoms te verbou.

Dié onderneming wil duiwelsklouwortels hê wat kommersieel gekweek is omdat hy 'n eenvormige produk vereis vir 'n nuwe middel.

Die mark is so beperk dat dit nie werklik 'n geleentheid aan baie boere bied nie. Afgesien daarvan dat die plant vir baie gemeenskappe 'n lewensbron is, sal boere sukkel om dit te verkoop as hulle nie eers 'n mark beding het nie.

Namibië voorsien sowat 75 % van die gedroogde duiwelsklouwortels wat uitgevoer word. Die res word feitlik alles in Botswana versamel. Kenners meen egter dat Botswana 'n baie groot reserwe van die plante het en dat 500 ton gedroogde wortels in 'n ommesientjie gelewer kan word. Baie min wortels word in Suid-Afrika geoes.

Agente koop die gedroogde wortels en voer dit uit. Die prys wissel van ongeveer R6 per kilogram tot R11 per kilogram vir goeie gesorteerde gedroogde wortels.

Navrae: Prof. Earle Graven, Grassroots Natural Products digby Gouda, Wes-Kaap. Tel. (023) 2320506 (Riebeeckkasteel)


Medisinale plant Kruie