Boerplan: Deurloop-hok katte se moses

Johan Norval

Is daar ’n veeplaas in Suid-Afrika waar probleem-diere nie ’n las is nie? ’n Gesoute planmaker en selfdoener van die Vrystaat het ’n oplossing vir ten minste ’n deel van die probleem.
Mnr. Christi Grobbelaar se jongste projek, wat hom ’n jaar besig gehou het, is ’n deurloop-vanghok vir rooikatte waarmee hy reeds betreklik goeie sukses behaal.
Grobbelaar, wat by Luckhoff boer, het al vorendag gekom met onder meer ’n goedkoop sonkragverwarmingstelsel, ’n praktiese hekknip, ’n waterkrip en ’n toestel wat kragonderbrekings verklap, maar daar is altyd nuwe uitdagings.
Hy het ’n deurloophok vir rooikatte nodig gehad. Toe hy na ’n paar boere se idees loer, het hy besef die grootste vereiste vir só ’n hok is dat albei deure gelyk moet val.
Verder word die meeste van die hokke te kort gebou. Daarom het hy sy hoklengte op 2 m gestel, teenoor die gewone hokke van 1,3 m. Ná ’n bietjie kopkrap het hy op sy weergawe van ’n deurloophok besluit en begin bou.
Foto 1 toon die besonderhede van die knip wat die hek oop hou. A en C vorm ’n L van 90 grade wat om ’n bout (B) skarnier. D is ’n bout wat aan die stang (E) se punt vas is om die L-vormige skarnier in posisie te hou. Aan die ander kant van die stang is ’n ring vasgesweis wat op foto 2 van naderby gesien kan word.
Op foto 3 kan die L-hekknip van die buitekant gesien word, asook die hekslot wat keer dat die hek oopgaan as ’n kat onderdeur die hek sou probeer grawe.
Dié foto toon ook aan dat die stert van die slot ’n gaatjie het, waarvandaan ’n veertjie aan die raam geheg kan word om te voorkom dat die slot wegskuif as die hok op sy kant beland.
Die plasing van die trapplaatstang word op foto 4 gewys. Aan die punt van die stang van ronde yster is ’n mik wat die twee ringe van weerskante af in posisie hou.
Die mikstok se bene word so lank gesny dat die punte ongeveer 10 mm bokant die ringe uitsteek as die mik teen sy glypype vasdruk. Die glypype is lank genoeg dat die mik nie kan uitval wanneer die plaat afgetrap word nie.
Hierdie metode werk so goed dat wanneer die hekke val, net een klap gehoor word wanneer die hekke onder tot stilstand kom.
Foto 4 toon ook die samestelling van die trapplaat, die trekstang, die mikstok, die ringe en die montering.
Die sydelingse blik op die mikstok op foto 5 toon hoe die mik en glypype vaskom met ’n brugstuk wat gelyk lê met die bokant van die pypies.
Die brugstuk keer dus dat die ringe oor die pype gaan en help ook om die ringe op dieselfde hoogte te hou deur ’n gladde en gelyk oppervlak te vorm.
Foto 6 wys die hok as geheel en ook hoe die struktuur vir die deurkruip-kat of jakkals lyk.
As die trapplaat te lig afgaan, kan die A-stafie van die L-skarnier in foto 1 verleng word en bout B teruggeskuif word, sodat die hek op ’n langer hefboom druk en dus swaarder teen die mikstok trek. 

Landbouweekblad vra ...

Wat maak jou opgewonde oor die boerdery?
Die toepassing van moderne tegnologie in die landboubedryf. Iemand het eenmaal gesê: Meet en weet.
Wat is die grootste fout wat jy al gemaak het?
Dat ek nie vroeër in my lewe geleer het om stil te sit en dinge te oordink nie. Ons moet meer tyd in beplanning insit, dan sal ons minder foute maak.
Wie was jou mentor?
Een van my vorige hoofde, mnr. C. Strydom (van Rembrandt se ontwikkeling-en-navorsingsafdeling). Hy was iemand wat met slegs ’n ambag begin werk het en deur toegewyde werk toekennings van professionele ingenieurs ontvang het vir sy werk gelewer. Soos ons in die Weermag gesê het: Moenie gat-vas wees nie. Kyk rond en leer, selfs van ’n kind kan ons leer. As ons nie elke dag iets byleer nie, is dit ’n vermorste dag. Een van die beste leermeesters in die lewe is om uit ander se ondervinding te leer. Ek kan ook nie my pa, wat ’n ingenieur is, uitlaat nie. Soos hulle sê: Die appel val nie ver van die boom af nie.

Navrae: Mnr. Christi Grobbelaar, sel 073 747 2355, e-pos: zs4cgr@gmail.com.

Kategorie: Boereplanne/Hokke/Katte
Bladsy 50 - 51
Kleurfoto's