Gesinsafdeling: Nuut op die rak:  Speurroman sinister, boeiend

Jy-weet-wie

Skrywer: François Bloemhof
Uitgewer: Lapa. Die boek kos R180 en is by goeie boekwinkels te koop.
Niek Naudé is 39 jaar oud en in dieselfde bootjie as vele middeljarige, wit mans: Hy is afgelê; hy wat in die eerste helfte van sy lewe uitgesonder is om ’n uitblinker te wees, akademies en op die sportveld. Dis immers waarom sy mooi vrou, Elrisa, hom op hoër-skool gekies het bo sy teenstander, Zandré van der Westhuizen. Intussen soen sy vrou hom soos ’n familielid en hul dogter, Melanie, wil Mel genoem word. Dan reageer Niek op ’n koerantadvertensie wat uitbasuin: “Jy het nog nooit so maklik geld gekry nie. Nee, dis geen grap nie. Bel nou.” Sy moed begewe hom en hy druk die foon dood, maar die geheimsinnige Jy-weet-wie het nou sy nommer en bel hom terug. En ’n deur gaan oop wat liefs toe moes gebly het. Maar Niek is desperaat en het ’n kans nodig. Dan begin die poppe dans. Hierdie gevaarlike speletjie word ’n spannende verhaal vol draaie wat die leser aan die bladsye vasgenael hou . .

So se Francois

Wat is na jou mening daardie X-faktor in ’n spanningsroman wat lesers tot op die laaste oomblik vasgenael hou?
Onvoorspelbaarheid. En daar moet baie gebeur. Ek lees verskillende soorte boeke, maar self wil ek iets skryf waar ’n mens nie seker is wat jou te wagte is nie. Die karakters moet ook sterk genoeg geteken wees dat jy omgee wat met hulle gebeur. Hulle moet die intrige in ’n sekere rigting stuur, maar daar moenie só knaend op hul emosies ingegaan word dat dit ’n karakterstudie word met net een of twee spannende situasies tussenin nie. As daar te veel karakters is, raak dinge ook vir my erg verwater en onpersoonlik.
Lees jy graag ander spannings- en misdaadskrywers se werk?
Ek is bly jy onderskei tussen spanning en misdaad – so baie mense plaaslik besef nog nie daar is ’n hemelsbreë verskil nie en spanningsverhale, met hul minder rigiede riglyne, is hier steeds baie skaars. Ek sal enige skrywer ’n kans gee, maar vermy in die reël oorsese misdaadreekse waar ’n holrug geryde polisieman of ondersoeker telkens net nóg ’n nuwe saak aanpak. Die skrywers kry dit selde reg om dié persoon interessant te hou en dan val die resepmatigheid des te meer op.
Watter element van die spanningsgenre geniet jy die meeste?
Die uitdaging. Want spanning is moeilik om op die bladsy te skep – jy het nie flieks se vinnige redigering, donderende musiek en klankeffekte om jou te help nie. Maar dan, as jy daarin slaag om die leser se aandag te hou, het jy soveel meer rede om gelukkig te wees. Tot jy probleme ondervind met die intrige van ’n volgende boek, natuurlik! Ek geniet dit ook om met elke boek te probeer om dit nie te soortgelyk aan my voriges te maak nie; ook daarom dat ek graag nuwe karakters skep en nie terugval op oues wat vir my maklik sou wees om weer oor te skryf nie. Ek besef baie lesers hou juis van voorspelbaarheid, maar as ’n skrywer nie aanhou om homself uit te daag nie, kan ek nie verstaan hoekom hy sou wou aanhou skryf nie.
Drie gunsteling-boeke vir jou Kerskous?
Leonard Maltin se nuutste rolprentgids. Verder het ek regtig klaar te veel boeke vir my rakke. Ek hang dus eerder ’n baie groot Kerskous op en vra vir nog ’n boekrak. 

François Bloemhof het 19 jaar gelede op die literêre verhoog verskyn toe hy die De Kat-prys vir sy debuutroman Die nag het net een oog ontvang het. Dit is spoedig opgevolg met ewe gewilde boeke tot hy sy hand gewaag het aan moeilik klassifiseerbare werke, soos Storieboek, Hostis en Klipgooi. Hy is ook bekend vir sy jeugliteratuur en het ’n hele rits ATKV-Veertjies (’n kompetisie waar jong lesers sélf die wenboeke kies) ingeryg.

Wen 'n boek

Drie lesers kan elk ’n eksemplaar van Jy-weet-wie wen. Stuur jou naam, van, adres, telefoonnommer(s) en e-posadres voor of op 11 Januarie 2013 aan: slinde@landbou.com en meld in die boodskapveld: Jy-weet-wie-weggee.

Kategorie: Boeke
Bladsy  53