Gesinsafdeling: Die verhaal van ANTJIE SOMERS

Wendy Maartens

Andries Somers was ’n staatmaker. Hy was groot en sterk en nie bang vir werk nie. As Andries deel van ’n visserskuit se bemanning was, het die res geweet op wie se nommer hulle kon druk. En as dinge skeefgeloop het, het Andries sy eie lewe in gevaar gestel om iemand uit die stormsee te red.
As die werk klaar was, het Andries nie saam met sy makkers gekuier nie, maar homself eerder met ekstra take besig gehou of weggeglip na die huisie teen die strand waar hy saam met sy suster gewoon het.
Omdat Andries daarvan gehou het om eerder alleen te wees, het die ander vissers graag met hom skoorgesoek. Party het sommer net geterg, maar ander was jaloers omdat Andries goeie werk gedoen het en deur die skipper geprys is. 
Op ’n dag soek ’n paar vissermanne weer met Andries skoor.
Soos gewoonlik steur hy hom nie veel daaraan nie en begin aanstap huis toe. Maar toe een hom aan die skouer beetkry en ’n ander hom onverwags met die vuis bydam, besluit Andries om hulle ’n les te leer.
Nie lank nie of die vuiste klap.
Net so vinnig as wat die geveg begin het, is dit verby.
Toe Andries sy oë uitvee, bly een van die skoorsoekers op die grond lê nadat hy geval en sy kop teen ’n klip gekap het.
Andries besef hy is in die moeilikheid en laat spaander. By die huis trek hy ’n rok van sy suster aan en sit een van haar kopdoeke op.
Hy het net genoeg tyd om ’n paar besittings in ’n kombers toe te rol en op die vlug te slaan.
Toe sy suster daardie aand by die huis kom, is Andries skoonveld.
Teen hierdie tyd is die man wat sy kop teen die klip gekap het, dood en word Andries vir moord gesoek.
Hy skuil ’n ruk lank in die berge waar hy van veldplante en klein diertjies leef. Nou en dan waag hy dit om saans ’n draai in die buitewyke van die dorp te maak, maar hy besef gou dat daar nie regtig vir hom hoop is nie.
Toe vat hy sy bondel en begin met ’n swaar hart aanstap.
’n Paar weke later kry hy op ’n wingerdplaas werk.
Teen hierdie tyd stel hy homself as “Antjie” voor en probeer soggens so glad as moontlik skeer sodat niemand moet agterkom hy is ’n man nie. Maar dit gaan moeilik, want Andries is ’n fris kêrel wat nog nooit in ’n rok tuis was nie. 
Soos gewoonlik doen Andries goeie werk en dis nie lank nie of die ander werkers begin jaloers raak. Boonop is hulle vol grappies oor dié Antjie wat deesdae saam met hulle werk.
Een middag terwyl almal ’n blaaskans onder ’n groot akkerboom vat, kom ’n tante aangestap wat al heeldag lank vir Andries loer.
“Jy het darem ’n paar skouers, Antjie,” sê sy. “Dan praat ek nie eers van jou growwe hande en daardie paar voete wat onder jou rok uitsteek nie. Buitendien kan nie een van ons ander vroue soveel mandjies druiwe soos jy op ’n dag pluk nie. Is jou naam nie dalk Andries nie?” soek sy verder moeilikheid.
“Jaaaa,” lag die ander vroue. “Kom, wys ons wat steek jy alles onder daardie lang rok weg!” tart die ou tante verder.
“Antjie Somers, ou Antjie Somers is eintlik Andries Somers!” hou die ander vroue aan met koggel.
Andries besef dat sy tyd op die wingerdplaas verby is. As die vroue eers hoor van die man wat dood is, sal hy in die tronk gestop word en die doodstraf kry.
Daardie aand vat hy sy bondel en begin weer met ’n swaar hart aanstap.
’n Paar weke later kry hy werk op ’n koringplaas, maar dis nie lank nie of die vroue dáár kry ook snuf in die neus.
Andries vat sy bondel en vlug vir oulaas berge toe.
Die dae word later weke en maande.
Gou begin die mense fluister oor ’n vreemde wese wat in die berge woon. Hy dra glo vroueklere, maar is so sterk soos ’n os.
Boonop kan hy jag en die kranse soos ’n man uitklouter. En die ergste van alles is dat hy ’n sak oor sy skouer dra en stout kinders daarin prop.
Niemand het Andries Somers ooit weer daarna gesien nie. Nie eens sy suster nie.
Net nou en dan het een van die vroue wat saam met Andries gewerk het, aan hom gedink. Dan het hulle gewonder of dit nie dalk verkeerd was om die flukse Antjie so te terg nie.
Maar wanneer hul kinders stout was, het hulle gou gesê: “Pasop vir Antjie Somers. Sy gaan jou kom vang!”
Dan het die kinders gegil en onder die beddens gaan wegkruip sodat die ou vrou met die lang rok en die kopdoek hulle nie in haar sak kan prop en wegdra berge toe nie.
Dink dus maar twee keer voordat jy weer kattekwaad aanvang.
Antjie Somers lê dalk lankal vir jou en loer.

(Antjie Somers uit Eendag op ’n Reëndag, Volksverhale, legendes en ware stories oorvertel deur Wendy Maartens, uitgegee deur Lapa Uitgewers (Edms.) Bpk.)

Kategorie: Verhale
Bladsy 69 - 70
Kleurskets