Slegs 'poeding'-gras goed genoeg

Johan Norval

Die Towton-Bonsmaras van mnr. Charles Williams van die distrik Olifantshoek vind baat by die veldverbetering wat hy die afgelope dekades deur goeie veldbestuur op sy grond bewerkstellig het.
Williams sê sy beeste vreet bykans daagliks uiters gewenste grassoorte – as’t ware “poeding”-gras. “As hulle in dié optimale toestande nie hul bydrae ten opsigte van produksie lewer nie, voel ek geensins skuldig om die mes in te lê nie.”
In 1994 het mnr. Louis de Jager, landbouvoorligter op Postmasburg, ’n plantopname in Williams se duineveld aan die westekant van die Korannaberg gedoen. De Jager het verlede jaar sy plantopname op dieselfde plek in die veld herhaal.
Die tabel op bladsy 27 wys die verandering in grassoortsamestelling die afgelope 17 jaar. Die opname is in duineveld met ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 300 mm en ’n amp­telike langtermyn-drakrag van 15 ha/GVE gedoen.
In die tydperk van 17 jaar was daar 7 jaar dat die reënval minder as die gemiddelde was. In die voorafgaande 17 jaar was die reënval egter 14 jaar minder as die gemiddelde.
Die opvallendste was dat die hooggewenste grasse – vingergras, Kalahari-sandkweek, sandbuffel en gha-gras – van 24% tot 85% toegeneem het.
In die goeie reënjaar van 1974 het Williams die eerste keer die saad van vingergras (Digitaria eriantha) in ’n bos opgemerk. In die droër 17 jaar van 1977 tot 1994 het dit geleidelik vermeerder tot 2% en in die natter 17 jaar sedertdien tot 33%. Kalahari-sandkweek het van 19% vermeerder tot 51%. 
Die veld kan nog verder verander en borseltjie- en rondomgras kan toeneem. Wit of eenjarige steekgras, ’n ongewenste gras, het van 42% tot 1% afgeneem. “Dit is duidelik dat die ongewenste gras, wat minder smaaklik is, plek gemaak het vir die hooggewenste grasse wat uiters smaaklik is. Dit het die weikapasiteit verdubbel,” sê Williams.
Ongewenste of minder smaaklike grassoorte het ’n rol, maar dit behoort nie meer as 15% tot 20% van die grassamestelling uit te maak nie. Dit speel ’n belangrike rol in grondvrugbaarheid (sit dooie materiaal en dooie wortels terug), maak ’n bedekking (verlaag grondtemperatuur) en verminder verdamping.
As die veldtoestand uiters swak is, sit die onsmaaklike grassoorte meer in die grond terug, maar minder namate die veld verbeter.

Weidingstelsel
Dié verandering is bewerkstellig met ’n weidingstelsel wat die basiese beginsels van weiveldbenutting in ag neem. Daar word net op die smaaklike grassoorte gekonsentreer en die onsmaaklike soorte word onbenut gelaat. Sodoende hoop ou materiaal van die onsmaaklike soorte op, dit verloor groeikrag en sterf later af.
Die basiese beginsel wat geld, gaan oor die tydperk van beweiding, die tydperk van rus en die hoogte van beweiding.
Nadat gras afgewei is, moet dit reserwes uit sy wortels en stingelbasisse onttrek om groei te kan hervat. As ’n grassoort aanhoudend afgevreet word, vind daar ’n geweldig groot dreinering van reserwes plaas, terwyl van die wortels afsterf. Die gras verloor dan groeikragtigheid en is só verswak dat dit met ’n droogte totaal afsterf.
Diere moet nie so lank in ’n kamp bly dat enige hergroei wat plaasvind, gedurende dieselfde weitydperk benut word nie. (Nie langer as twee weke in die groeityd nie). ’n Gras moet ná beweiding lank genoeg rus sodat die gras sy groeisiklus tot by saadvorming kan voltooi.
Nadat ’n gras sy saad gevorm het, is sy reserwes aangevul en hou dit op om nuwe blare te vorm. Dan is dit weer gereed vir beweiding. Nadat ’n kamp bewei is, moet daar nog genoeg blare op die graspol oorbly om aktiewe groei vinnig te kan hervat.
Die blare van die plant is die fabriek waardeur voedingstowwe met behulp van sonlig geproduseer word. As ’n grasplant te kort gevreet is, moet baie reserwes vir die eerste blaargroei onttrek word. Die totale produksie word aansienlik verlaag omdat die plant nou stadiger groei en dit langer duur om die saadstadium te bereik.
In ideale toestande (genoeg vog in die grond en hoë temperature) duur dit ongeveer ses weke vir ’n gras om sy wortelreserwes aan te vul. Ideale toestande kom selde voor. Daarom moet rustydperke verkieslik langer wees.
Williams gebruik ’n minimum van vier kampe per trop om die bostaande beginsels te kan toepas. Hy voeg troppe saam om te verseker hy het genoeg kampe. Troppe behoort egter nie uit meer as 100 volgroeide beeste te bestaan nie, want dan begin ouer en swakker diere uitsak.
Hy kamp ook verskillende veldtipes af en sorg vir geleentheidskampies naby die huis vir koeie om in te kalf, siek diere en melkkoeie.
“Dit is nog belangriker om by elke groeityd se produksie aan te pas. Die hoeveelheid en verspreiding van die reënval in ’n seisoen bepaal hoeveel die verskillende grassoorte gaan produseer. Veldproduksie kan met tot 400% wissel na gelang van die reënval,” sê hy.
Deur by die amptelike drakrag te bly, kan die veld in ’n droë jaar totaal oorbenut en in ’n goeie jaar weer onderbenut word.
Einde April hou gras op groei vanweë ’n te lae grondtemperatuur. Dan is dit die tyd om te bepaal hoeveel weiding daar sal wees voor die volgende reëntyd. Dan moet besluit word of getalle verminder moet word, dieselfde kan bly of vermeerder kan word.
“ ’n Bees vreet daagliks sowat 12 kg gras oftewel 2% tot 3% van sy liggaamsgewig. Dit beteken meer as 4 ton gras per jaar per bees om goed te kan produseer en reproduseer.”
Die voedingswaarde van gras in die Kalahari daal nie so baie nie en kan na ’n volgende seisoen oorgedra word.
Williams sê die onsekerheid oor die moont­like reënval maak dat hy sy veld eerder konserwatief laat bewei.
“Met ons beter weiding is die gemiddelde speengewig van ons kalwers die afgelope drie seisoene 252 kg op 205 dae (243 kg vir versies en 261 kg vir bulkalwers in die somer). Winterkalwers weeg ligter.
“Ons kudde was die afgelope vyf jaar ’n finalis of die Noord-Kaapse streekwenner in die Landbounavorsingsraad (LNR) se kompetisie vir die vleisbeesverbeteringskudde van die jaar,” sê Williams.
Die twee keer dat Towton-Bonsmaras die streekwenner was, was die koeie se tussenkalfperiode 385 dae, met ’n gemiddelde reproduksie-indeks van 112. “Ons verse kalf die eerste keer op gemiddeld 29 maande en ons verkies dat hulle kalf ná tandwisseling, want hulle kry net ’n sout-fosfaatlek.”
Hulle toets hul bulle op die veld in ’n fase D-toets met net ’n sout-fosfaatlek. Die afgelope drie jaar groei die bulle gemiddeld 930 g/dag
vir 140 dae in die somer. Die gemiddelde daaglikse gewigstoename vir die winter is 621 g.

Produksieveilings en bulproduksie
Met die verbetering in die weiding, het Towton-Bonsmaras al tien produksieveilings gehou van bulle wat regstreeks van die veld af kom. “Ons rond bulle af in die kampe waar baie witbuffelgras onder die kameelbome groei. Hulle tel kameelpeule onder die bome op en kry verder net ’n sout-fosfaatlek. Die witbuffelgras se proteïengehalte is baie hoog en die res van die weiding is nie ouer as twee maande nie. Weiding wat twee maande oud is, se proteïeninhoud en verteerbaarheid is byna die helfte hoër as veld wat ouer as vier maande is,” sê Williams.
Die bulle is 2½ tot 3 jaar oud en het geen veldaanpassingsprobleme nie.
’n Veldbrand het in Oktober 2010 ’n derde van Towton se veld afgebrand. Baie kameeldoringbome het doodgebrand, met die gevolg dat daar baie minder peule was. “Ons het dus vanjaar vir die jonger bulle, wat meer pro­teïene en energie nodig het, twee keer per week ’n sak Supermol gegee, teen 3 kg per bul per week. Die ouer bulle het steeds net ’n sout-fosfaatlek gekry,” sê Williams.
Hulle volg ’n osstelsel waarvolgens alle bulle wat te stadig groei of afgekeur word, gekastreer word. Hul osse word dan in ’n swak reëntyd aan voerkrale verkoop. Sodoende het hulle meer veld vir die teeldiere beskikbaar. Osse wat meer as 150 kg per jaar in gewig toeneem, is beslis lonend.
Hy sê sommige Kalahari-boere wat met skape boer, koop ná goeie seisoene beeste, maar verkoop dit weer ná ’n swak seisoen en pas só by die wisselende veldproduksie aan.
“Ek praat hoofsaaklik oor beweiding in ’n gebied met ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 300 mm. As die reënval laer en die grond sanderig is, word die grasse met kleiner blaaroppervlakte (minder verdamping), soos rondom- en gha-gras, belangriker,” sê hy.
Met ’n gemiddelde reënval van meer as
400 mm begin rooigras en ander grasse belangriker word.
Wanneer die gras se blaargroei einde April tot stilstand kom, kan bossies aanhou groei as die grond nat is. In die meeste veld is daar bossies wat uiters smaaklik is en ’n hoë voedingswaarde het. Bossies, soos klappiesbrak, teesuiker en duikerblom, is uitstekende weiding saam met gras.

Die verandering in die grassoortsamestelling (%) die afgelope

17 jaar
Grassoort    1994    2011    Gewenstheid
Vingergras     2     33    Hooggewens
Kalaharisandkweek     19     51    Hooggewens
Gha-gras     0     1    Hooggewens
Sandbuffelgras     3     0    Hooggewens
Knietjiesgras     22     2    Gewens
Blinkaarboesmangras     7     1    Gewens
Kleinvoëltjiesaadgras     3     0    Gewens
Langnaaldsteekgras     1     10    Minder gewens
Sekelgras     1     1    Minder gewens
Wit of eenjarige steekgras     42     1    Ongewens

Kategorie: Weiding
Bladsy 24 - 27
Kleurfoto's