Gesinsafdeling - Nuut op die rak: Wanneer onskuld geneem word

Moord in die beloofde land

SKRYWER: François Bloemhof
UITGEWER: Human & Rousseau. Die boek kos R199,95 en is by goeie boekwinkels oor die land heen te koop.
’n Spanningsvolle roman oor ’n man in wie ’n onbekende mag stadig die oorhand kry. Die verhaal wentel rondom Samuel wat as seun reeds met die donker sy van die lewe kennis maak. Sy inisiasies in die grootmenswêreld (liefde, seks, die “reëls” van die ou Suid-Afrika, joernalistiek) van die 1970’s tot die 1990’s, is vervleg met sy obsessie met die skêrmoordenares Marlene Lehnberg. ’n Boeiende, intrigerende roman – die skrywer kry dit goed reg om die tydsgees en die manier waarop onskuld geleidelik verdwyn, oor te dra.

François Bloemhof is die skrywer van meer as 40 boeke vir die volwasse-, tiener- en jeugmark. Hy is meermalig in elke kategorie bekroon, insluitend vir sy eerste roman, Die nag het net een oog. Van sy pryse sluit etlike ATKV-veertjies in, waar lesers self hul wenboeke aanwys. Hy het ook sukses behaal met die skryf van tekste vir die verhoog en radio.

So se Francois
‘’Onskuld word nie verloor nie. Dit word geneem,’’ lui die lokteks van Moord in die beloofde land. Vertel ’n bietjie meer daaroor?
Ons praat te maklik van die jeugdige onskuld wat ons in ’n stadium “verloor”. Eintlik veroordeel ons onsself deur dit só te beskryf, asof ons agterlosig was. Daar is dikwels faktore wat meewerk om ons van ons onskuld te stroop en ons besluit mos nie wat alles met ons sal gebeur nie. Ons word hopelik wyser met die jare – só kry ons iets by op ons lewenspad – maar daarmee saam kan iets maklik in die slag bly.
Wat het Samuel,  die hoofkarakter, se obsessie met die destydse skêrmoordenares Marlene Lehnberg aangevuur?
Samuel Smit, die hoofkarakter, is in die vroeë gedeeltes van die boek ’n groeiende seun. Destyds was die Marlene Lehnberg-saak so sensasioneel as wat die Inge Lotz- en Oscar Pistorius-sake nou is. Dit is nie ’n boek óór Marlene Lehnberg nie en gee nie voor om die laaste woord te spreek oor hoe sy was en wat sy gedoen het nie, maar gaan oor die uitwerking wat sulke nuus op ’n ontvanklike gemoed kan hê, nie net op hom as jong seun nie, maar ook op sy latere lewe. Aan die begin stel hy hoofsaaklik in haar belang omdat sy mooi is en iets gedoen het wat hy nie van ’n meisie sou verwag nie, verál nie in die vroeë 1970’s nie.
Wat was die grootste uitdaging wat die boek vir jou ingehou het?
Al daardie navorsing! Omdat die boek van 1973 tot 1994 afspeel, het ek baie meer “opgelees” as gewoonlik. Die probleem is dat min skrywers wat ’n klomp navorsing doen, die versoeking kan weerstaan om álles in te sit . . . Dan lê al die gegewens soos ’n berg in die pad van die arme storie. Ek wou seker maak die gebeure bly op die voorgrond en al daardie interessante feite verryk dit, maar verdring dit nie. Verder, omdat dit nie net ’n spanningsverhaal is nie, maar ook ’n familiesage met die Suid-Afrika van soveel jare gelede as agtergrond, moes ek seker maak daar is ’n balans tussen al die elemente.

Wen 'n boek:

Twee lesers kan elk ’n eksemplaar van Moord in die beloofde land wen. Stuur jou naam, van, adres, telefoonnommer(s) en e-posadres voor of op 30 Augustus aan: slinde@landbou.com en meld in die boodskapveld: Beloofde land-weggee.

Bladsy 103