Nuus: Fosfaatrots se prys verander dalk

SUSAN BOTES
Slegs ’n paar maande voor Foskor se notering op die JSE het sy direksie besluit dat die internasionale fosfaatrotsprys nie langer as maatstaf vir Foskor se rotsprys sal dien nie. Volgens mnr. Alfred Pitse, Foskor se uitvoerende hoof, sal dié besluit vanaf Augustus in werking tree.
Fosfaatrots word in ’n chemiese proses omgeskakel in fosforsuur, ’n bestanddeel van kunsmis. Foskor, Sasol Nitro en Omnia doen dié omskakeling kommersieel.
Gerugte het die ronde gedoen dat dié semi-staatsinstelling sy rots aan die plaas­like mark teen invoerpariteit verkoop. Foskor het dit egter ontken (LBW, 13 Junie 2008).
Ander gerugte, soos dat rots eers aan buitelandse kliënte gelewer word, terwyl plaaslike kontrakte nie eerbiedig word nie, is ook deur Pitse ontken.
“Ons het geen kontrakte in die buiteland vir rots nie.”
Foskor se mynbedrywighede het wel agter geraak as gevolg van kragonderbrekings. Die maatskappy probeer daarvoor vergoed deur fosfaatrots in te voer – juis om plaaslike kontrakte te eerbiedig.
Die hemelhoë kunsmispryse, wat fosfaat aanbetref, behoort nie veel later as 2012 te duur nie, sê Pitse. Die rede daarvoor is nuwe fosfaatmyne wat in die Midde-Ooste in werking sal tree.
Nie dat dit potensiële beleggers moet afskrik nie. Foskor het reeds planne om sy bedrywighede te diversifiseer deur nuttige gebruike vir neweprodukte, wat nou onbenut word, te vind.
Die IDC, voorheen bekend as die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, besit 97,5 % van Foskor. Hy het besluit die tyd is ryp om die onderneming volgende jaar te noteer.
Foskor het verlede jaar ’n markwaarde van R1,5 miljard gehad en dit het vanjaar tot R9,5 miljard gegroei.
Me. Kesebone Maema, die IDC se hoof van kommunikasie, sê die onderneming se sakemodel is só gestruktureer dat dit af en toe beleggings aan die openbare sektor blootstel, wat dan lei tot nuwe geld vir die korporasie wat weer herbelê kan word, sê. “Daar word reeds beoog om SEB-vennote aan Foskor voor te stel.”
Foskor is in 1951 deur die IDC begin – net soos Sasol en Yskor wat ook deur hierdie korporasie op die been gebring is, sê Pitse. Foskor bly egter steeds ’n strategiese bate vir die land en dus onttrek die IDC hom nie in geheel van die instansie nie. “Die IDC sal sorg dat daar na die Suid-Afrikaanse boer gekyk word.”

Kategorie: Fosfaat