Nuwe kultivars pas boere en verbruikers

Lucille Botha

Dit is weer die tyd van die jaar dat saadmaatskappye hul deure vir boere oopgooi om die nuutste ontwikkelinge in groentesaad te bekyk. Vanjaar lewer weer ’n verskeidenheid nuwe kultivars waaroor verbruikers en boere ewe gaande is.
Die verswakking van die rand en internasionale stygings in die koste van saadproduksie het meegebring dat saadpryse vanjaar effens gestyg het.
In ’n wêreld waar dit vir boere toenemend moeilik raak om stygende produksiekoste met lae pryse te balanseer, raak dit nood-saaklik vir hulle om oordeelkundige besluite te neem. “Die produsent moet seker maak van sy kultivarkeuses en bemarking,” sê mnr. Nico van Rensburg, bemarkingsbestuurder van die saadverskaffer Starke Ayres.
Die goeie nuus is dat die nuwe kultivars wat jaarliks bekend gestel word, in pas is met verbruikers se behoeftes.
Van Rensburg sê hedendaagse verbruikers verkies kleiner produkte in die meeste produkkategorieë.
“Dit is om sosiaal-ekonomiese redes, maar verbruikers wil ook produkte hê wat hulle met die minimum vermorsing kan verbruik.”
Daar is ook altyd ’n vraag na beter gehalte. “Daar is ’n groter aansporing van die verbruiker vir gehalte en beter kleur en smaak. Die verbruikers in die hoër LSM-groepe (lewenstandaardmeting) is ook op soek na waardetoegevoegde en geriefsprodukte,” sê Van Rensburg.
 Hier is ’n paar van Starke Ayres se nuwe kultivars:

Die grootste voordele van Star 3315*, ’n nuwe kopkoolkultivar, is die plant se sterk raam en die groot koppe wat dit lewer. Star 3315 het ’n goeie algemene weerstand teen siekte, onder meer swartvrot. Die kultivar het goeie hitte- en koueweerstand en kan reg deur die jaar in ’n matige klimaat verbou word.

Pearl is ’n blomkoolkultivar waarvan die naam sekerlik van die besondere wit kleur van die blomkool afgelei is. Dit is ’n plant met ’n sterk raam wat goeie kopbeskerming bied. Dit bied goeie weerstand teen hitte en spog met ’n goeie blaarsiekteweerstand.
Topaz is ’n nuwe broccolikultivar. Die kop het mooi fyn blommetjies en danksy die kort florette behoort dit ’n gunsteling van die mark vir voorafverpakte produkte te word. Op die plaas behoort dit ’n goeie opbrengs op die belegging te verseker, want dit spog met ’n hoë snypersentasie. Die kultivar bied goeie weerstand teen hitte.

Star 2005 is ’n standaardstamboontjie met uitstekende roestoleransie en ook matige weerstand teen vetvleksiekte. Dit lewer ’n bogemiddelde opbrengs van 16 ton tot
18 ton per hektaar. Die boontjie het ’n mooi groen kleur en is geskik vir die vars sowel as verwerkingsmark.

Verbruikers behoort opgewonde te wees oor die nuwe tweekleur-mielie, Inferno, met sy heerlike soet smaak. Vir boere behoort die kultivar se meerkoppigheid – gemiddeld 1,2 koppe per plant – opgewonde te maak. Dit is ’n sterk plant met goeie siektetoleransie (standaardpakket). Die koppe is eenvormig en het goeie tipvul. Die differensiasie tussen wit en geel pitte is ook goed versprei. Inferno is ’n produk van die maatskappy se plaaslike teelprogram.
 
Kelly* is ’n nuwe spanspekkultivar met ’n heerlike muskusgeur en ferm vleis. Dit het ’n aantreklike kleur en is ideaal vir die hoofoestyd se someraanplantings. Kelly het boonop ’n langer raklewe as die tradi­sionele Eastern Shipper-tipe spanspek. Dit sal goed vaar in Limpopo en die Noord-Kaap en word tans ook elders in die land beproef.

Jemma se vrugte is lekker groot en het ’n klein saadholte. Danksy die grootte is dit geskik vir vroeë of laat aanplantings. Die spanspek het ’n diep-oranje kleur, ’n hoë suikerinhoud en spog met ’n lang raklewe. Dit is bestand teen fusarium (rasse 0 en 2) en poeieragtige meeldou.
 
Shiba en Gilda is twee nuwe botterskorsiekultivars en ook die saadmaatskappy se eerste F1-basterkultivars (vir botterskorsie). Shiba het ’n lang, dik nek, terwyl Gilda eerder ’n blokkerige voorkoms het. Al twee het uitstekende eetgehalte en sal op die vars en verwerkingsmark goed vaar.


Cartwheel* en Pinwheel* is die nuwe gesigte in die vlapampoentjie (pattypan)-reeks. Pinwheel het ’n eenvormige, heldergeel kleur, terwyl Cartwheel ’n groen blom-end het. Al twee is tolerant vir murgpam-poentjie-geelmo­saïekvirus en het ’n lekker lang rak­lewe. Min interne verbruining vind plaas wanneer dit gesny word.

Mira is ’n mooi donkergroen murgpampoentjie. Dit lewer eenvormige, silindriese vrugte. Die plante groei oop, wat oes vergemaklik. Dit het goeie weerstand teen murgpampoentjie-geelmosaïekvirus en lewer bogemiddeld goeie opbrengste. Dit is geskik vir die vars mark en vaar veral goed in Limpopo en die Laeveld.
 
Die Great White* is ’n witskil-pampoen met die vleisgehalte van ’n gryspampoen. Die voordeel is natuurlik dat die witskil nie sonbrand opdoen, soos gryspampoen, nie. Dit gee swaar pampoene met klein saadholtes. ’n Pampoen weeg tussen 7 kg en 8 kg. Dit het ’n gladde skil. Dit kan dus maklik geskil word en daar is min vermorsing.

’n Opwindende nuweling is die blaar­slaaikultivar Green Glace. Verskeie supermarkte het reeds hul visier op dié kultivar gestel. Dit is ’n multiblaar-slaaikop wat met ’n enkele snit gesny word om sowat 15 tot 20 slaaiblare te lewer. Die snywond is klein, wat oksidasie beperk en verseker die slaai bly langer vars. Die koppe het ’n eenvormige grootte en ’n diepgroen kleur. Die blare pas perfek op ’n broodrolletjie of ’n sny brood. Dit is dus ideaal vir die kosblik. Green Glace bied goeie weerstand teen Bremia (donsige skimmel) en kan twaalf maande van die jaar gekweek word.

Tamatieboere kan uitsien na TF 2680, ’n nuwe saladet-tipe tamatie wat bestand is teen die kromnekvirus. Dit is ’n welige plant met ’n onbeperkte groeiwyse wat die vrugte goed teen sonbrand beskerm. Die opbrengsverwagtinge lyk tans ook goed. Die tamatie het ’n hoë suikerinhoud en ’n dieprooi kleur. Die vrugte is mooi eenvormig. ’n Gemiddelde vrug weeg sowat 120 g.

Op die foto bo sit mnre. Clinton Krull (links), verkoopsverteenwoordiger, en Werner Wessels, produkbestuurder, by die tamatiekultivar TF 2799. Korter plante dra dikwels op meer gekonsentreerde wyse. Die vrugvoorkoms van dié tipe groeiers is gewoonlik nie so aantreklik nie, maar die navorser het dit reggekry om voorkomsprobleme uit te skakel. Die kultivar lewer oeste van sowat 100 ton tot 120 ton per hektaar en bied weerstand teen die meeste siektes. Die tamaties het ’n lang raklewe. Dit is ideaal vir boere wat nie strukture wil oprig nie, maar steeds ’n goeie vrug wil kweek.

Selene is ’n soet­rissie met ’n unieke eien­skap: Dit is bestand teen die kromnekvirus sowel as bakteriese blaarvlek. Die opbrengs
is belowend op ’n beraamde
70 ton per hektaar. Die vrug verkleur van groen tot rooi, het ’n uitstekende eetgehalte en ’n klein aanhegsel. 

* ’n Aansoek is reeds ingedien om Star 3315, Kelly, Cartwheel, Pinwheel en Great White by die nasionale kultivarlys in te sluit.

Kategorie: Groente
Bladsy 50 - 52
Kleurfoto's