Gesinsafdeling: Hiert, jou lekker ding!

Anita Chittenden

Bedags is dit Brian Nieuwoudt se passie om op 'n wingerd-landgoed by Durbanville te boer, saans en naweke maak hy jeukvoet- en hart-kielie-lekker-musiek op sy konsertina en tussen-in wen hy boonop 'n prys vir die beste boeremusiek-CD vir 2001! Dit nou alles van 'n man wat amper 'n predikant was!

Bo-op 'n laaigraaf met 'n wind wat só sterk waai dat hy moet afklim sodat ons hoorbaar oor sy selfoon kan gesels, spoor ek hom op. Brian is besig om gate te grawe vir wingerdpale. 'n Lewendige jong man (32), wat onlangs met 'n Geraas-musiektoekenning vir die beste boeremusiek- album (Hiert, jou lekker ding!) bekroon is. Ook 'n man wat hou van visvang, jag, gholf en kampeer.

Natuurlik is musiek belangrik in sy lewe, maar dit kom eers ná sy Christenskap, die boerdery en sy vrou, gesels die amper-pa. (Die verwagte aankoms van die kleinding is oor 'n week of wat.)

Nie dat hy uit 'n vreeslike musikale familie kom nie. Sy ouma het so 'n bietjie musiek gemaak, maar hy is die eerste een in die familie wat erns daarmee maak. Dit het alles begin by die konsertina wat sy pa vir sy ma gekoop het en wat sy so toe op 'n rak uitgestal het. Elke kans wat hy kon kry, is die konsertina van die rak gehaal, en toe hy hom weer kon kry, het hy begin speel. En tot op hede kon hy nie ophou nie!

Brian speel die konsertina en baskitaar. Hy speel ook kitaar, mondfluitjie, traporrel en klawerbord -- alles instrumente wat hy sonder hulp bemeester het. Sedert hy 13 jaar oud is, is hy al besig om in boere-orkeste die konsertina te kielie. Hy het ook in die Stellenbosch-boereorkes saam met wyle prof. Charles Fencham gespeel.

Eers in 1995 het hy ernstiger begin musiekmaak en aan 'n tradisionele boere-or-keskompetisie op die radio deelgeneem. Hier het hy onder die eerste agt orkeste geëindig. In 1997 wen hy die tradisionele afdeling van 'n kompetisie op Rooihuiskraal. In 1999 het hy die Boeremusiekgilde se tradisionele afdeling gewen.

Sy kinderdae het hy in verál Namakwaland deurgebring. Plekke soos Garies en Port Nolloth en die hoërskool op Springbok. Nadat hy matriek in Wellington geslaag het, is hy Stellenbosch toe om vir predikant te leer. Met die eerste teologiese graad voltooi, pak hy sy tasse en gaan oorsee. Daar gaan boer hy toe in plekke soos Israel, Griekeland, Switserland en Frankryk.

Terug in Suid-Afrika begin hy in 1993 in die Paarl boer. Tans is hy plaasbestuurder op die Loch Lynne-landgoed, buite Durbanville, en gemoeid met en verantwoordelik vir die volledige ontwikkeling van 90 hektaar wingerd en die lewering van druiwe aan Distell.

Musiekmaak moet dus bly vir saans en naweke, omdat die boerdery hom maar bind. Boonop is hy verslaaf aan visvang en onderneem hy jaarliks 'n tog na Hentiesbaai, aan die kus van Namibië, om te gaan lyn natmaak.

Tyd vir oefen saam met sy orkesmaats is daar nie juis nie. Nie dat hulle oefen vreeslik nodig het nie. Hulle speel sommer net lekker saam vir die vermaak daarvan. Dis nou hy en Hugo Rother (banjo), Albertus Kruger (baskitaar en kitaar), Richardt Ruster (kitaar), Nico Laubscher (kitaar en trekklavier) en Dicky Smuts (tromme). Hulle speel verál by danse, troues, boeredae en basaars -- sommer so 'n ietsie van alles.

Omdat hulle nie té ver van mekaar af woon nie, kan hulle 'n oefening of wat inkry as daar 'n kompetisie oor hul pad kom. Vir die Geraas-kompetisie het hulle onder meer teen ervare orkeste soos die Klipwerf Boere-orkes, Zak van Niekerk en Die Eggo's gespeel.

Intussen staan hy al vir amper twee jaar lank ook die rol van eggenoot vir Annelie vol. Vir hul wittebrood is hulle Australië toe waar hy die verskillende wynstreke gaan bekyk (en seker beproef?) het. Een van sy doelwitte is om arbeid op die landgoed vorentoe nog verder te meganiseer, vertel dié geesdriftige boer.

Hiert jou lekker ding! is Brian Nieuwoudt se debuut-CD. Dit bestaan uit 17 vuurwarm boeremusieknommers. Ander treffers is die Wingerdblaarsettees, Briesie in die skemer, Wynvatsettees, Wals vir Annelie en Parstyd -- almal Brian se eie komposisies. Bekende ander nommers wat jou voete sal laat jeuk, is Vaalhoed se baas, Karringmelkwals en die Dik Anna Polka.

Navrae: Hoezit Musiek, tel. 021 852 3969.


Huis/Vrou/Gesin Huis/Vrou/Gesin