Dankbaar om te kan leer boer

Marleen Smith

Mnr. Ntsikelelo Baleni se skoolmaats wou prokureurs, dokters en rekenmeesters word, maar vir hom was daar nog altyd net een beroep: Boer. Hierdie toekomsboer werp alles in die stryd om bo uit te kom.
Op die oog af is die 20-jarige mnr. Ntsikelelo Baleni ’n doodgewone jong man wat ’n ruk gelede matriek geskryf het, en in meisies, sokker, rugby, klubmusiek en uitgaan saam met vriende belang stel.
Maar ’n draai op sy Facebook-blad wys Baleni, wat as die seun van ’n stamhoof in ’n afgeleë kommunale gebied in KwaZulu-Natal se suidweste grootgeword het, het hoër aspirasies. Die foto’s wat hy sedert Junie verlede jaar daar opgelaai het, wissel van ’n kudde melkkoeie wat hy in Januarie een oggend om 04:00, nog in die donker, afgeneem het; tot een van hom trots in sy “blue colars (sic)”, die oorpak waarin hy elke dag as assistent-bestuurder ’n melkery op die plaas Summerford buite Greytown in Kwazulu-Natal bedryf.
Op twee van sy ander foto’s is werkers wat ’n gebreekte spilpunt regmaak, en ’n gereedskapkas vol moersleutels: “…a real man’s handbag”, lui die byskrif.
Baleni en vyf ander werkers melk twee keer per dag 750 koeie in die melkstal met sy splinternuwe 60-punt-draaitafel. Hulle is in diens van mnr. Rob Tarr, wat nog ’n melkery op sy aangrensende familieplaas, Umvoti Villa, bedryf.
Sedert hy in Junie verlede jaar op Summerford ingeval het, staan Baleni soggens klokslag om 04:00 op, en saans is die werk dikwels eers ná donker afgehandel. Tussen die melkery deur help hy die plaas se aangeplante weidings onder besproeiing bestuur, help koeie wat sukkel om te kalf, leer hoe om kunsmatige inseminasie (KI) toe te pas en hoe om siek koeie te dokter.
Maar hy glimlag nog net breed. Hy kan nie uitgepraat raak nie oor hoe bevoorreg hy was om die geleentheid te kry om te leer boer. “Ek werk baie hard. Maar ek is net te gelukkig om hier te wees. ’n Mens raak verslaaf aan die melkery.”

Groeiende projek
Baleni is een van sowat 100 jong mense in die Future Farmers-program van me. Judy Stuart, ’n melkboer van die nabygeleë Curry’s Post buite Howick. Ses van sy kollegas op Summerford is ook deur Future Farmers daar geplaas.
Stuart, wat die groeiende projek al die afgelope sewe jaar bedryf, plaas jong mense wat wil boer, maar nie die geleentheid vir opleiding aan ’n formele instelling het nie, as vakleerlinge op kommersiële plase. Hulle begin dikwels teen die minimum loon werk, maar het dan die kans om hulself in die
landbou te bekwaam en ’n loopbaan oop te kap.
Dié wat presteer, kry die geleentheid om ná sowat twee jaar se opleiding op Suid-Afrikaanse plase vir ’n jaar in kommersiële boerderye in Amerika en Australië te gaan werk.
Vir Tarr was Baleni die ideale kandidaat om die moderne nuwe melkstal op Summerford te help bedryf. Dis ’n betreklik gespesialiseerde werk en hy wou nie sy bestaande ervare span in Umvoti Villa se melkery van 650 koeie ontwrig deur van daardie lede Summerford toe te skuif nie. Baleni, met sy matriek-kwalifikasie en ywer om te leer, slaag tot dusver die toets, meen Tarr.
“Ja, hy was ’n redelike groentjie toe hy op die plaas aangekom het. En ek stel hoë eise aan hulle (die Future Farmers-vakleerlinge), want dit moet soos ’n toets wees; dis ’n baie groot geleentheid wat hulle kry. Maar hulle is honger om te leer. Ek kan dit agterkom uit die baie vrae wat hulle vra as ons werk.”
Dit is vir Tarr belangrik dat Baleni en die ander Future Farmers leer dit help nie om na die Regering te kyk vir werk nie. Jy moet inspring en jouself help. Hy vertel van sy pa, Jeff, wat met net standerd 8 agter sy naam begin boer het, en deur blote harde werk ’n groot boerdery tot stand gebring het.
“Hulle (Baleni-hulle) het ’n selfs beter kans om ’n sukses te maak, want hulle het matriek. Hulle moet besef jy kry niks reg nie tensy jy bereid is om hard daarvoor te werk.”
Baleni lyk bereid. Hy vertel hy wou van kleins af niks anders doen as boer nie. Hy het in graad 3 al na die familie se bokke en skape begin omsien, en met die hand en ’n emmer koeie gemelk. Sy pa, mnr. Nkosi Lawrence Baleni van die Mabandla-gemeenskap buite Umzimkulu, het nog altyd ’n groot voorliefde vir die landbou. Dié gemeenskap, wat elf kommunale nedersettings insluit, besit
7 500 ha grond tussen Creighton en Franklin in die suide van KwaZulu-Natal. ’n Deel hiervan is ’n bosbou-plantasie op 1 200 ha.
Die Mabandlas, onder die leiding van Baleni se pa, word deesdae in bewaringskringe wyd aangeprys vir hul omvattende ontwikkelingsplan, wat op ’n volhoubare model van winsgewende boerdery en eko-toerisme in harmonie met natuurbewaring geskoei is. Hul Umgano-projek, ter waarde van miljoene rande, word as ’n bloudruk-model vir bekostigbare en volhoubare landelike ontwikkeling vir die hele Suid-Afrika voorgehou.

Toekomsplanne
Baleni, die naasoudste seun, het net een toekomsplan: Om mettertyd met die kennis wat hy nou opdoen, na sy familietuiste suid van die Ukhahlamba-Drakensberg-park terug te keer en ’n kommersiële melkery tot voordeel van die hele gemeenskap op hul grond daar tot stand te bring.
Hy het in 2011 aan die Hoërskool Ixopo matriek geslaag en destyds sy visier op die Landboukollege Cedara ingestel. Tot sy bittere teleurstelling moes hy hoor dat sy matriek-kwalifikasies nie voldoende was om vir ’n Cedara-kursus in aanmerking te kom nie omdat hy nie die nodige vakke agter sy naam gehad het nie.
In dié tyd het hy van Stuart se Future Farmers-program gehoor. Drie maande later het hy ’n stap nader aan die verwesenliking van sy lewensdroom gekom toe hy vir die Tarrs begin werk het.
Hy meen dié praktiese opleiding is veel beter as wat hy op enige ander plek sou kry. Hy hou die heel meeste van die tye wanneer hy saam met Tarr in die kraal is waar hy KI doen, en wanneer hy soveel vrae kan vra as wat hy wil.
“Stadig maar seker word my droom nou waar,” sê Baleni.
En op sy Facebook-blad lui sy inskrywing boaan die afdeling vir gunsteling-aanhalings: “DNT LIVE 2 DREAM, LIVE UR DREAM.”
Daaronder haal hy die evangelis Angus Buchan aan: As jou droom jou bang maak, is dit nie groot genoeg nie.

Opleidingsgeleenthede:  Só bou Judy boere vir die toekoms

Me. Judy Stuart van Curry’s Post buite Howick het die Future Farmers-program sowat sewe jaar gelede op die been gebring.
Die sowat 100 jong mense in die program kom amper uitsluitlik uit verarmde gemeenskappe, dikwels in landelike, kommunale gebiede. Hulle wil boer, maar sonder opleidingsgeleenthede slaan die meeste deure in hul gesig toe.
Stuart plaas die jong mense, wat ’n sterk belangstelling in die boerdery toon, as vakleerlinge op kommersiële plase.
Hulle begin heel onder op ’n plaas, gewoonlik teen die minimum loon. Vir dié wat presteer, is daar ná ’n jaar of twee se opleiding in ’n Suid-Afrikaanse boerdery die geleentheid om hul vaardighede oorsee, op plase in Amerika en Australië, verder te gaan slyp. Wanneer hulle terugkom, word hulle gewoonlik opgeraap deur plaaslike kommersiële boere onder wie die behoefte aan opgeleide en betroubare voormanne en plaasbestuurders groot is.
Hul salarisse verhoog dan van so min as R1 500 per maand voordat hul oorsee was tot soveel as R15 000 nadat hulle met die nuwe ondervinding en kennis teruggekeer het. Altesaam 14 is die afgelope sewe jaar oorsee uitgeplaas. Vier van hulle werk tans in Amerika en twee in Australië.
Die Saville-stigting, ’n private filantropiese organisasie, en Underberg se boerevereniging borg die program.

Foto's:

Me. Judy Stuart, die vrou agter die Future Farmers-stigting.

BO: Mnr. Ntsikelelo Baleni (links) en sy werkgewer, mnr. Rob Tarr, by die nuwe melkstal op Summerford.

LINKS: Mnr. Ntsikelelo Baleni op Summerford buite Greytown, waar hy die afgelope jaar aan die stuur van ’n melkstal staan waar 750 koeie twee keer per dag gemelk word.

Vertel ons:

Wat dink jy van die Future Farmers-inisiatief?
Sal jy graag ’n vakleerling op jou plaas wou aanstel?

Vertel ons by http://www.landbou.com/jou-mening/praat-saam/ of stuur ’n e-pos aan ff@landbou.com.

 KORTom

Mnr. Ntsikelelo Baleni wou nog altyd net boer, maar sy matriekkwalifikasies was nie voldoende vir toelating tot die Landboukollege Cedara nie.
Baleni is, danksy die Future Farmers-stigting, in beheer van ’n moderne melkstal waar 750 koeie twee keer per dag gemelk word.

Kategorie: Toekomsboer/Summerford
Bladsy 22 - 23
Kleurfoto's