Laat natuur water wys

Maritha Swart

Tradisionele waterwysmetodes is nie ál manier om boorgate aan te wys nie. Die natuur kan ewe suksesvol ingespan word. Met hierdie kennis kan boere kontroleer of gate wel op die regte plekke geboor word.
Hy is nie ’n kenner op die gebied van boorgate aanwys nie; bloot ’n raadop boer wat ná die hoeveelste droë boorgat hom gewend het tot toentertyd se geslag boere se natuur-gebaseerde raad en doodgewone logika. Hierdie oefenlopie was só geslaag dat hy uiteindelik, ná talle vorige, tevergeefse probeerslae en flaters, agterna keer op keer sterk water raakboor, sê mnr. Rhyn du Plessis van die plaas Berlyn in die distrik Burgersdorp, Noordoos-Kaap.
Hy boer al 54 jaar lank op ’n plaas waarvan die grondtipe wissel tussen skalietipe kleigrond en leemgrond en die klipformasies meestal uit ysterkliprantjies en sandsteenklip bestaan.
Hy is nie gekant teen tradisio-nele waterwysmetodes nie en kritiseer dit nie. Trouens, sy pa, wyle Niklaas, het in die 1920’s en 1930’s in groot dele van die Suid-Vrystaat en aanliggende Noordoos-Kaapse gebiede geboor en sterk op “stokkie-trek” staatgemaak.
Drade en mikstokkies reageer egter hoegenaamd nie op Du Plessis nie. Die gebruik daarvan om boorgate op sy plaas uit te wys, het ook geen vrugte afgewerp nie.
Die een na die ander droë boorgat (almal met tradisionele waterwysmetodes aangewys) het
hom só radeloos gehad dat hy uit pure moedeloosheid alternatiewe waterwysmetodes begin beproef het. “Van die 25 gate wat ek met behulp van tradisionele waterwysmetodes geboor het, was 15 droog. Vyf ander het
redelik water gehad (ongeveer
1 000 liter per uur).” 
Du Plessis, wat al jare lank ’n lewendige belangstelling in grondformasies, klippe en fossiele het (heelwat fossiele is al op sy plaas ontdek), het daarna letterlik gegaan en elke klipbank en kliprif op sy grond gaan bestudeer en daarvolgens logiese afleidings gemaak. Hy het ook sy pa se kennis omtrent die inspan van die natuur wanneer dit by die aanwys van boorgate kom, begin beproef.
Dit het soveel vrugte afgewerp dat die laaste vyf gate wat hy met behulp van “rotsformasie-ontledingstegnieke” geboor het, tussen 13 500 liter en 45 000 liter water per uur opgelewer het.
Sy raad is, volgens hom, eintlik eenvoudige, voor die hand liggende beginsels. “Baie van die ouer geslag boere sal daarvan kennis dra, maar daar is dalk van die jonger boere wat nie so op die hoogte daarmee is nie en daarby kan baat vind. Dit kan hulle help om seker te maak dat boormanne wel op die regte plekke boor.”
’n Boorman, wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê: “Die meeste boormanne is eerlike mense wat boere werklik wil help, maar ek het al een of twee teëgekom wat boere inloop. Hulle weet presies waar die water is, maar begin dan nie by daardie plek boor nie. Hulle begin ’n hele ent verder weg en beweeg dan stelselmatig ál nader totdat hulle op die regte plek beland. Die arme boer moet dan vir elke gat opdok,” waarsku hy.
Sy raad is vanselfsprekend nie op almal van toepassing nie en ook net vir soortgelyke omgewings, maan Du Plessis. “Elke gebied se grond- en klipformasies verskil en vereis ’n unieke benadering. Die raad gaan argumentsonthalwe nie werk vir iemand wat iewers langs die kus in sandgrond boer nie.” 
Vir boere in sy omgewing is
die soek na verhewe ysterklip-riwwe (are), die eerste stukkie raad. “Daardie 3 meter tot 4 meter breë, verhewe rif wat eenkant op die vlakte loop, ’n hele ent weg van ’n rantjie of berg af, is baie male jou waterrykste een. 
“Groot, breë riwwe wat soos groterige rantjies lyk, is geensins die beste plek nie. ’n Groot rif se klipformasie, dit wil sê rantjieagtige terrein, is geneig om bo- en ondergronds wyd na weerskante toe uit te sprei, met die gevolg dat jy jou gou teen die helling op die ysterklip vasloop. Die ondergrondse nate kan rond en bont en heen en weer oor ’n wydverspreide gebied kronkel; iets wat die raakboor van ’n wateraar riskant maak. “Met kleiner, verhewe riwwe is die risiko minder om nié water raak te boor nie.”
Hou in gedagte dat klein, verhewe riwwe nie noodwendig deur ’n helling op jou plaas  gevoed word nie. “ ’n Klein, verhewe rif word dikwels ‘binne-aars’ deur waterbronne kilometers ver van jou plaas af gevoed.”
Verhewe riwwe word dikwels aan die “muurtjie-effek” herken. “Dit lyk bo-op die ysterplaatrif asof daar ’n parallelle muurtjie loop. Ek het daarmee al groot sukses behaal. Ek het al meer as een keer reg in die middel van die twee parallelle muurtjies, wat aan die binnekant van die rif solied word, geboor en van die sterkste water daar gekry.”
Du Plessis maak ook melding van die “boepens-effek” van riw-we, wat in die omgangstaal as ’n “kruisaar” bekend staan. “Dit is waar twee riwwe teen mekaar ‘bots’, dit wil sê waar ’n kleiner rif skuinsweg in ’n groter, meer verhewe rif vasloop. Waar die twee riwwe in mekaar inloop, word ’n ‘boepens’ oftewel ’n rantjievormige grondopstuwing van die grond/klipformasie gevorm.
“Ek het die sterkste water op die plaas net duskant so ’n boepens, reg in die middel van die rif (tussen twee muurtjies), met ’n lugdrukboor gekry.”
Hou egter in gedagte, maan hy, dat die “boepens-rif” die natuurlike ondergrondse rif kan beïnvloed. Indien die hoofrif, byvoorbeeld, van nature ’n vertikale helling het, kon die  “botsingseffek” die vertikale helling effens versteur het, met die gevolg dat die helling nie die hele pad reguit af ondertoe loop nie.
Van laasgenoemde kan hy eerstehands getuig. Weens sy onkunde in hierdie verband het die boor van die sterkste gat op sy plaas (45 000 liter water per uur) amper in ’n fiasko ontaard.
“Ek het die boorman sowat
30 meter weg van die ‘boepens’ af, in die middel van die groot rif tussen die twee muurtjies, laat boor en binne 6 meter
4 000 liter raakgeboor. Toe, tot my teleurstelling, moes ek ontdek dat die rif ‘geskuif’ het. Die lugdrukboor het deur ysterklip beweeg en toe ’n fyn, klipharde blou-grysklip, wat boormonsters so fyn soos seesand opgelewer het, binnegedring. Hierdie tipe klip is nutteloos. Boormonsters moet grof (soos mieliegruis) wees om waterdraend te kan wees.
“Ek het ’n kans gewaag en nog dieper geboor. Onmiddellik onder die blou-grysklip het ek toe op 45 000 liter per uur afgekom. Verder af ondertoe is net rooi skalie-kleigrond (potklei) aangetref.”
In die geval van stamperbore: Maak seker dat daar reg langsaan die rif waarin jy wil boor, vaalklip (sandsteen) voorkom en, indien wel, dat die oppervlak van hierdie vaalklipbank groot genoeg (ten minste twee meter breed) is.
Du Plessis self het al ’n stel hiermee afgetrap. “Ek het een keer reg langsaan ’n verhewe rif, aan die sogenoemde bokant van die rif waar daar bogronds geen teken van vaalklip was nie, met ’n stamperboor laat boor (ongeveer 30 cm weg van die ysterkliprif af). 
“Ek het my  blind gestaar teen die voorkoms van die verhewe ysterkliprif. Ek het sommer reg van die begin af nuttelose skaliegrond teëgekom. Op 65 meter het ek tou opgegooi.”
Hy impliseer nie dat daar glad nie in skaliegrond geboor moet word of dat daar nie water in skaliegrond te kry is nie. “Dit is maar net ’n onberekende risiko, een wat jou duur te staan kan kom indien jy misluk. 
“Skaliegrond aan die voorkant van ’n rif kan wel soms dieper af ’n sandsteenbank hê (gewoonlik perskleurige bankie-klip) wat op ’n horisontale vlak ondergronds lê waarin ’n bietjie water kan wees. Die sandsteenbank sal ’n sedimentêre lagie wees wat met die natuurlike vorming van die gesteentes teen ’n hoër temperatuur of met ’n ander soort mate-riaal gevorm is. Dit is tog logies dat al die skalie voor of agter ’n rif nie die gevolg is van ’n enkele keer se vasspoel nie – dit is in lae (sedimente) ingespoel.”
Du Plessis het jare lank geglo dat jy net goeie water kry indien jy aan die bokant/voorkant van die topografiese helling na die rif toe boor.
“Ek was onder die wanindruk dat die meeste water daar aangetref word omdat hierdie gebied deur ondergrondse syferwater van die helling asook deur die sterk water van die rif self gevoed word. Dit het egter meestal nie hier by my gewerk nie – in sommige gevalle was die vaalbank aan die bokant van die rif net te smal en het ek in skalies ingeboor.
“Ek het toe uit desperaatheid die agterkant, oftewel aan die onderkant van die rif, beproef. Ek het as gevolg gereken: Die helling se ondergrondse afloop-syferwater bereik die ysterplaatrif (wat die sterkste ondergronds-gevoerde waterbron is) en syfer dit binne. Daarna syfer dit (die rif en die helling se syferwater) saam verder ondertoe, dit wil sê deur na die onderste vaalbank toe. Boor ek dus eerder in die vaalklipbank, indien dit breed genoeg is, aan die onderkant van die rif, kry ek nie net die rif se sterk water nie, maar ook die helling s’n.”
Die rede waarom hy nie altyd binne in ’n ysterkliprif laat boor het nie (wat immers die beste boorplek is) is te wyte aan die nadelige uitwerking van die vibrasie van ’n lugdrukboor. “Die vibrasie is geneig om los ysterklippe in die nate terug te stoot. Mettertyd skuif die los ysterklippe terug tot in die gat en kry jy dan nie jou windpomppype of -silinder uit die gat nie.”
Ken die hellings op jou plaas. Wat vir jou op die eerste oogopslag kan lyk na ’n helling wat moontlik ’n ondergrondse aar voed, is nie noodwendig dit nie. Du Plessis het, byvoorbeeld, op sy plaas ’n boorgat wat vir ’n leek kan voorkom asof dit aan die verkeerde kant van die helling geboor is. “Dit lyk asof die boorgat deur die helling waarteen dit geleë is, gevoed word, maar dit is geensins die geval nie.”
Let ook daarop dat nie alle hellings se ondergrondse syferwater noodwendig klipriwwe se watervlakke aanhelp nie. Een van sy boorgate (een wat standhoudende, sterk water lewer) word deur ’n klein, verhewe ysterkliprif gevoed wat waarskynlik nie deur hellingwater aangehelp word  nie.
Kyk na die plantegroei, is nog ’n stukkie goeie raad. Dit is vanselfsprekend dat welige bloubosse wat reg langs ’n doringdraad groei, nie ’n aanduiding van ondergrondse water is nie, maar eerder van voëls wat op die draad gesit en bloubossaadjies uitgemis het. ’n Ry bloubosse of enige ander vreemde boompie met ’n diep wortelstelsel wat egter in ’n redelik reguit lyn (bv. 100 meter tot 200 meter uitmekaar of selfs verder) op ’n ysterkliprif in die oop veld groei (of biesies of katbosse wat iewers tussen niks en nêrens opskiet) is ’n goeie aanduiding van ondergrondse water.
Du Plessis het nie eerstehandse ervaring of kennis van die soeke na geskikte boorplekke in die Suid-Vrystaat nie, maar miskien help sy oorlede pa se raad dalk iemand, sê hy. Veral diegene wat die slagoffers geraak het van sterk waterdraende ysterklip-riwwe wat deur oorbenutting droog getap is, soos deur dorpsontwikkeling.
“Omdat daar in die Suid-Vrystaat nie altyd sigbare are was nie – merendeels wyd uitgestrekte grasvlaktes – het my pa meestal op ‘stokkie-getrek’ staatgemaak, iets waarmee hy baie sukses behaal het. Dit het glo veral goed in leegtes of valleie gewerk. Wanneer hy water ‘gevoel’ het, het hy ’n hele entjie weg vanaf die heel laagste punt (spruitjie of slootjie) af gaan boor om te voorkom dat reënwater-afloop in die gat inloop en dit laat toespoel. Hy het egter steeds net op ’n plek geboor waar die stokkie nog gewerk het.” 
Sy pa het ook die plantegroei op die Suid-Vrystaat se wyd uitgestrekte grasvlaktes uitgekyk. ’n Boompie of twee in ’n reguit lyn (selfs al was dit redelik ver weg van mekaar af), geiler gras op sekere plekke of biesies en katbos was ’n aanduiding van moontlike ondergrondse water.

Kategorie: Grondwater/Boorgate
Bladsy 28 - 31
Kleurfoto's