Gesinsafdeling: Gevaarlilke goggas: Skerpioene

Erik Holm

Prof. Erik Holm was twintig jaar lank die hoof van die departement Entomologie aan die Universiteit van Pretoria. Tans is hy ’n skrywer en tree hy as genooide spreker op. Hy is ook ’n direkteur by die ZZ2-boerderye.

Een van die min instinkte wat ons oorgehou het van ons oer-voorvaders, is die vrees vir slange en skerpioene wat so op drie-, vierjarige leeftyd spontaan by kinders kop uitsteek. Met rede. Enkele slange en skerpioene is inderdaad dodelik giftig.
Terwyl die meeste skerpioene se gif omtrent so erg is soos ’n bysteek, het ons ’n paar Parabuthus-soorte in Suid-Afrika wat (met stert) meer as 150 mm lank is en waarvan die steek verál vir honde, kinders en ouer mense maklik dodelik kan wees. Die sowat dosyn soorte van dié genus kom oral in Suidelike-Afrika voor, behalwe op die
Hoëveld, in die Vrystaat en Natal. Die grootste, volopste en gevaarlikste soorte word in die Kalahari en Limpopo aangetref.
Die beste aanduiding van ’n skerpioen se giftigheid, is die dikte van sy knypers en “stert”. Hoe dikker die stert, hoe giftiger, en by die gevaarlike Parabuthus-soorte is die sterte meer as twee keer so breed soos die knypers. By onskadelike soorte is dit omgekeerd: Die knypers is meer as twee keer so dik soos die stert. Hierby moet ’n mens voeg die grootte: Hoe groter, hoe gevaarliker, want die effek hang natuurlik van die hoeveelheid gif af.
Parabuthus leef uitsluitlik op die grond, en loop snags rond. Bedags skuil hulle onder klippe of stompe of in tonnels. Om snags kaalvoet in die Kalahari rond te loop, is nie ’n goeie idee nie. Ook nie om in jou slaapsak op die sand te slaap, of jou skoene aan te trek sonder om dit uit te skud nie!
Skerpioene steek dikwels herhaaldelik, soos ’n perdeby. Sommige  Parabuthus kan ook hul gif oor ’n afstand van ’n halwe meter in hul aanvallers se oë spuit, soos ’n spoegslang. Hoewel die hoeveelheid gif minimaal is, is dit per volume vele kere giftiger as mamba-gif. Dit is ’n mengsel van senuwee-giwwe waarteen die skerpioen sélf feitlik immuun is (dat skerpioene “selfmoord” pleeg, is dus ’n mite). Die gif is ontwerp om die prooi te verlam en aanvallers af te weer. Dis dié dat ’n skerpioensteek onmiddellik pyn veroorsaak in teenstelling met ’n spinnekopbyt wat ’n mens dikwels glad nie voel nie.

Simptome na steek

 Gif in die oog veroorsaak geweldige brandpyn. Later tydelike blindheid.
      ’n Intense brandpyn wanneer gesteek word. Die pyn versprei dan van die steekplek af.
 ’n Intense ‘‘naalde-en-spelde’’-gevoel op die vel ná ’n paar minute – verál in alle slymvliese.
 Asemnood ná twee tot drie uur, intense hartklop, soms krampe en later lomerigheid.
 Lewensverlies tree soms in weens asemhalingsversaking.
 By herstel kan ’n prikkelgevoel, swelling en pyn drie tot vyf dae lank voortduur. Gif in die oog veroorsaak geweldige brandpyn. Later tydelike blindheid.
      ’n Intense brandpyn wanneer gesteek word. Die pyn versprei dan van die steekplek af.
 ’n Intense ‘‘naalde-en-spelde’’-gevoel op die vel ná ’n paar minute – verál in alle slymvliese.
 Asemnood ná twee tot drie uur, intense hartklop, soms krampe en later lomerigheid.
 Lewensverlies tree soms in weens asemhalingsversaking.
 By herstel kan ’n prikkelgevoel, swelling en pyn drie tot vyf dae lank voortduur.

Behandel só

Moenie ’n slagoffer se pyn vererger deur die volgende nuttelose optrede nie:
 ’n Snyery aan die wond en die invryf van diesel, kaliumpermanganaat, gemaalde skerpioene of ander rate nie.
 Deur slang- of spinnekop-antiserum in te spuit wat niks gaan help nie, maar boonop gevaarlik kan wees.
 Deur verdowingsmiddels, soos alkohol, barbiturate of steroïde, in te gee wat iemand kan doodmaak nie.

Maak só
 Beperk gifverspreiding en lokale pyn met ’n yskompres.
 In ernstige gevalle, jaag hospitaal toe, bel vooruit vir Parabuthus-antivenien wat net op sekere plekke, soos Upington, beskikbaar is.
 Hou asemweë oop en pas desnoods kunsmatige asemhaling toe.

Foto's:

LINKS: Dié groot swart tot bruin skerpioen (tot 180 mm lank met stert) is die grootste spesie in die Parabuthus-familie.
REGS BO: Dié Parabuthus transvaalicus is groot (150 mm) en altyd swart. Dit kom voor in die Bosveld en Laeveld en bevat ’n groot volume gif.
REGS: ’n Relatief onskadelike skerpioen.

Kategorie: Goggas/Skerpioene
Bladsy 91
Kleurfoto's