Veilings: Rekordpryse vir wild betaal by Vaalwater

Wild wat op die plaas Bergtop in die Soutpansberge geloop het, is by die Jobedi veilingskrale naby Vaalwater in die likwidasieveiling van Winfair Africa Safaris (Edms.) Bpk. verkoop.

Wye belangstelling het vir dié veiling geheers, waar 'n groot getal swartwitpense, renosters, buffels asook ander wildsoorte aangebied is.

Al die wild is teen uitstekende pryse verkoop.

Drie nuwe SA rekordpryse is behaal, naamlik vir swartwitpense (R106 000), vir koedoes (R10 100) en vir kameelperde (R19 000).

Renosters het ook baie goed gevaar met R255 000 as die hoogste prys. Die gemiddelde prys vir 12 diere was R203 333 stuk.

Die hoogste prys vir 'n buffel was R115 000 en die gemiddelde prys R83 519, wat baie hoog was as in aanmerking geneem word dat daar 'n groot getal suipkalwers in die groep was.

Njalabulle het tot R12 000 stuk behaal en klipspringers R6 000 stuk.

Die gemiddelde en hoogste pryse word in die tabel hiernaas aangetoon.

Die veiling is aangebied deur Vleissentraal Bosveld, Potgietersrus, en die afslaer was mnr. Willie Roux.


Wild Veilings Pryse