Gesinsafdeling: Vir die gesin - Veilingskaters!

Carien Potgieter

Nou die dag woon ek weer ’n algehele uitverkoping by. Jare gelede is dié soort veilings gehou en almal wat dit geadverteer gesien het, het natuurlik gedink: O...bankrotskap! Maar deesdae tel boere ewe fluks onder die emigrante-uittog – dié verskynsel is nie meer snaaks nie. Gerrie Greyling is ’n skreeusnaakse, skatryk kaalvoetboer uit die hart van Zoeloeland en ’n groot gees op dié einste uitverkoping-veilings. Inteendeel, op énige veiling sorg hy vir groot vermaak, selfs al is hy die dag skuins beneuk. Sy gesig is al meer as vyftig plooijare oud, maar sy hare is nog nét so blond as toe hy ’n knaap in Tweespruit se Landbouskool was. Dit staan nog nét so windverwaaid en penregop. Sy gesig is steeds skoolseunonskuldig as hy so oopbek glimlag onder daai helderblou oë. Sy tande is seker nog wit onder al die biervlekke, maar verbasend heel vir alles wat hy al kwytgeraak het. Gerrie het ’n grappie gemaak met ’n stokou, maar kiertsregop, weduvrou in Zoeloeland waar daar elke nou en dan ’n groot beesveiling gehou word. Maar toe dié geflikflooi en tergery dividende begin oplewer en die weduwee hom fluisterend vir ete nooi oor die naweek, begin Gerrie lelik watertrap en hakkel. Dan moet in gedagte gehou word dat daardie adonis van ’n Antoon, dis nou sy seun, die saak langs sy pa staan en bekyk. Sedert dié gebeurtenis hou oom Gerrie sy waterpaslyfie maar skaars by die veilings en stuur vir Antoon om tee en toebroodjies by die tannies te gaan haal. Op die jongste veiling koop hy toe ’n stukkende ou katel, ’n stokou staanlamp en ’n bababed. Onder die res van die altesaam 445 lotte gemors wat hy aanskaf, is handimplemente, soos osploegies, ’n klomp plastiekkanne en ander rommel. Almal is natuurlik nuuskierig oor wat hy met ál dié gemors gaan aanvang. In sy ellelange verduideliking visgraat ’n mens tóg die storie uit. Die osploegies is vir sy tuin. En as hy tuiskom, moet hy sorg dat ou Hanna dit nie sien nie, anders skei sy hom terstond! Maar dít is nie ’n probleem nie, meen hy. Hy beduie stoutbek na die staanlamp en die stukkende katel en sê: ‘‘Ek gaan eers gou by die weduvrou aanry!’’ Daar is natuurlik nóg ’n karakter wat, sáám met Gerrie, ’n onheilige paar uitmaak. Rooi Daan is ook ’n groot gees in Zoeloeland. Dié twee herinner sterk aan die kleikarakters op televisie, Rooi en Blou, wat mekaar destyds so in brabbeltaal kon aanvat. As dié twee die dag saam op ’n veiling is, kan jy jou maar regmaak om die sonsondergang stresloos tegemoet te gaan. Dié twee gee jou lagspiere eindelose oefening. Só gebeur dit dat dié twee op dieselfde antieke artikel bie – ’n stokou kombuisskaal met ’n baie diep maatbak, groot genoeg om ’n baba in te weeg. Maar die afslaers het óók ’n gawe sin vir humor. Hulle gee hul skeppingsdrang dié dag vrye teuels en sit vir dié lot toe ’n stukkende stofsuier by vir die opveilslag! Heen en weer bie die twee. Met dié val van die hamer, sê Rooi Daan vir Gerrie: “Ek het die skaal gekoop, jy kan maar die stofsuier kry.” Dié veilings is heerlike geleenthede om aan die lewe se fyner nuanses, wat só maklik verlore gaan, aandag te gee. Die mense se gesigte, hul klere, die plaasgeluide en die afslaer se gebrabbel terwyl die sonbesies onophoudelik in die golwende hitte skree. Die Zoeloelandmanne het ook ’n besonderse kultuur. ’n Rugbykouskultuur. Tradisionele kakieklere en Natal-Agri se velskoene met rugbykouse. Helderbloues, grasgroenes en rooies met kanariegeel strepe! Ek onthou nog die skel paar wat ekself op skool gehad het – ’n paar skokpienkes met flikkergeel strepe. Die veilingstuitighede is eindeloos: Soos die keer toe Billy-hulle visstokke, ’n tent, ’n kampeersleepwa en ’n mobiele kleinhuisie gekoop het. Dit is alles op die bakkie gelaai en van die veilingsterrein af regstreeks kampeerterrein toe gery om te gaan kamp – kleinhuisie en ál! Zoeloeland het beslis geen gebrek aan kleurryke karakters nie. Die krieke kondig skemeraand aan en die sonbesies het gaan slaap. In die bome langs die vuur praat die manne jagstories onder die sproetgesig van die naghemel wyl dowwe tromslae oor die aalwynrante aankom. Zoeloeland, net soos die Boland of Boesmanland of die Karooland, is my hartland en enig in sy soort! Carien Potgieter is ’n vryskutskrywer.


Gesels/Rubriek/Gesin