Sasol se aasvoël- en boerereeks (7): Gifplanters saai ellende onder aasvreters

Gerhard Verdoorn

Gif het byna die aasvoël se einde op aarde beteken. Gelukkig is Suid-Afrika se amptelike beleid om aasvoëls te vergiftig, al verander. Boere is deesdae baie versigtig met gif, maar sommige mense gee steeds niks om vir die omgewing en dié arme aasvreters wat bloot hul werk doen nie. Aasvoëls het op sommige plekke in die wêreld al hul stryd om voortbestaan verloor.

In Amerika het die Kaliforniese kondor sy plek in die natuur ingeboet bloot omdat hy nie met die mens se loodkoeëls, vergiftigde karkasse, kragleidings en die organochloorproduk DDT kon saamleef nie. Eers in die laat negentigerjare is enkeles vrygelaat om weer hul plek in die klowe van die Grand Canyon in te neem.

In Europa is die baardaasvoël en die Europese kransaasvoël deur direkte vervolging en vergiftiging ernstig benadeel. Daar is ook gerugte van 20 000 aasvoëls wat die afgelope 10 jaar in Indië deur regstreekse vervolging en vergiftiging gevrek het.

Die aasvoël se geskiedenis in Suid-Afrika is ook tragies. Skilderye van die pioniers en legendes van die inheemse volke bring duidelik die boodskap na vore dat hier derduisende aasvoëls was. Self rekords van die voëlringers in die laat vyftigerjare dui daarop dat daar duisende kransaasvoëls in die Ma-galiesberg was. Daar is nou skaars 700 oor!

Mnr. Jan Fourie, Sasol se uitvoerende di-rekteur, vertel dat hy naby Suikerbosrand, buite Heidelberg (Gauteng), waar hy grootgeword het, altyd aasvoëls by die karkasse van beeste gesien het. Sketse van Jan van Riebeeck se drie skepe in Tafelbaai toon dui-delik kransaasvoëls wat om Tafelberg vlieg. Zastron se senior inwoners onthou hoe die lug altyd vol swewende kransaasvoëls was. Die Zoeloekonings het hul vyande vir die aasvoëls gegooi. Silkaats (Mzilakazi) het dieselfde in die Magaliesberg gedoen toe hy en sy Matabele-krygers daar gewoon het.

Waar het dinge vir aasvoëls dan verkeerd geloop? Vroeg in die twintigste eeu het by mense 'n neiging ontstaan om alle roofdiere en - voëls in Suid-Afrika te probeer uitroei. Onkunde oor aasvoëls het hulle in dieselfde groep as gewone roofdiere geplaas, en mense het hulle doelbewus saam met ander roofdiere en voëls probeer uitwis.

In die ou Transvaal is strignien aan boere en sogenaamde natuurbewaarders uitgedeel met die opdrag om alles met tande, kloue, naels en krom bekke te vergiftig. Al teen 1913 is dié slagting as amptelike beleid toegepas. Die uitroei van aasvoëls, arende asook valke is aangemoedig. Belonings is selfs betaal aan diegene wat dit kon regkry.

Voordat die groot droogte van 1933 die wêreld in sy wurggreep vasgevat het, het dié gif al sy tol onder die aasvoëls geëis. Toe die droogte met geweld toeslaan, het dit net een ding beteken: Groot troppe wild en vee is van die aardbodem afgevee, en daarmee saam die aasvoëls se kos.

Ná die Tweede Wêreldoorlog het nuwe gifstowwe op die mark gekom en is verder onder roofvoëls gemaai. Die bekende en ge-hate DDT en dieldrin het die mens gehelp om peste en plae uit te wis, maar ook 'n spyker in roofvoëls se doodkis geslaan. Hoewel DDT nie 'n aasvoël sal doodmaak nie, sal dit wel hul eierdoppe laat verdun en hul broeiwelslae ernstig benadeel.

In die vyftigerjare was DDT en dieldrin feit-lik die enigste produkte wat vir plaagbeheer -- insluitende parasiete op mak diere -- gebruik is. Geen mens weet wat die werklike uitwerking daarvan op aasvoëls was nie, maar dit het gewis 'n invloed gehad. Dr. Erika van Wyk se magister- en doktorale stu-dies het duidelik aangedui dat beduidende vlakke DDT en dieldrin tot vandag toe in alle aasvoëls voorkom. Dink net waar dié vlakke 30 jaar gelede was!

Asof die organochloorprodukte soos DDT nie erg genoeg was nie, het die wêreld in die vroeë sestigerjare organofosfate en karbamate begin gebruik. Produkte soos karbofuraan is wyd in karkasse misbruik en dit het letterlik duisende aasvoëls in Suidelike Afrika uitgeroei.

'n Groter, kommerwekkende aanslag het aasvoëls egter getref: Organofosfaatdipstowwe vir beeste en skape. Dr. Rod Davies, 'n bekende voëlkundige wat hom veral op die witkruisarend toespits, het my 'n keer verbaas laat staan toe hy my die statistiek van kransaasvoëls in die Karoo getoon het. Daar was die duidelike afname ná die 1933-droogte, en 'n geringe herstel. Maar teen die einde van die sewentigerjare en die begin van die tagtigerjare het die kransaasvoël skielik uit die dor streke verdwyn.

Volgens handboeke is diasinon en fention daardie tyd op groot skaal gebruik om brom-mers by skape te bestry. Werk nou self uit wat gebeur as 'n diasinon of fention behandelde skaap in die veld vrek en die aasvoëls spoor só 'n karkas op. Daar is geen kans dat die voëls só 'n karkas sal vreet én sal oorleef nie. Ná jare se rehabilitasiewerk weet 'n mens dat dié twee produkte vir aasvoëls uiters giftig is. Selfs al word die aasvoëls nie gedood nie, het dit so 'n ernstige uitwerking op hul senustelsel dat die voëls waarskynlik van verhongering sal vrek.

Organofosfate soos paration, diasinon asook fention word ook jare lank vir roofdiere misbruik, en die gevolge daarvan was vir aasvoëls noodlottig. Ons vind steeds dat chemiese stowwe soos karbofuraan en aldikarb in karkasse geplaas word om jakkalse en rooikatte dood te maak, maar gewoonlik vrek ook 'n aasvoël of twee.

Een van die mees tragiese gevalle vanjaar was die dood van 29 aasvoëls by die Blouberg-kransaasvoëlkolonie wes van Vivo in die Noordelike Provinsie. Iemand het metamidofos in 'n kalfkarkas gesteek en daardeur 2 swart-, 4 witrug- en 23 kransaasvoëls se lewe geëis. Die boere om Blouberg was woedend omdat één onverantwoordelike mens soveel van hul aasvoëls doodgemaak het. Ongelukkig help dit nie om kwaad te word as die voëls reeds dood is nie.

Verlede jaar het ses witrugaasvoëls op 'n boer se plaas naby Potgietersrus gevrek na-dat hulle aan 'n blouwildebeeskarkas vol strignien gevreet het. Dié boer was uiters ontstoke, want dit wou lyk of iemand die wildebees doelbewus onwettig op sy grond geskiet en vol gif gesteek het.

In die middel negentigerjare is baie aasvoëls in twee afsonderlike voorvalle by Tos-ca en Mareetsane in die Kalahari dood -- ook vanweë gif in karkasse.

Dit is verbasend dat mense vandag nog gif in karkasse plaas om roofdiere te dood. Dit is egter skokkend wanneer 'n beampte van die SA Polisiediens 'n mens skakel en vertel hoe hy gif in 'n karkas geplaas het om honde dood te maak!

'n Baie ernstige probleem is myns insiens 'n gifhalsband met karbofuraan waarmee probleemdiere uitgeroei word. Hoewel dié gifhalsband by roofdiere selektief werk, is dit dodelik vir aasvoëls wanneer hulle die karkas van die dooie skaap of bok opspoor. Só (Van bl. 45)

het meer as 25 aasvoëls verlede jaar naby Postmasburg gevrek toe 'n boer op aanbe-veling van 'n bewaringsowerheid só 'n gif-halsband gebruik het.

Die Gifstofwerkgroep wil gifhalsbande met karbofuraan verbied hê juis vanweë die groot bedreiging wat dit vir aasvoëls inhou. Hopelik sal die nuwe gifhalsbande met die aktiewe bestanddeel natriummonofluoorasetaat nog vanjaar beskikbaar raak, en dan is dié bedreiging vir aasvoëls feitlik verby.

Boere wat nog gifhalsbande met karbofuraan het, word ernstig versoek om dit nie te gebruik nie en dit eerder aan die Gifstofwerkgroep te stuur sodat dit vernietig kan word.

Buite Harrismith is aasvoëls twee keer ná mekaar met sulke gifhalsbande doodgemaak. Die eens klein kolonie wat op die pad na Phutaditjaba bestaan het, is heelte-mal uitgewis.

Kransaavoëls is selfs al in die Golden Gate Nasionale Park met vars wol en karbofuraan in die kroppe dood aangetref. Karbofuraan maak 'n aasvoël nie onmiddellik dood nie. Die voëls kan soms heel ver vlieg voordat hulle aangetas word en vrek.

In KwaZulu-Natal is 'n hele kolonie krans-aasvoëls naby Kranskop dood -- vermoedelik weens hierdie gif. Die gevaar met karbofuraan is dat die aasvoëls tot by hul neste kan terugvlieg en die vergiftigde kos vir hul kuikens voer. Natuurlik is die gevolge hiervan uiters drasties en vrek 'n hele kolonie, in-sluitende die kuikens.

As aasvoëls aldikarb inkry, vrek hulle vinnig op die plek. Bitter min voëls oorleef só 'n episode. Dit is hartseer om te dink dat so 'n nuttige voël moet vrek net omdat mense nie omgee nie.

Daagliks, weekliks en maandeliks word mense oor die radio en in die pers vertel van die etiek van gifgebruik vir roofdiere, maar steeds plaas party gif in karkasse.

Die Gifstofwerkgroep gaan sulke mense genadeloos vervolg. Ingevolge Wet 36 van 1947 is die boete R40 000 of 6 jaar gevangenisstraf.

Ons probleem is dat die wetstoepassing swak en die regstelsel erg mank is. Bewysstukke word maklik verloor en dikwels raak dossiere net weg. Kom die saak uiteindelik voor die hof, weet bitter min van die regslui van die bestaan van Wet 36 van 1947, en loop die skuldige party weg met 'n boete van R2 000. Dit is niks as 'n mens dit vergelyk met die intrinsieke waarde van die aasvoëls wat gedood is nie.

Die patenthouer van aldikarb het aangedui dat hy 'n groot kontantbeloning sal toe-ken aan iemand wat inligting oor die misbruik van dié produk sal verskaf. Dit word verwelkom, maar wat help dit as die regstelsel nie daarvoor gerat is en die volle pad kan loop nie?

Organofosfate laat die vlakke van asetiel-cholien-esterase baie skerp daal en dien-ooreenkomstig word die aangetaste dier se senustelsel verhinder om normaal te werk. Lae vlakke van organofosfate of chroniese blootstelling daaraan maak dalk nie die dier dood of tas hom moontlik nie sigbaar aan nie, maar dit kan sy sig en koördinasie be-invloed.

'n Studie van verskeie rehabilitasie-aasvoëls het getoon dat hulle waarskynlik weens sekondêre tot laevlakvergiftiging met organofosfate beserings opdoen. Dit is waarskynlik die gevolg van plaasdiere wat met organofosfate gedip is en wat daarna die aasvoëls se voedselbron word. Sulke aasvoëls word blootgestel aan botsings met kragleidings, uithongering en ontwatering. Voëls wat met organofosfate vergiftig is, kan tot ses maande neem om te herstel.

Organofosfate kan ook 'n beduidende in-vloed op die kalsiumopname in die aasvoël se fisiologiese gestel hê. Dit kan voorkom dat genoeg kalsium uit die rantsoen opgeneem word om die skelet gesond te hou.

Deels kan dit ook tot die kalsiumtekorte bydra wat so prominent by kransaasvoëls voorkom. Ons vind gereeld dat die geraamtes van dooie volwasse voëls op ernstige osteoporose dui. Met hierdie siekte word die kalsium uit die bene geloog, wat tot baie dun en swak beenstrukture lei.

Aasvoëls is ook aan sekondêre vergiftiging onderworpe. Dit gebeur waar 'n roofdier byvoorbeeld gif inkry, vrek en kos vir die aasvoëls word. Strignien, organofosfate en karbamate kan tot sekondêre vergiftiging lei.

Die woord strignien is afgelei van ``strike nine'', wat beteken dat dit 'n kwaai ketting-reaksie tot gevolg kan hê. Dit beteken nie dat strignien 'n slegte produk is nie -- inteendeel, dit is seker nog een van die beste be-skikbare jakkalsgifstowwe. Sy misbruik het egter soveel nadelige gevolge gehad dat geen maatskappy dit meer wil vervaardig of versprei nie. Net 'n paar milligram strignien maak 'n aasvoël dood.

Dit is algemeen bekend dat dié roofvoëls vir alle gifstowwe baie meer gevoelig as roofdiere is. Wanneer iemand dus vir roofdiere strignien of ander gifstowwe in karkasse plaas, is die kans baie goed dat aasvoëls sal vrek.

Gelukkig word aasvoëls feitlik glad nie meer met gifstowwe geteiken nie, veral nie deur boere nie.

Wat tog kommer wek, is dat gifstowwe dikwels misbruik word om aasvoëls vir tradi-sionele medisyne of vir muti-doeleindes te ``oes''. In die Laeveld, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap is baie gevalle aangeteken waar aasvoëls met gif vir muti doodgemaak is. Die Tradisionele Helersvereniging het die Aasvoëlstudiegroep reeds genader om oor sulke probleme te praat. Ons sien daarna uit om dié probleem saam met hulle onder be-heer te bring.

Ter afsluiting: Vergifting is nie meer so 'n groot probleem soos voorheen nie, maar ons moet steeds daarteen waak. Alle Suid- Afrikaners is bewus van die tragedies wat gifmisbruik veroorsaak. Die Gifstofwerkgroep aanvaar nie meer dat mense hiermee net ``foute'' begaan nie.

Misdrywe met gifstowwe word in 'n erns-tige lig beskou en sal net so doelgerig ge-hanteer word. Die boere is die Aasvoëlstudiegroep se bondgenote. As nog mense gif misbruik en aasvoëls daarmee doodmaak, sal die boere self begin om hulle vas te vat.

Navrae oor die verantwoordelike gebruik van landbouchemikalieë of gifstowwe, soos almal dit noem, kan aan die Gifstofwerkgroep gerig word by faks (011) 646-4631, of by sy hulplyn by sel. 082 446 8946.

Dr. Verdoorn is voorsitter van die Aasvoëlstudiegroep. (voels en aasvoels en gif en reekse)


Natuur/Klimaat/Omgewing