Gesinsafdeling: Kooigoed (Hotnotskooigoed)

Elmarie de Bruyn

Kooigoed

In die volksmond word verskeie

spesies van die genus

Helichrysum kooigoed of

hotnotskooigoed genoem.

Kooigoed kom meestal in en

naby die kusgebiede voor,

maar kan met welslae in ander

dele van die land gekweek

word, sê ELMARIE DE BRUYN

van Bien Donné-werf.

KOOIGOED se blare is grys en effens wollerig. Dit het sagte stammetjies en 'n los groeiwyse wat dit ideaal maak om as grondbedekker of tussen rotse te plant. Die blomme is geel of roomkleurig en word in klosse aan die groeipunte van die takkies gedra.

Grond wat goed dreineer, asook regstreekse son, is die enigste vereistes wat hierdie plante stel, wat uitstekend in tuine aard.

Die bekendste spesies is die Helichrysum auriculatum, Helichrysum crispum, Helichrysum foetidum, Helichrysum peteolatum en Helichrysum angustifolia.

Die swerwers-Koikoi het die plante vir beddegoed gebruik: dit is heerlik sag, het 'n natuurlike veerkragtigheid, gee 'n aangename reuk af wat slaap bevorder, verdryf insekte en is boonop volop . . . wat meer kon hulle vra.

Daar is verskeie medisinale gebruike vir die Helichrysum-spesies. Dit word gebruik as 'n kuur vir niersiektes, rugpyn, hartprobleme, stres en bloeddrukprobleme. Ander medisinale gebruike is vir hoes, hoofpyn, koors en verkoue.

Die aromatiese blare en blomme van kooigoed word vir potpourri gebruik, asook vir slaapkussinkies. Die gedroogte takke en blomme is geskik vir rangskikkings.

Terwyl die inheemse kruie nou aan die blom is, kan 'n mens gerus 'n inheemse potpourri maak met kapokbossie, boegoe, kooigoed, pelargonium en agapante of probeer 'n eie kombinasie.

* Onthou om altyd eers 'n kundige te raadpleeg voor jy jou met kruie dokter.


Huis/Vrou/Gesin