Ongediertes makliker gevang met slim planne

Jacques Claassen

'n Bekende ongediertevanger se die boer wat ongediertes nie kan beheer nie, is of suinig, of lui of albei. Nou het hy 'n video gemaak waarop hy wys hoe slim en netjies 'n mens 'n slagyster moet stel.

OM 'n rooijakkals of 'n rooikat te vang, pleks van onskuldige nie- teikendiere, is 'n ware kuns. Stel 'n mens 'n slagyster, moet dit só gedoen word dat dit die kanse op welslae verhoog. Daarvoor is 'n presiese kennis van die veld en die roofdier se gedrag nodig.

Benewens 'n sif en 'n handbesem om die omgespitte sand te kamoefleer, kan lokaas, takkies, skedels van diere, skaapwol, maar ook skaap- of bokmis gebruik word wanneer 'n slagyster gestel word. Daarmee word die roofdiere se nuuskierigheid geprikkel en verseker dat hulle op die trapplaat van die slagyster trap pleks van langsaan.

Boonop bly dit 'n groot uitdaging om die slagyster só te stel dat jy nie onskuldige diere vang nie, veral kleinwild. Die slagyster kan só gestel word dat die trapplaat net deur meer as 2 kg geaktiveer word.

Min mense het tot dusver dié kuns bemeester. Een van dié wat dit wel reggekry het, is mnr. Peter Schneekluth (62) van Prins Albert, wat 'n uur lange video oor sy jagtegnieke gemaak het.

Mnr. Schneekluth het 32 jaar gelede uit Duitsland na Suid-Afrika geïmmigreer en het aanvanklik hier as 'n natuurbewaarder gewerk. Nadat hy as 'n ``groene'' bekommerd geraak het oor boere se ``kru'' vang-tegnieke -- en die feit dat hulle dikwels nie hul teikendiere vasgestrek het nie -- het hy besluit om jagmetodes te verbeter.

Sy doel was om vangmetodes tot 'n hoër vlak van selektiwiteit en doeltreffendheid te ontwikkel. ``Dit duur jare om vir jouself uit te werk hoe jy ongediertes selektief kan vang (net die diere wat jy wil vang). Dit walg my as ek 'n steenbok in 'n slagyster gevang het.''

Volgens mnr. Schneekluth het hy in sy natuurbewaringsjare ook die ongedierteprobleem akademies benader. In akademiese kringe word deesdae graag na ``probleemdiere'' verwys. Op sy video skroom mnr. Schneekluth egter nie om die term ``ongedierte'' te gebruik nie.

Hy regverdig sy ingesteldheid soos volg: ``Ek is steeds 'n natuurmens. Ek ry eerder teen 'n klip vas as om 'n toktokkie dood te ry. Maar 'n mens moet lewe en jy moet jou grond benut. Selfs wat bewaring betref, is daar iewers 'n afsnypunt.'' Volgens hom lê die waarheid iewers tussen oormatige bewaringsmaatreëls en praktyke waar daar nie genoeg op die natuur gelet word nie.

Mnr. Schneekluth wys daarop dat een van sy kliënte in die omgewing van Pearston 200 lammers per jaar verloor het. Nadat sy hulp ingeroep is, het sy verliese tot sowat 20 per jaar afgeneem. Volgens mnr. Schneekluth het dit sy kliënt 'n eenmalige bedrag van R5 000 uit die sak gejaag, maar hy het R25 000 se vrektes voorkom. Daarna moes die boer heelwat moeite doen en mannekrag aanwend om die bekamping van die ongediertes vol te hou.

Hy sê dat boere soms slagysters telefonies by hom bestel, maar dat hy dikwels agterkom dat hulle nie die kennis het om dit reg te gebruik nie. Op sy video word slagystertegnieke en ander aspekte in die fynste besonderhede beskryf en gedemonstreer.

Hy verduidelik onder meer die volgende slagysterstelle:

Die scent post-stel (waarvoor hy 'n verskeidenheid reukmiddels op bestelling kan verskaf);

Voetpadstelle (waar verskillende voetpaaie bymekaarkom);

'n Dubbele blindestel (om die doeltreffendheid van 'n voetpadstel te verhoog);

'n Snuffelgatstel (waar hy bv. 'n na-gemaakte meerkatnes inspan om die jakkals na die ``broeiplek'' en die ``kos'' te lok);

'n Dubbele scent post-stel (waar die plasing van die slagysters as 't ware matematies bepaal word); en

'n Veewerende rooikatstel (waarin vee of wild nie sal beland nie).

Daarbenewens word die gereedskap wat benodig word asook die beste plekke om die slagysters te stel, bespreek en gedemonstreer. Mnr. Schneekluth raai die kyker ook aan om die slagysters gereeld na te gaan nadat dit gestel is om die diere wat gevang is van onnodige lyding te verlos.

Die kyker sien ook hoe 'n rooikat wat 'n slagyster afgetrap het vinnig met 'n 22-geweer 'n kopskoot kry. Volgens mnr. Schneekluth ontstel dit miskien mense wat nie boer nie, maar dit gaan ook oor realiteite. Boonop maak die roofdiere net so wreedaardig jag op die plaasdiere. Ook beskou hy dit as minder wreed om só van 'n rooikat ontslae te raak pleks daarvan dat werkers met kieries en stokke op die dier afstorm en dit wreed doodslaan.

Hy wys daarop dat hy 'n lewe uit ongedieretebestryding begin maak het nadat hy sy werk as natuurbewaarder laat vaar het. In daardie stadium moes mnr. Schneekluth twee ongediertes per week vang om die pot aan die kook te hou. Dit het hom egter genoop om doeltreffende vangtegnieke te ontwikkel en te sorg dat daar nie onskuldige diere in sy slagysters beland nie.

In dié stadium van sy lewe het hy met 'n kampbedjie en ander kampeertoerusting van die een verlate plaasopstal in die Karoo na die ander getrek in opdrag van die boere wat sy hulp ingeroep het. Daarna was hy 'n ruk lank as ongediertejagter in diens van die destydse afdelingsraad van Worcester en Laingsburg, waar daar van hom verwag is om van plaas tot plaas te jaag. Mnr. Schneekluth sê hy het gou besef dit is 'n onbegonne taak.

In die afgelope 15 jaar het hy 350 ongediertekursusse vir boere in die droër dele van Suid-Afrika, maar ook in Namibië en Botswana aangebied. Hy vertel dat baie boere al vir hom gesê het: ``Peter, jy kom uit Duitsland en wil vir ons kom leer hoe om 'n (rooi)jakkals te vang.'' Dit duur egter nie lank nie, dan is hulle stil, aldus mnr. Schneekluth.

Volgens hom wil die boere ook altyd eers met hul eie oë sien dat sy toestelle werk. ``Ek moet as 't ware eers 'n vriend word voordat hulle my as jagter of konsultant aanvaar.''

Mnr. Schneekluth sê hy het die video gemaak omdat hy nie oral kursusse kan gaan aanbied nie.

Hy het self die draaiboek vir die film geskryf en die video saam met Chris en Tilde Stuart van Loxton vervaardig. Chris is 'n bioloog en 'n skrywer, terwyl Tilde met knap kamerawerk en die hulp van gesofistikeerde redigeertoerusting haar as 'n voorste videomaker gevestig het.

Die video kos R150 -- wat volgens hom maar 'n klein uitgawe is vergeleke met die duisende rande se veeverliese wat sommige boere weens ongediertes ly. Mnr. Peter Schneekluth tel 023 5411360 / 023 5411411.


Hulpmiddels