Nuus: Lusernsaad - Dodder-besoedeling laat gevaarligte flikker

Lusernsaadkopers moet bedag wees daarop om nie saad te koop wat nie deur ’n geregistreerde lusernsaadskoonmaker skoongemaak is nie. “Deur vuil lusernsaad te koop, betaal jy ook baie geld vir onkruid – dodder ingesluit,” waarsku mnr. Derick Engelbrecht, administrateur vir die Nasionale Lusern-trust (NLT) op Oudtshoorn.
Hy sê die voorkoms van dodder (Cuscuta comprestis) het in die jongste jare kommerwekkende afmetings aangeneem. Dié ernstige situasie word nou reeds  geruimde tyd by die trust se saadtoets-laboratorium waargeneem. Die laboratorium gradeer en ontleed lusernsaadmonsters.
Die voorkoms van dodder is op plekke só ernstig dat dit soms duidelik op plase in die landerye met die blote oog gesien word. Dié verklaarde onkruid mag ingevolge die Plantverbeteringswet (Wet 53 van 1976) nie in lusernsaad teenwoordig wees wanneer saad vir verkoop aangebied word nie.
Dodder is ’n parasitiese slinger­plant wat die lusernplant as gas­heerplant gebruik. Dit is ook bekend as “warkruid” of “monniksbaard” en is as ’n skadelike on­kruid verklaar. Dodder groei be­sonder vinnig en die saad is uiters hardskalig. Dit is nie ongewoon dat doddersaad wat ouer as tien jaar is, steeds kan ontkiem nie.
Dodder is nie ’n plant nie en het nie sy eie wortelstelsel nie. Dit het geen chlorofil van sy eie nie. “Wanneer lusernsaad wat met dodder besmet is, gesaai word, word die opkoms van die saad belemmer en die stand van saailinge sal drasties afneem. Dit lei tot groot verliese vir die koper,” waarsku Engelbrecht.
“Dit lyk of sekere lusernsaadprodusente bloot net nie meer omgee dat dodder op hul plase voorkom of nie. Die uitgangspunt is mos dat die saad in elk geval skoongemaak moet word,” sê Engelbrecht.
“Dit is egter ’n uiters ongunstige benadering. Juis nou, met die krisis in die volstruisbedryf, behoort produsente beter en meer aandag aan hul lusernsaad te gee. Hoe groter die besmetting met dodder, hoe groter is die afvalverlies tydens die skoonmaakproses – met ’n gevolglike verlies aan inkomste vir die produsent.”
Die bestryding van dodder is egter moeilik. Dit word gewoonlik op die land verbrand of uitgespit.
Daar bestaan wel chemiese middels wat gespuit kan word, maar dit moet streng volgens aanwysings gebruik word.
Vir inligting kan Engelbrecht gebel word by tel. 044 272 8991. Sy e-posadres is lusern1@mweb.co.za.
– JOHAN COETSEE

Bladsy 95