Gesinsafdeling:: Hiert, dis 'n pofadder

Johan Marais

Het jy ’n interessante foto geneem van ’n slang in jou omgewing of wonder jy oor ’n slang wat jy teëgekom het en het jy dit op film vasgelê?
Van ál die slange in Suid-Afrika is die pofadder verreweg die bekendste en vir ’n paar redes: Dié kort, vet slang kom wydverspreid oor Suid-Afrika voor (buiten die Johannesburg-omgewing) en is verantwoordelik vir die meeste ernstige gevalle van slangbyt, hoewel die sterftesyfer baie laag is.
Pofadders maak op kamoeflering staat om gevaar te vermy en is dus besonder moeilik om raak te sien.
Verder beweeg hulle baie min en kan vir weke lank op een plek lê en wag vir ’n klein knaagdier om verby te kom. Gevolglik word daar soms op dié slange getrap en dan pik hulle maklik.

Baie giftig

Pofaddergif is sitotoksies of selvernietigend en val weefsel en bloedvate aan.

Simptome na 'n byt

* Uiterse pyn;
* Uitermatige swelsel – blase kan soms vorm.
* Slagoffers moet dringend na ’n hospitaal gebring word – verkieslik een met ’n waakeenheid.

Help slagoffer so

Wat noodhulp betref, is daar bitter  min wat gedoen kan word wanneer ’n pofadder jou gepik het. Vergeet van druk en klemverbande, sny en suig en moet nóóit ys op die wond pak nie. Die slagoffer moet kalm gehou word, so min as moontlik rondbeweeg en so gou moontlik na ’n hospitaal gebring word vir verdere behandeling.

Het jy geweet?

Pofadders is lewendbarend en kry 20 tot 40 kleintjies op ’n slag, maar kan aan tot 80 kleintjies geboorte skenk.
Dié slange is meestal snags aktief, maar bak graag in die son. Alle adders het groot giftande wat voor in die mond geleë is en terugvou teen die verhemelte wanneer hulle nie gebruik word nie. Die giftande van die pofadder word tot 25 mm lank.
Dis ’n wanbegrip dat pofadders slegs agteroor pik. Soos alle slange pik dié slange vorentoe of na die kante.
Vir inligting in die geval van ’n slangbyt, bel die Tygerberg Gifsentrum, tel. 021 931 6129.

Johan Marais, een van Afrika se topherpetoloë, het elf boeke oor reptiele geskryf
(en is besig met nóg drie of vier). Buiten reptielfotografie, bied hy kursusse oor slangbewustheid en slanghantering regoor Afrika aan. Hy werk hoofsaaklik vir groot maatskappye en myne.

Kategorie: Veldvertroud/Reptiele/Slange
Bladsy 83
Kleurfoto's