Dis vet pret om hoenders te skou

Glenneis Kriel

Of jy nou die kampioenhoender wil vertoon of die perfekte hoender wil teel, as jy eers begin het om pluimvee te skou, sal jy nie kan ophou nie. ’n Kenner gesels hier oor dié stokperdjie.
Hy het sy eerste skouhoenders, Rhode Island Reds en Plymouths Rocks, gekry toe hy net sewe jaar oud was, vertel mnr. Albert Lingenvelder van Villiersdorp in die Wes-Kaap. Die hoenders het hom gehelp om sy pa se dood, toe hy maar ’n baba was, te verwerk. Vandag is hy die voorsitter van die Suider-Afrikaanse Skoupluimvee-organisasie (Saspo). Die rits toekennings wat hy al ontvang het, is ’n bewys van sy uitstekende oog vir ’n goeie hoender.
Lingenvelder se benadering tot die skou van pluimvee is een van wat jy saai, sal jy maai. Dit is waarskynlik die rede hoekom sy stokperdjie hom meer geld kos as wat hy daaruit maak. Hy doen homself dikwels te kort deur sy beste hoenders aan nuwe geesdriftiges te gee, met die gevolg dat hy al ’n paar keer ’n kampioenposisie moes afstaan aan ’n hoender wat voorheen syne was. Sommige telers maak geld uit hierdie stokperdjie, aangesien ’n ordentlike skouhoender vir enigiets tussen R200 en R1 000 verkoop kan word.

Om te begin
Die geheim om met pluimvee te skou, is om voëls te vertoon wat aan die rasstandaarde voldoen, nie wat jy mooi vind nie. Saspo is besig om sy webwerf te herontwerp, maar die rasstandaarde sal binnekort op die webwerf beskikbaar wees (www.saspo.org.za). Lingenvelder raai nuwelinge aan om eers ’n pluimveeskou by te woon en na die voëls wat vertoon word, te kyk. “Praat met die telers en beoordelaars oor die voor- en nadele van die rasse wat jou oog vang. Begin met ’n ras wat maklik teel, met ander woorde wat maklik lê en goeie moedereienskappe het, en beweeg aan na moeiliker rasse soos wat jy ervaring opbou.”
Begin met die beste voëls wat jy kan bekostig. Identifiseer watter telers wen die pryse en probeer voëls by hulle kry. Die kontakbesonderhede van ’n teler word gewoonlik op die pluimvee se hokke op ’n skou aangetoon, maar kan ook by die klubsekretaris of voorsitter gekry word. Lingenvelder raai nuwelinge aan om twee henne en ’n haan te koop. “Baie beginners is te ambisieus en begin met te veel hoenders.”
Die gemiddelde lewensverwagting van ’n skouhoender is nege jaar. Die beste tyd om hoenders te skou, is op vyfjarige ouderdom. Volgens Lingenvelder is dit wys om hoenders te koop wat hulself as goeie broeiers bewys het, maar nie te oud is om te skou nie.
Teling
Die beste tyd om in die Wes-Kaap hoenders te laat broei, is van Junie tot September. Lingenvelder voel dat kuikens wat in Desember uitgebroei het, nie so goed ontwikkel nie, kleiner en swakker is en nooit regtig inhaal op dié wat in die winter gebore is nie. Kies die eienskappe wat jy wil versterk en vind ’n haan wat jou sal help om daardie teeldoelwitte te bereik. Moet nooit met twee hoenders teel wat dieselfde fout het nie, aangesien dit baie moeilik is om swak kenmerke uit te teel.
Jy kan ’n goeie haan koop en hom by die henne gebruik of ’n haan by ’n ander teler leen. Sommige telers voer teelvoëls in van die land waar hulle oorspronklik vandaan kom, byvoorbeeld Plymouth Rocks van Amerika en Phoenix van Japan. Dit kan langer as drie maande duur om ’n hoender in te voer, aangesien hoenders aan bloedtoetse onderworpe is, hulle vir tot ses weke in kwarantyn moet bly en toestemming vir die invoer van die Suid-Afrikaanse Regering en die land van oorsprong verkry moet word om te verseker dat die hoender geen siektes of plae die land inbring nie.
Daar word nie eintlik baie hoenders vanaf SuidAfrika na ander lande uitgevoer nie, maar daar is al hoenders na Namibië uitgevoer. Lingenvelder weet van ’n man wat na Nieu-Seeland geëmigreer het wat nou hoenders soontoe wil invoer omdat die hoenders daar glo nie op dieselfde standaard as hier in SuidAfrika is nie.
Baie telers gebruik kunsmatige inseminasie. “Verkry semen van die haan deur sy kop tussen jou sy en elmboog vas te knyp. Streel die voël saggies, maar ferm, van die nek tot by die stert en vang die semen in ’n buis op. Die semen in die buis kan dan in die hen se eierbuis geplaas word,” verduidelik Lingenvelder.
As die henne natuurlike sitters is, kan hulle die eiers uitbroei, anders kan pleeghenne of broeimasjiene gebruik word om dit te doen.
Lingenvelder waarsku dat daar nie te veel hoenders in ’n hok gehou moet word nie. “Om ’n hok te oorlaai, is amper net so sleg vir hoenders as om hulle bloot te stel aan uitermatige hitte. Moenie meer as 30 hoenders in ’n hok van 2 m x 4 m sit nie.” Hy gebruik sproeiers om hokke af te koel wanneer dit warmer as 36 ˚C raak.
Wanneer eiers uitbroei, sit Lingenvelder die kuikens onder infrarooiligte en gee vir hulle ’n hoëproteïen-beginnervoer. Hy sê dat daar ’n groot verskeidenheid kommersiële voere is om van te kies volgens die ouderdom van die voëls. Die meeste van die mengsels verskil ten opsigte van hul proteïeninhoud. Hy gee vir die hoenders lêpille wanneer dit weer tyd word vir hulle om te lê.
“Dit help nie jy het al hierdie moeite gedoen om ’n skoukampioen te teel en dan raak die hoender siek nie,” sê Lingenvelder. “Praat met jou veearts en vra hom om jou te help om ’n goeie inentingsprogram te ontwikkel. Die hoenders moet ook teen parasiete, soos luise en wurms, behandel word. Jy sal summier gediskwalifiseer word as jy met ’n siek hoender by ’n skou opdaag.”
Lingenvelder gooi vitamiene in die hoenders se drinkwater om hulle ’n hupstootjie te gee, want die inentings en behandelinge teen parasiete breek dikwels die hoenders se gestel af.  

Skouvoorbereiding
Kies die hoenders waarmee jy wil skou minstens twee maande voor die tyd en begin hulle leer om te verseker dat hulle opgewasse is vir die groot dag. Vergelyk die hoenders met die Saspo-rasstandaarde. Begin by die kop en beweeg af tot by die pote. Kyk ook na die voël in sy geheel en hoe hy of sy vergelyk met die rasstandaarde.
Lingenvelder plaas sy gunstelinge in afsondering in hokkies met outomatiese waterbakke. Die hokke se vloere word met houtskaafsels bedek. Gee gereeld aandag aan die voëls en gebruik ’n soortgelyke stok as dié van beoordelaars om hulle rond te skuif. Op daardie manier sal hulle gewoond wees om gehanteer te word wanneer hulle op die skou beoordeel word.
Die Pluimveehandleiding vir die nasionale jeugskou is onlangs hersien deur mnr. Ben Hall, Saspo se jeugverteenwoordiger. Daarin raai hy geesdrigtiges aan om vere minstens agt weke (dis hoe lank dit neem om terug te groei en te herstel) voor ’n skou te knip en die bek en toonnaels minstens drie dae. Die versorging van die voëls word breedvoerig in die handleiding bespreek en bestaan uit was, borsel en droog blaas.
Sommige boere voer hul hoenders spesiale rantsoene om te verseker dat hulle in topkondisie is teen die tyd wat die skou aanbreek. Daar word geglo dat wortels die gehalte van die vere verbeter en die geel-rooi kleur van hoenders uitbring. Mielies en sonneblomme verbeter velpigmentasie en maak bene ’n goue geel. “Daar is baie kunsies aan verbonde en soos jy meer ervare raak, ontwikkel jy jou eie,” sê Lingenvelder.

Kategorie: Hoenders/Pluimvee
Bladsy 42 - 44
Kleurfoto's
’n Kopie van die Pluimveehandleiding of ’n DVD wat jou wys hoe om ’n hoender te versorg, kan by Hall bestel word (sel 083 650 7366).