Baba-bakkie praktiese werkesel

Andries Groenewald

Die ontwerp van hierdie nuwe nutsvoertuig sentreer eerstens rondom praktiese, harde werk. As dit dan ook vir pret en plesier ingespan kan word, is dit ’n bonus.

Greenfields Agricultural Holdings van Mooirivier in KwaZulu-Natal het pas Suid-Afrika se alleeninvoerder en -verspreider van die JCB Workmax 800D-nutsvoertuig geword.
Hierdie nuweling op Suid-Afrikaanse bodem is in Brittanje ontwerp, dit gebruik ’n Japannese enjin en dit word in China vervaardig. Dit is ’n kompakte, vierwielaangedrewe nutsvoertuig met sitplek vir twee mense en ’n netjiese klein wiplaaibak agter die ‘‘kajuit’’.
Mnr. James Smart, die maatskappy se hoof uitvoerende beampte, sê hulle is bly om hul bestaande reeks produkte met die Workmax 800D uit te brei. Dit is ’n goeie keuse vir ’n boer wat ’n vierwielmotorfiets of ander nutsvoertuig wil aanskaf. Dit is ’n veeldoelvoertuig. Met sy vierwiel-trekvermoë kan dit maklik die werk van ’n kleiner bakkie of selfs ’n ligte trekker en sleepwa doen.
Mnr. Keith Hoskins, ’n direkteur van JCB Utility Vehicles in Brittanje, het by die bekendstelling by Mooirivier gesê die JCB-groep se reeks konstruksie- en landbouprodukte fokus eerder op die praktiese bruikbaarheid van die voer- en werktuie as op die ontspanningsmoontlikhede wat dit ook kan bied.
Wêreldwyd ontwikkel die mark vir nutsvoertuie baie vinnig en Suid-Afrika het ’n potensiële mark vir 5 000 eenhede per jaar, skat Hoskins.
Maar kom ons bekyk die 800D van naderby. Dit het ’n kompakte ontwerp met ’n stewige voorkoms, met die vier wiele op die hoeke van die voertuig geplaas. Laasgenoemde is altyd ’n goeie resep vir groot aantree- en verlaathoeke. Dit is 2,8 meter lank, 1,5 meter breed en 2 meter hoog. Die asafstand is 1,9 meter en die voor- en agterwiele is onderskeidelik ’n raps meer en ’n raps minder as 1,2 meter uitmekaar geplaas. Die grondvryhoogte van 265 mm is sommer ’n groot voordeel wanneer die 800D in die veld gebruik word.
Die nuweling is in JCB-geel afgewerk, wat enersyds maklik is om raak te sien en andersyds ook ’n bietjie vrolikheid aan die voertuig verleen, al is dit eintlik vir harde werk ontwerp. Agter die netjiese neusgedeelte met sy hoof- en flikkerligte, luginlaatrooster en penhak is die kajuit met sy banksitplek en veiligheidsgordels. (Die banksitplek kan met twee komsitplekke vervang word.) Onder die snoet-deksel is ’n waterdigte bêreplek, die enjin se luginlaatpoort, die verkoeler en die prop vir die aanvul van die verkoelingsvloeistof.
Die handrem-hefboom is gerieflik links van die bestuurdersitplek. Die digitale instrumentehuls, skakelaars (ook vir die 4x4-funksie én vir die ewenaarsper) asook ’n lang rathefboom is gerieflik regs van die klein stuurwiel geplaas. Behalwe vir die versneller- en die rempedaal is daar geen hindernis op die vloer nie, wat in- en uitklim van enige kant af ewe maklik maak.
’n Industriële tipe kragsok (12V) is in die kajuit beskikbaar vir katoeters, soos ’n GPS, ’n lugdrukpomp, nagligte of ’n rekenaar. ’n Beskermingskajuit met ’n dakkie behoort die ergste reën buite te hou.
Agterop is ’n klein laaibak wat kan opwip om ’n vrag makliker en vinniger af te laai. Dit kan op versoek met ’n hidrouliese meganisme toegerus word. Met die laaibak in die opwip-posisie is die toegangsluik tot die enjin maklik om te verwyder vir die nagaan van die enjinvloeistowwe en versieningstake.
Die Japannese Yanmar-dieselenjin verplaas 800 kubieke sentimeter en dit spog met 14,9 kW drywing en 45 N.m wringkrag. Krag word met ’n kevlar-dryfband na die palwisselratkas en dan na die wiele verplaas. Die ratkeuses is hoog, laag, tru of ontkoppel, en die ewenaarsper en die 4x4-stelsel word elektronies op die instrumentepaneel ingeskakel. ’n Stewige skutplaat is aan die onderkant vasgebout en beskerm kwesbare dinge, soos die enjin se oliebak, ratkas en dryfasse.
Die voorste veerstelsel is onafhanklik met dubbele mikke en progressiewe kronkelvere, terwyl laasgenoemde ook by die agterste veerstelsel ingespan word. En wanneer dinge effe vinnig begin gaan, is daar vier skyf-remme en ’n onafhanklike remskyf wat as deel van ’n meganiese noodrem diens doen.

Ry-indrukke
Sodra die gedagte aan die linkerstuur nie meer so vreeslik pla nie, is dit eintlik hondmaklik om die 800D te bestuur. Jy klim eenvoudig in, gordel vas, skakel aan, kies die ratverhouding (hoog/laag/tru) en die konfigurasie (4x4/ewenaarsper), ontspan die handrem, trap die versneller en kort voor lank draf die knaap teen ’n gemaklike 40 km/h.
Die stuur is baie direk en dit is veral ’n groot voordeel wanneer hindernisse, soos klippe, stokke en erdvarkgate, vermy moet word. Die skyfremme is baie doeltreffend.
Danksy die progressiewe kronkelvere voor en agter is die 800D se rygerief besonder goed en word die grootste (ry)oppervlakskokke geslaag versag.
En as jy werklik die 800D se veldryvermoë op die proef wil stel, is dit net so eenvoudig soos om 4x4, lae strek en die ewenaarsper te kies en ’n hindernis aan te durf. Op die Greenfields-plaas kon ons ’n baie styl bult neffens ’n spruit aandurf, en dit was verbasend met hoeveel gemak die 800D daar uitklouter sonder om die enjin te ooreis. “Dié ding loop dan waar ’n bobbejaan met ’n kierie sal begin sukkel,” het iemand heel gepas opgemerk.
Die dieseltenk hou 32 liter, wat beteken dat die 800D net nou en dan volgemaak hoef te word. En as iemand nog wonder of dit werklik vir werk bedoel is, luister ’n bietjie na wat JCB self sê: Die 800D weeg 710 kg, kan 600 kg dra en kan boonop 500 kg sleep!
’n Redelik uitgebreide reeks toebehore is beskikbaar om die 800D nóg meer bruikbaar te maak.
Met die lae instandhoudingskoste is dit ’n ideale tweede voertuig op die plaas vir al daardie take waar ’n volwaardige eentonner nie werklik nodig is nie. Dit behoort ook groot byval te vind op konstruksieterreine, in die bosboubedryf, op wildreservate, op myne en as inspeksievoertuig vir byvoorbeeld grensheinings, kraglyne, windpompe en watersuipings.
Die 800D se hoë grondvryhoogte tesame met sy viertrek- en veldryvermoë en maklike toegang maak dit waarskynlik ’n ewe gawe jagvoertuig of om te gebruik wanneer jag gemaak word op probleemdiere, soos jakkalse.
Die Workmax 800D kos R124 000 (BTW ingesluit). 

Kategorie: Voertuie/Bakkie
Bladsy 56 - 57
Kleurfoto's
Kontakbesonderhede:  Mnr. James Smart, Greenfield Agriculture Holdings, Mooirivier Tel: 033 263 1305;  e-pos: jsmart@greenagri.co.za