Simmentaler-kruisings gee groter melkwins

ILLUSTRASIE:: LINKS: Suiwer Simmentalerkoeie in die veld op die plaas Lawn by Maree-tsane. Altesame 95 koeie word tans van die veld af gemelk. Die hoogste melkproduksie van 'n Simmentalerkoei op dié plaas is 28 per dag. LINKS ONDER: Dié koeie is kruisings tussen Simmentalers en melkrasse soos SA Holsteins en Suiwel-Switsers. Die invloed van die Simmentalers se vleiseienskappe kan by dié koeie waargeneem word. HIERONDER: Mnr. Marius en mev. Tina Grundling by 'n groepie twee weke oue Simmentaler-Holstein-kalwers op hul plaas.

CHRIS JOOSTE

Simmentalers en Simmentalers gekruis met melkrasse wat puik vleis- en melkeienskappe het, laat Suid-Afrikaanse veekundiges wat 'n paar jaar gelede gese het dubbeldoel het geen plek nie, vandag hul woorde sluk. Baie goeie resultate word met Duitse en Oostenrykse Simmentalers behaal en die praktyk wen baie veld in Suid-Afrika.

Meer melk met beter vaste stowwe en 'n kalf om te verkoop. Dít is die rigting waarin mnr. Marius en mev. Tina Grundling van die plaas Lawn, Maree-tsane, werk met hul Simmentalers wat hulle met melkrasse kruis om uiteindelik die bes-te melkbeeste te kry.

Hul praktyk om Simmentalerkoeie van die veld af te melk -- wat al in 1964 begin het -- werp vrugte af. Hulle kry melk van uitstekende gehalte van geharde diere wat goed produseer -- weliswaar minder as suiwer melkrasse, maar genoeg om dit 'n lewensvatbare opsie te maak.

Mev. Tina Grundling, wat die melkery op die plaas bestuur, sê haar pa en oom, mnre. Bart en Thomas Fleetwood, het in 1964 begin om Simmentalers gereeld te melk. Hulle het ook Simmentalerbulle op Afrikanerkoeie gebruik en só bont koeie begin teel waaruit die huidige melkkudde bestaan.

In 1970 het mnr. Bart Fleetwood 'n aantal Ayrshireverse met goeie melkeienskappe gekoop wat deur Simmertalerbulle gedek is om die kudde se melkproduksie te verhoog. Daarom is baie van die Simmentalers nog donkerrooibont omdat daar nie voorheen donkerrooi Simmentalers in die kudde gebruik is nie.

In 1975 is 'n aantal Holsteinverse (destyds Friese genoem) gekoop. Die Simmentalerbulle is op hulle gebruik en die resultaat was geharde diere wat goeie melk en swaar kalwers gee wat goed kan loop. Dit is veral belangrik dat die diere sterk bene het, want op Lawn loop hulle elke dag minstens 8 km veld toe en terug. Hulle word twee maal per dag gemelk -- van die veld af sonder byvoeding. Hulle kry net beenmeel en sout in gelyke hoeveelhede op die veld.

Een van die groot pluspunte van Simmentalers is hul wonderlike temperament wanneer hulle gereeld gehanteer word.

Suiwel-Switserbulle en -koeie word ook in die kudde gebruik om die kapakasiën-inhoud van melk (wat dit meer geskik maak vir kaasmaak) te verhoog. Hulle word saam met Holsteins gebruik om die kommersiële melkkudde te vergroot. 'n Suiwer Simmentalerstoetery, die Dantius- Lawn Suiwel-Sim-mentalerstoetery, word van Februarie vanjaar bedryf.

Die Grundlings glo 'n dier moet vir homself kan betaal. Die Simmentalerkruisings bereik dié doelwit met hul melkproduksie en lewer daarby kalwers wat teen 'n goeie prys bemark kan word.

Hulle melk tans 95 Simmentalerkoeie. Daar is ook nog 90 droë Simmentalerkoeie in die kudde wat op die buurplaas Rebliek gehou word tot hulle kalf. Nog SA Holsteinverse wat op die punt is om te kalf, word gekoop sodat die kudde opgebou kan word om teen die einde van die jaar 300 koeie in produksie te hê. Die beplanning is om binne 5 jaar geen suiwer SA Holsteinkoeie meer te melk nie, net 350 Simmentaler-Holstein-koeie.

In die kudde word net diere wat 15 en meer per dag lewer, gekeur vir die telersgenootskap se kuddeboek. Die melk wat elke koei lewer en die hoeveelheid voer wat sy vreet, word daagliks aangeteken. Die plan is om by die Melkaantekeningskema aan te sluit. Die Grundlings is lid van die Melkbelangegroep wat deur mnr. Thys Swart van die Kyknou-stoetery, Swellendam, gestig is.

Op Lawn word alle verse op 14 maande gedek. Die diere word so jonk by die bulle geplaas sodat die aanteel mediumraamdiere is wat ligter op die veld is, makliker teel en makliker in die sand van die Kalahari kan loop. Die kalwers wat verkoop word, is egter nie kleiner nie, want die Simmentalerbulle sorg dat die grootte en bespiering behou word.

'n Bykomende voordeel van die Simmentaler-Holstein is dat die probleem van diere met pigmentprobleme om die oë byna heeltemal uitgeskakel word. Die Simmentalers verbeter ook die melkkoeie se uieraanhegting. Die uier is beter onder aan die lyf geheg en ``val nie uit nie''. Oormatige groot uiers word uitgeskakel. Dit veroorsaak dat diere maklik en ver kan loop.

Mev. Grundling sê die Simmentalerkoeie is vir hulle beslis die beste melkbeeste. Die diere is gehard en gesond en hulle lewe lank. Simmentalerkalwers behou ook hul kondisie in die winter beter as selfs die kruising. Die koeie is nie so gevoelig vir koue nie sodat hul melkproduksie nie weens koue soveel wissel soos dié van suiwer suiwelrasse nie.

Hulle het ondervind dat die Simmentalers binne drie dae herstel en tot volle produksie terugkeer wanneer hulle byvoorbeeld bosluis- galsiekte kry, terwyl die suiwer SA Holsteins tot twee weke neem om weer nor-maal te produseer. Ook die Simmentalerkruisings is gehard en herstel vinniger as die suiwer melkkoeie.

Die gesondheid van 'n melkkudde is baie belangrik; daarom word 'n baie streng spuitprogram gevolg. Sodra koeie opdroog, kry hulle 'n vitamien A- en 'n Escherichia coli- (reg.no. G671 van Wet 36/47) inspuiting. Die diere word ook ontwurm en met Multimin+ SE (reg.no. G1853 van Wet 36/1947) ingespuit. Dit sorg vir 'n hoër besettingsyfer en gesonder kalwers.

Wanneer hulle kalf, word hulle weer Multimin+SE, 20 ml kortwerkende penisillien (Peni 30M, no. 84/00483/07 van Wet 101/1965), 2 ml Dexa 0,2 Phenix (no. 84/00483/07 van Wet 101/1065) en 2 ml Fentocin (no. 84/00483 van Wet 101/1965) of Intertocin-S (no. 83/796 van Wet 101/1965) ingespuit. Dit laat die swelling van die uier sak, voorkom baarmoederontsteking en help dat die nageboorte makliker loskom.

Die diere word ook jaarliks teen spons-, lam-, milt- en knoppiesvelsiekte ingeënt. In die somer word hulle elke twee weke gedip en in die winter wanneer bosluise opgemerk word, meesal twee keer.

Die Simmentalergene is meesal oorheersend wat bou en temperament betref. Die eerste nageslag is almal vaalgrys met die Simmentaler se wit bles en stert.

Mnr. Grundling sê die Simmentalerstoetery se vroulike diere word met saad van twee bulle, Massmann en Madiba, geïnsemineer om die melkeienskappe te verbeter. Hy glo die Franse bloedlyne sal ook verfyning in die kudde bring, wat verder sal help dat die diere ligter op die veld sal wees. Die plan is om van die Montbéliard-saad ('n Franse bloedlyn) te gebruik om mediumraamdiere met baie melk te teel.

Op Lawn moet die melkkoeie op soetveld-grasweiding in die vorm van wilde eragrostis produseer. In die winter kry hulle ook 'n tipe voersorghum (``sugar-graze'') en mieliekuilvoer saans. Omdat Simmentalers nie soos ander melkrasse baie meer melk produseer as hulle meer voer kry nie, word bespaar deur nie meer voer te gee as wat die koei kan benut nie, omdat hulle dit in vet omsit.

Die voermengsel wat gebruik word, bestaan uit 100 kg Molatek- herkouerskonsentraat, 40 kg Molatek Meester 20, 250 kg geel mieliemeel, 350 kg witmielieblaarkoppe en 50 kg voerkalk. Is kameeldoringpeule beskikbaar, word 50 % van die meel deur peule vervang, wat die koste van die meelmengsel verlaag van 36c tot 23c per liter melk gele-wer. Met hierdie mengsel word die bottervet verhoog tot op die huidige vlak van 4,13 %.

Die gemiddelde melkproduksie van die Simmentaler- en kruiskoeie is 12,5 per koei per dag met 4,13 % bottervet en 3,59 % proteïen. Dit word tans teen R1,31/ aan Clover verkoop. Teen dié gemiddelde produksie is die melkinkomste per koei in 'n laktasietydperk van 300 dae R4 900. Kalwers van 3 tot 4 maande word op 107 kg verkoop teen 'n gemiddelde prys van R670. Dit gee 'n inkomste van R5 570 per koei per jaar.

Die Grundlings het gevind hul Simmentalerkoeie se hoogste melkproduksie per dag is 28. Daarteenoor is die Simmentaler-Holstein- koeie se hoogste produksie 35 per dag.

Bulkalwers in die kudde word op 'n ouderdom van 3 tot 5 maande verkoop sodra hulle meer as 100 kg weeg. As die vleisprys nie goed is nie, word die diere langer gehou. In die tyd dat hulle hul op vleisproduksie toegespits het, is kalwers 10 tot 11 maande gehou en op 250 kg tot 260 kg verkoop. Teen R5,80/kg het elke kalf dus R1 450 op-gelewer. Kruiskalwers weeg sowat 30 kg minder as suiwer Simmentalers. Die prys vir so 'n kalf is dus R1 276.

Deur die bulkalwers so gou as moontlik te verkoop, word meer weiding vir die koeie beskikbaar gestel.

Die Grundlings het soveel vertroue in hul diere en hul potensiaal dat hulle hul huidige 6 punt-tandemmelkstelsel met 'n 24 punt- oorloopstelsel op die plaas Rebliek gaan vervang. Hulle glo dat melk ``wit goud'' is wat net behoorlik en so goedkoop moontlik ontgin moet word.

Mnr. Peter Massmann, rasdirekteur van die Simmentalergenootskap, sê die melk van Simmentalers is algemene praktyk in Europa. Die wins uit vleis in die vorm van kalwers en uitskotkoeie bly egter vir dié boere 'n belangrike deel van hul inkomste.

Die inkomste uit 'n kalf is een van die hoofredes waarom Simmentalers se melk- en vleiseienskappe ten volle benut word. Inligting van die departement van landbou van die Duitse staat Beiere (sien die tabel) dien as bewys van die welslae wat met Sim-mentalers behaal word.

Hoewel daar baie min melkgetoetste Simmentalers in Suid-Afrika is, is daar telers wat die melkeienskappe van hul kuddes met die periodieke invoer van semen uit veral Duitsland in stand hou en verbeter. Die belangstelling daarin neem toe.

Die vraag ontstaan waar die boere die regte melkgenetika gaan kry, want in teling, wat hoofsaaklik om seleksie draai, is 'n groot genetiese poel nodig. Daar is sowat 30m. Simmentlers in 30 lande. Waar dié ras buite Europa hoofsaaklik vir vleisproduksie gebruik word, word alle Simmentalerkoeie in Sentraal- en Oos-Europa gemelk en word 'n groot persentasie vir melk getoets. Dié diere is 'n uitstekende bron vir boere wat op melk en vaste stowwe wil konsentreer.

So is die gemiddelde melkproduksie van byna 900 000 Duitse en Oostenrykse Simmentalerkoeie 5 900 met 4,2 % bottervet en 3,5 % proteïen.

Die Simmentalergenootskap het 'n ooreenkoms met 'n groot Duitse KI- stasie aangegaan waarvolgens semen van goeie melkbulle aan Suid- Afrikaanse boere beskikbaar gestel sal word. Een daarvan is die bul Massmann. Die moeder van dié bul se gemiddelde produksie vir 4 laktasies is 9 450 met 4,1 % bottervet en 3,6 % pro-teïen. Die bul het op 15 maande 708 kg geweeg, wat 'n GDT van 1,408 kg per dag gee. Napoleon, 'n seun van Reni (foto hierbo), gaan ook deur plaaslike melkkuddes gebruik word.

Mnr. Massmann sê dié resultate van die Duitse en Oostenrykse Simmentalers laat Suid-Afrikaanse veekundiges wat 'n paar jaar gelede gesê het dubbeldoel het geen plek nie, vandag hul woorde sluk. (Beeste en Simmentalers en kruisings en melk en suiwel)


Bestuur/Ekonomie/Finansies