Insekte net soms die vyand

NICO VAN BURICK

Vir elke skadelike insek is daar duisend ander wat onontbeerlik is om die omgewing gesond te hou. Daarom is dit belangrik dat boere bewus moet wees van hul rol in die natuur.

Sowat 80 % van alle spesies in die diereryk is insekte en daarom is hulle van die belangrikste elemente wat ekosisteme in balans hou, sê dr. Gerhard Prinsloo van die Landbounavorsingsraad (LNR) se Instituut vir Plantbeskerming. Hy was voorsitter van die onlangse internasionale kongres vir insektekundiges in Durban.
Sowat 2 000 insektekundiges vanoor die hele wêreld het meer as 2 500 aanbiedinge gelewer oor die nuutste navorsing oor insekte se gedrag en hoe dit vir die mense voordelig aangewend kan word.
Prinsloo sê dit is te verstane dat dit ’n boer se eerste plig is om sy oes te beskerm en daarom moet hy klem lê op plaagbestryding. ‘‘Dit is egter ook belangrik dat hy kennis moet dra van insekte wat die natuurlike vyande van die plae is. Enige manier om op ’n omgewingsvriendelike manier plae te bestry, moet aangegryp word.
‘‘Die dae is verby dat ’n mens bloot net kan spuit om ’n mooi vrug te kry. Die vereistes vir uitvoerprodukte – veral na die Europese Unie – raak ongelooflik streng en die beperkinge op plaagdoders al hoe meer. Dit raak al hoe belangriker om omgewingsvriendelike alternatiewe metodes vir plaagbestryding te ontwikkel. Die druk is groot om beter plantbeskermings­metodes uit te vind.’’
Prinsloo sê dit is sy ervaring dat die moderne boer in elk geval op bewaring ingestel is. Insekte is van die belangrikste komponente vir ’n gesonde omgewing omdat hulle onder meer die bestuiwers is en organiese materiaal afbreek om die grond te verryk. Talle boere se kennis van insekte verstom hom, maar dit is ’n groot knelpunt dat daar dikwels nie regstreekse kontak tussen die boer en insektekundiges is nie.
‘‘Groot landgoedere het gewoonlik hul eie kundiges. Dit is die man wat op sy eie boer wat nie noodwendig die regte inligting kry nie. In
teorie behoort voorligters die skakel tussen die boer en die wetenskaplike te wees, maar dit gebeur nie eintlik in die praktyk nie.’’
Mnr. Duncan McFadyen, bestuurder van navorsing en bewaring van die Oppenheimer-familie se familiebesigheid, E. Oppenheimer & Seun, sê die kongres het getoon hoeveel meer insektekundiges van insekgedrag geleer het en hoe dit tot voordeel van onder meer die landbou toegepas kan word. Die bestuiwingsgedrag van bye kan byvoorbeeld gebruik word om middels teen swamme te versprei en plante se ‘‘kommunikasie’’ met insekte kan benut word om die regte insekte te lok om plae biologies te bestry.
’n Voorbeeld hiervan is die benutting van bana-gras (Napiergras) naby mielielande as ’n vanggewas om stamruspers van die mielieplante weg te lok.
Prof. Johnnie van den Berg van die Skool vir Omgewingswetenskappe en Ontwikkeling aan die Noordwes-Universiteit, wat jare lank hieroor navorsing gedoen het, sê veral by kleinboere is betekenisvolle aanvaarding van die tegnologie. ‘‘In Venda het dit tot ’n baie beduidende afname in stamrusperbesmetting gelei.’’
Dié tegnologie word ook met groot sukses deur bykans 15 000 kleinboere in Kenia toegepas. Benewens bana as die vanggewas, word desmodium ook in die mielielande geplant om skadelike insekte weg te dryf en onkruid te bestry. Die gras word as voer vir beeste benut.
Nogtans is daar só baie insekte dat selfs insektekundiges min van hulle weet. ‘‘In 80 % tot 90 % van gevalle weet ons nie wat die onderskeie soorte se rol is nie. Ons weet wat ’n groep, soos miskruiers, in sy geheel doen, maar van die individuele soorte is by die meeste insekgroepe maar sowat
10 % tot 20 % bekend. Ons het miskien ’n beskrywing en ’n naam, maar weet nie veel meer nie. Ons sal nie in ons leeftyf die kennis opbou om almal se rol te verstaan nie,’’ sê Prinsloo.
Hy sê almal moet egter besef dat elkeen ’n rol het en daarom is dit belangrik om insekte se habitat te beskerm. Oorbeweiding in die Karoo vernietig byvoorbeeld die neste van sekere wespe. Dié wespe is belangrik vir bestuiwing en hou ander insekbevolkings in bedwang. Daarom benadeel hul afwesigheid die omgewing.
Volgens Prinsloo is die ontdekking van ’n hele nuwe insekgroep in Suid-Afrika en Namibië ’n bewys van hoe min oor insekte bekend is. Die nuwe groep, bekend as Mantophasmides, is die eerste insektegroep wat sedert 1914 ontdek is. Aanvanklik is dit as ’n spesie van die bekende bidsprinkaan beskou. Hulle kom in die Noord- en Wes-Kaap sowel as Namibië voor.
‘‘Die ontdekking het die entomologiese wêreld geskud, want daar is algemeen aanvaar dat minstens alle groepe insekte op ons planeet reeds bekend is,’’ het dr. Mike Picker, senior lektor in dierkunde aan die Universiteit van Kaapstad, gesê. Daar is sowat 30 verskillende groepe, wat onder meer vlieë, skoenlappers, besies en kokkerotte insluit.
Hy sê een van die redes hoekom dié insekte eers onlangs ontdek is, is dat hulle bedags in bossies of gras wegkruip en snags uitkom om spinnekoppe en ander kleiner insekte te jag. Hulle hou geen bedreiging vir die landbou of die mens in nie.

Stryd teen sprinkane 'n 'grap' in SA
Sprinkaanplae in Suid-Afrika word die afgelope 100 jaar al op presies dieselfde manier bestry en dit is ’n grap in die res van die wêreld se oë. Dringende aanpassings is nodig, sê ’n kenner.
Die kommando-stelsel wat sedert 1905 gebruik word om sprinkaanplae in die Noord-Kaap bestry, is ’n uitgediende stelsel wat eerder die probleem vererger, die omgewing beskadig en biodiversiteit benadeel as wat dit oplossings bied, sê dr. Roger Price, ’n entomoloog van die Landbounavorsingsraad (LNR).
Price, bestuurder van die insek-ekologie-afdeling van die LNR se Navorsingsinstituut vir Plantbeskerming, het by die internasionale entomologie-kongres in Durban skerp te velde getrek teen die wyse waarop sprinkaanplae in die land bestry word. ‘‘Die wêreld lag vir ons. Ons is eerder besig om ’n sprin­kaanbedryf te skep as om die plaag te bestry.’’
Hy sê 40 jaar gelede was daar net een keer in elke 7 tot 11 jaar ’n groot uitbreking van sprinkane. Deesdae gebeur dit elke jaar buiten wanneer daar ’n droogte is. Hy skryf dit onder meer toe aan die uitwissing van die sprinkane se natuurlike vyande. ‘‘Ons het ’n denkskuif oor ons siening van sprinkane nodig. Miskien moet ons ’n bietjie geduldiger wees en hul vyande in die natuur toelaat om die bestryding toe te pas.’’
Price sê jare al gaan dit net daaroor om die sprinkane uit te wis voordat hulle na meer intensiewe landbougebiede kon versprei waar hulle moontlik groter skade kan aanrig. Sodra sprinkane in die voetgangerstadium opgemerk word, word boere, sprinkaanbeamptes en werkerspanne op die grond gemobiliseer om in die veld die sprinkane met chemiese middels te bespuit.
‘‘Dié stelsel stort egter in duie. In groot dele word nege uit tien plase nie meer bewoon nie en die sprinkane word nie betyds waargeneem nie. Daarbenewens wil talle boere met goeie veldbestuur nie meer chemiese middels op hul plase spuit nie. Dit raak in elk geval te duur om dit nog op dié manier te doen.’’
Hy sê hoewel daar, anders as in die dae van organofosfate en arseen, deesdae versigtiger te werk gegaan word met die tipe middels wat toegedien word, was daar nogtans oor die afgelope 100 jaar ’n opbou van ongewenste middels wat die natuur benadeel.
Hy sê om politieke redes is daar egter ook teenkanting teen verandering. Dit skep werk vir sowat 2 000 tot 3 000 mense, bring geld in die afgeleë gebiede in en sommige boere voel hulle wil nog betrokke wees.
‘‘Ek meen ook boere moet betrokke wees, omdat hulle die bewaarders van die grond is. Die oplossing lê egter in moderne tegnologie. Ons beskik oor die nodige vroeë waarskuwingstelsels, die vermoë om te bepaal wanneer ’n gebied werklik kwesbaar is en teen die sprinkane beskerm moet word en doeltreffende maniere om die bestryding te doen. Daarvoor is ’n professionele organisasie bestaande uit wetenskaplikes nodig, soos in ander lande die geval is.’’
Volgens Price moet die koste van bestryding byvoorbeeld opgeweeg word teen die vergoeding aan boere waar wel skade aangerig word. Hy sê as daar nie ’n wesenlike bedreiging vir oeste is nie, kan dit goed wees om die sprinkane te laat migreer na ’n gebied wat nie ’n gunstige habitat vir hulle is nie. Hul natuurlike vyande sal hulle beheer en die abnormale vermeerdering van sprinkane voorkom.

Bye red hulself van uitwissing
Soms is dit die beste om niks te doen nie. Suid-Afrikaanse heuningbye se oorwinning oor ’n dodelike parasitiese myt het dié stelling korrek bewys.
’n Paar jaar gelede is gevrees dat alle Suid-Afrikaanse bye uitgewis sou word deur ’n dodelike parasitiese myt, Varroa destructor, wat vanuit Suidoos-Asië hierheen versprei het.
Die myt het in daardie stadium op ander plekke in die wêreld al reuse-vernietigingswerk verrig en bykans alle Westerse heuningbye in die natuur in Europa en Amerika uitgewis. ‘‘Daar was wêreldwye paniek dat geen bye sou oorbly om hul belangrike werk as bestuiwers van plante te doen nie. Kommersiële byeboere het hul toevlug tot plaagdoders geneem om die myt te bestry,’’ sê mnr. Mike Allsopp, Suid-Afrikaanse byenavorser van die Landbounavorsingsraad (LNR).
Hy sê in Suidoos-Asië, waar heeltemal ’n ander soort by aangetref word, hou Varroa destructor nie lewensgevaar vir die bye in nie.
Die myt lyk soos ’n miniatuurbosluis en teer op sy gasheer se bloed. By Westerse bye lei dit tot ’n tipe ‘‘bye-vigs’’. Dit verswak die hele kolonie en maak dit vatbaar vir verskeie virusse en siektes.
Varroa destructor is vir die eerste keer in 1997 naby Stellenbosch waargeneem. ‘‘In daardie stadium was dit al oor ’n afstand van 50 km versprei en uitwissing van die plaag was nie meer moontlik nie. Daar was geen twyfel dat Varroa destructor deur Afrika sou versprei nie. Daar was wel twyfel oor wat ons moes doen. Die ergste wat ’n mens kan doen, is om chemiese bestryding toe te pas as dit nie nodig is nie. Daar was ook goeie rede om te vermoed dat ons bye self die bedreiging die hoof sou kon bied.’’
Toe die plaag in 1975 in Brasilië toegeslaan het, het niemand dit behandel nie en die bye daar het hul eie weerstand ontwikkel. Allsopp sê Suid-Afrikaanse bye het ’n sterk en wye gene-grondslag en vir kleinskaalse byeboerdery word bye uit die natuur gebruik. Daarom is besluit om bloot die situasie te monitor en kommersiële boere te ontmoedig om enige behandeling toe te pas. Daar is wel twee middels geregistreer vir behandeling.
Natuurlike bevolkings in 21 reservate is dopgehou omdat bye vry van enige stres die beste kans sou hê om natuurlike weerstand op te bou.
Dit was ’n moeilike stryd vir bykans sewe jaar. Tussen 40 % en 50 % van kommersiële boere se bye het gevrek en heuningproduksie het met die helfte verminder.
‘‘Uiteindelik was dit egter die regte besluit om die vatbare bye te laat vrek. Die sterkes het weerstand opgebou en die bevolkings het weer vermeerder. Die afgelope drie jaar was dit nie nodig om enige bye meer te behandel nie.’’
Hy sê in teenstelling hiermee sit lande wat teen die myte behandel het, met hul hande in die hare. Kommersiële bye het geen weerstand teen die parasiet nie, terwyl Varroa destructor vinnig weerstand teen bykans al die chemiese middels opgebou het. ‘‘Dit is ’n stryd om vinnig genoeg nuwe middels te ontwikkel en wetenskaplikes praat van ’n trapmeul van plaagdoders wat nodig is om die myt in bedwang te hou.
‘‘Vandag kan ons sê dit is onwaarskynlik dat Varroa destructor nog ’n beduidende bedreiging vir Suid-Afrikaanse bye inhou. Dieselfde sal waarskynlik in die res van Afrika geld, mits die bye-bevolkings gelos word om hul eie weerstand te ontwikkel. Dit duur tussen drie en ses jaar om die weerstand te ontwikkel.’’
Allsopp sê die sukses met hierdie benadering van niks doen, laat ’n mens wonder met hoeveel ander plae dit nie ook sou werk nie. ‘‘Die klem moet uiteraard wees om te voorkom dat die plaag die land binnekom en op die uitwissing daarvan as dit wel gebeur. Wanneer dit nie voorkom kan word nie, moet egter versigtig met bestryding te werk gegaan word.
‘‘Plaagbestryding is dikwels ’n trapmeul wat net meer en meer verg. Dit is beter as natuurlike weerstand kan ontwikkel of as natuurlike vyande ingespan kan word om ’n plaag te beheer. Die gebruik van plaagdoders wanneer dit nie werklik nodig is nie, is die slegste opsie denkbaar.’’

Kategorie: Sprinkane/Bye
Bladsy: 20;21;22
Foto's: Kleur
Kontakbesonderhede: Me Shantall Ramatsui (skakelbeampte) LNR  Privaatsak X134 QUEENSWOOD  0121
tel: 012 808 8153   sel: 082 353 5590
e-pos: shantall@arc.agric.za