Nuwe windpompbriek spaar water en tyd

Hugo Lochner

'n Remstelsel vir windpompe wat die pomp outomaties vasmaak sodra die dam vol is en weer losmaak as die watervlak sak, kan groot besparings aan water en tyd meebring. Die remstelsel is plaaslik ontwerp en nou beskikbaar. Die vermorsing van skaars water en 'n onnodige ryery na windpompe kan nou uitgeskakel word met 'n outomatiese remstelsel vir windpompe.

Die remstelsel, die Windpomp Selfbriek, sal veral van groot waarde wees op groot plase, vir boere wat meer as een plaas het en wildplase, sê mnr. Jan Wiid van Wiid Ingenieurswerke op Vredendal, die ontwerper en bemarker van die stelsel.

Die remstelsel gebruik die windpomp se krag om die pomp vas te maak. As dit reg geïnstalleer is, sal die pomp glad nie loop as die dam vol water is nie. Die dam sal dus nooit oorloop en ook nie heeltemal leeg raak nie omdat die remstelsel die pomp losmaak sodra die watervlak sowat 250 mm gesak het.

Die vernaamste voordele van die stelsel is:

Damme loop nie oor nie. Skaars water word dus nie gemors nie.

Die algemene onderhoud aan die windpomp word tot die minimum beperk, omdat die windpomp se kop, pype, stange en silinder minder werk.

Besparing aan arbeid, tyd, brandstof en voertuie omdat daar nie gereeld na windpompe gery hoef te word om dit los of vas te maak nie.

Grond om damme sal nie verbrak nie omdat die damme nie oorloop nie.

Op plase waar water van een dam na 'n ander gepomp word, kan dit skade keer aan die forskop wat plaasvind wanneer die dam leeg raak.

Diere sal nooit sonder water wees nie en skade weens leë damme wat bars, sal nie meer voorkom nie.

Mnr. Wiid sê die remstelsel is basies dieselfde vir windpompe wat naby die dam staan en vir dié wat water ver moet pomp. Al verskil is dat 'n gewig, soos 'n houtblok wat op die water in die dam dryf, gebruik word om die stelsel in werking te stel as die pomp naby die dam is. 'n Druksilinder aktiveer die stelsel by windpompe wat die water ver moet pomp.

Die houtblok wat op die water dryf se gewig sal van pomp tot pomp verskil omdat pompe nie ewe maklik vasmaak nie. Die regte gewig kan met 'n skaal bepaal word.

Hy het gevind dat 'n gewig van sowat 8 kg meestal genoeg is om die stelsel te aktiveer en hoewel hy aanbeveel dat boere 'n houtblok gebruik, het hy ook al 'n plastiekkan drie kwart vol water gemaak om as gewig te dien (sien foto regs).

By windpompe wat die water ver na 'n dam stoot, moet 'n gewone bolkop (bolkraan) soos by drinkbakke en -krippe, voor aan die pyp gekoppel word (sien figuur). Sodra die dam vol raak en die bolkraan sluit, begin druk in die pyp opbou, wat die silinder se suier laat uitdruk en die remstelsel aktiveer.

As die watervlak in die dam sak en die bolkraan maak weer oop, verminder die druk in die pyp, wat meebring dat 'n krulveer die suier terugtrek en die remstelsel los raak. Die krulveer se spanning is só gestel dat die normale druk in die pyp die remstelsel los hou.

Mnr. Wiid sê boere hoef nie bekommerd te wees dat pype by die laste sal uitspring of sal bars nie, omdat die druk geleidelik in die pyp opbou en die suier 'n lae druk benodig om die remstelsel te aktiveer.

Die stelsel sal in die winter of koue toestande -- wanneer water in pype vries, keer dat die windpomp die pype laat bars omdat die stelsel geaktiveer sal word as die pype begin toe raak. Die pomp sal outomaties vasmaak totdat die water weer ontvries het.

'n Volledige inligtingstuk word saam met die remstelsel verskaf. Boere kan dit self maklik installeer. Volgens mnr. Wiid is die installering baie maklik. Die toestel word vooraf op 'n houtbalk van ongeveer 300 mm breed en 30 mm dik gemonteer. Die balk moet lank genoeg wees om aan weers-kante van die windpomp se raamwerk vasgemaak te word.

By windpompe wat naby 'n dam staan, moet die balk ongeveer damhoogte in die middel langs die pyp aan die dwarslatte van die raam gemonteer word. Dit kan ook aan die staalpyp in die middel vasgemaak word. By pompe wat stoot, maak dit nie saak hoe hoog die balk vasgemaak word nie.

Nadat die balk aan die raamwerk gemonteer is, word 'n kabel wat bokant die remstelsel aan die houtstang vasgemaak word, aan die hefboom gekoppel wat die pomp vasmaak. Die hefboom moet in lyn met die pyp, en die stange in die onderste posisie wees, as die kabel gekoppel word.

Met elke slag van die windpomp sal die remkabel stywer trek totdat die pomp heeltemal vasgemaak is. Die windpomp se remkabel word aan die kabel van die remstelsel gekoppel as die rem in die los posisie is.

By pompe naby 'n dam word die kabel wat aan die gewig vas is, aan die hefboom gekoppel wat die remstelsel aktiveer. Die kabel moet so lank wees dat die hefboom in die remposisie is as die dam vol is. As die kabel te lank is, sal die remstelsel nie werk nie.

By pompe wat water stoot, word die silinder wat die remstelsel aktiveer, met 'n T-stuk aan die bestaande pyplyn gekonnekteer. 'n Eenrigtingklep moet tussen die windpomp en die T-stuk ingesit word. Die silinder vorm deel van die remstelsel en hoef dus nie apart gemonteer te word nie.

Die stelsel het 'n onbeperkte lewensduur omdat die hele remstelsel geëlektroplateer en die druksilinder en suier van vlekvrye staal is om dit teen roes te beskerm. Die hele stelsel het 'n waarborg van een jaar.

Die remstelsel met die druksilinder kos R870 en dié sonder die druksilinder R680. Die pryse sluit nie BTW in nie. Mnr. Wiid sal voorlopig self die stelsels bemark, maar dit sal later by koöperasies beskikbaar wees.

Met 'n klein verandering aan die stelsel kan dit ook gebruik word om dieselenjins af te skakel en elektriese motors aan en af te skakel. By dieselenjins sal die boer steeds die enjin moet aanskakel.


Meganiesewese/Ingenieureswese