Minder werkers vir meer diere

Glenneis Kriel

Om 2 000 beeste met net twee mans te hanteer, is ongehoord in Suid-Afrika. ’n Australiër het onlangs kom verduidelik hoe dit gedoen word.
Boere was onlangs stomgeslaan by ’n lesing oor die laestres-hantering van vee. Die aanbieder, mnr. David McLean, die hoofbestuurder van Resource Consulting Services (RCS) in Australië, het vertel hoe kuddes van tot 6 000 beeste in groepe van sowat 2 500 met net twee heeltydse werkers en twee skaaphonde met dié tegniek gehanteer word. Volgens hom maak dit nie saak watter soort honde of perde ’n mens gebruik nie, ’n skaaphond moet net nie die beeste aan die hakskene byt of aggressief wees nie. Die werkers span ook dikwels motorfietse of perde in om hulle te help, aangesien hulle oor groot afstande moet werk op plase van 3 000 ha en groter.
Die kursus is op Spier by Stellenbosch aangebied en is deur Landbouweekblad geborg.
Die tegniek is gebaseer op werk van mnr. Bud Williams en prof. Temple Grandin (sien die kassie vir meer inligting oor dié twee) en is gegrond op die natuurlike reaksie van tropdiere in die teenwoordigheid van roofdiere.

Gebruik sielkunde
’n Roofdier maak gewoonlik sirkels soos wat hy nader aan tropdiere beweeg en soek ’n swak prooi. Die roofdier se bewegings veroorsaak angs in die tropdiere wat veroorsaak dat die tropdiere vir veiligheid nader aan mekaar bondel. Dít is ’n natuurlike instink – die meeste diere en selfs mense reageer so wanneer hulle aan stres blootgestel word.
As die roofdier te naby aan die trop beweeg, sal die diere se angs in vrees oorslaan. Die natuurlike reaksie op vrees is om te veg of te vlug en dit is dan wanneer diere gewoonlik wild begin hardloop en hulself beseer. Met laestres-veehantering poog die veehanteerder om soos ’n roofdier ’n bietjie angs in die trop te veroorsaak en só die beweging van die trop te manipuleer. Die druk wat uitgeoefen word, is egter kortstondig en net op die rand van die diere se gemaksones. Dit moet nooit so erg wees dat dit in vrees oorslaan nie. “Sodra ’n dier doen wat jy wil hê, moet jy hom beloon deur weg te beweeg,” verduidelik McLean.
Hoewel die vee oorspronklik op ’n impuls van angs reageer wanneer die veehanteerders op dié manier met hulle werk, sal die diere ná ’n ruk die gedrag aanleer en met min moeite reageer soos wat die veehanteerder wil hê, sonder om angstig te wees. Die veehanteerder moet egter van die begin af ’n rustige, kalm atmosfeer skep sodat die diere besef dat hulle niks het om te vrees nie. Die resultaat is dat onnodige beweging tot die minimum beperk word, wat sal lei tot minder vee- en werkerbeserings en skade aan infrastruktuur én beter produksie. Diere is onder minder stres en is dus minder vatbaar vir siektes, hulle sit makliker vleis aan,  en die kans is ook minder dat vroulike diere sal aborteer en melkverliese sal ly.

Só werk dit
Volgens hom is daar net twee basiese goed wat ’n veehanteerder wil hê ’n kudde moet doen, naamlik beweeg of staan: “Moenie  gemengde boodskappe aan ’n kudde gee nie, want dit gaan hulle verwar en veroorsaak dat jy sukkel om hulle in die toekoms te hanteer. As jy iets nie reg doen nie, moet jy dit liewer los anders gaan jy die kudde slegte gewoontes leer.”
Om ’n kudde te kry om volgens dié tegniek te beweeg, Is die volgende agt punte belangrik:
 1. Die veehanteerder moet rustig, sonder om te fluit, skree of swepe te klap nader aan die vee loop. Die hoofdoel in dié stadium is om die diere te laat saambondel.
2. “Veehanteerders moet groot bewegings agtertoe en vorentoe maak op te rand van die trop se gemaksone (sien diagram), amper soos ’n groot ruitveër, sonder om individuele diere bedreig te laat voel of te veel spanning in die trop as ’n geheel te veroorsaak.”
3. Diere sal probeer vlug sodra jy te ver in hul gemaksones inbeweeg het. “Dink aan die trop asof dit ’n seepbel is – jy moet naby genoeg daaraan kom om dit te beweeg, maar nie te naby sodat dit bars nie. Diere se gemaksones sal afhang van die diersoort, die temperament en of die diere reeds gespanne is.”
4. Diere moet ook nie skrikgemaak word nie en moet die heeltyd weet waar jy is. “Jy moet die heeltyd met die diere praat. Vertel hulle ’n storie as jy nie kan dink aan iets om te sê nie, maar maak seker dat hulle jou die heeltyd kan hoor sodat hulle weet waar jy is. As die diere skrik, kan dit tot ’n halfuur duur voor hulle weer tot ruste kom en reg is vir hantering.”
5. Nadat die diere almal in ’n los bondel is, moet die veehanteerder druk uitoefen op die trop om in ’n sekere rigting te beweeg. Om dít reg te kry beweeg die hanteerder die kudde vorentoe en agtertoe. Al die diere moet in dieselfde rigting beweeg voor ’n poging aangewend word om die beweegrigting te verander – somtyds moet diere ook eers in die teenoorgestelde rigting loop om hulle te kry om in die gekose rigting te loop.
6. Daar is ’n punt van balans wat die beweging van diere beïnvloed. By die meeste beeste sit dit op die dier se skouer. Wanneer jy van voor verby die bees se skouer sal loop, sal dit veroorsaak dat die bees vorentoe beweeg. As jy dus die diere wil kry om in ’n drukgang vorentoe te beweeg, moet jy van voor na agter verby hulle stap.
7. As jy wil hê die vee moet in ’n spesifieke rigting beweeg, moet jy in die teenoorgestelde rigting beweeg. Deur in dieselfde rigting te beweeg, sal jy veroorsaak dat die diere stadiger beweeg.
8. Kuddes het gewoonlik ook ’n spesifieke groepsdinamika. Sekere diere is eiesinnig en gebore leiers, terwyl ander gewoonlik stadig in pas kom – hulle drentel net saam. Wanneer kuddes beweeg word, moet jy die leiers identifiseer en druk op hul plaas wanneer jy wil hê die trop moet beweeg. Die res van die trop sal dan met min moeite by die beweging inval.

Probleemdiere
Volgens McLean is dit oor die algemeen moeiliker om ou diere, wat reeds jare lank verkeerd gehanteer is, nuwe gedrag aan te leer. Soms kry ’n mens spesifieke diere wat nooit wil saamwerk nie. Op lang termyn is dit beter om van sulke diere ontslae te raak.
Die tegniek werk nie op mak diere, soos hanslammertjies, nie. Hulle het amper glad nie ’n vlugsone nie omdat hulle so gewoond is aan mense. Sulke diere moet liewer gelei word.
McLean het afgesluit dat die psige van veehanteerders net so belangrik is vir sukses as om die tegniek reg te doen. “Veehanteerders moet hul werk geniet en selfversekerd met die diere werk. As jy weet jy moet die
volgende dag iets moeiliks doen, maak seker dat alles reg is daarvoor en doen dit eerste ding in die oggend wanneer jy, jou honde en die diere vars is.
Maak verder seker dat jy regkry wat jy wou bereik, anders het jy waarskynlik die diere slegte gewoontes aangeleer en sou dit beter gewees het om eerder nié die tegniek te gebruik nie. Moet ook nie bang wees vir verandering nie. As iets nie werk nie, verander wat jy doen.”
 
SÓ SÊ SA boere
RCS Suid-Afrika bied reeds sedert 2004
kursusse aan oor die laestres-hantering van vee. Tot dusver het meer as 70 boere dié kursusse bygewoon.
Prof. Louw Hoffman van die departement veekunde aan die Universiteit Stellenbosch sê die beginsels is nie nuut vir goeie veeboere in Suid-Afrika nie. Die meeste goeie veehanteerders is instinktief bewus van die veg-vlug- en punt-van-balans-beginsels waarvan daar in dié kursus gepraat is en dat beeste in die teenoorgestelde rigting van jou sal beweeg.
Hoewel Suid-Afrikaners nie so sterk steun op die gebruik van honde en perde tydens veehantering nie, ís daar boere wat perde gebruik. Daar is ook boere wat honde begin gebruik om te help, maar dié praktyk is nog nie so gewild nie omdat dit moeite is om ’n hond goed op te lei. Verder is sommige boere bang dat die honde dalk kleinwild mag jag.
Suid-Afrikaanse boere besef ook dat geraas nie doeltreffend is nie en al hoe meer veehanteerders fluit nou pleks van skree en slaan.
Mnr. Gerrit van Zyl pas al die afgelope twee jaar laestres-veehantering op sy Bonsmara-stoetery op Dewetsdorp, Vrystaat, toe. Anders as Hoffman meen hy dat Suid-Afrikaanse boere oor die algemeen net 70% van die beginsels van laestres-hantering bewus is, maar dit is die ander 30% wat die verskil op ’n plaas maak.
“Ek meen die probleem in Suid-Afrika is dat te veel boere nie heeltemal bewus is van hoe die vee in die veld of in die kraal gehanteer word nie, hulle weet dus ook nie wat gedoen kan word om diere rustiger te hanteer nie. Selfs op ons plaas vind ek dat die diere onrustiger is as my werkers miskien ’n bietjie laat opdaag en nie die beginsels goed toepas nie.”
Hy sê baie boere se krale, byvoorbeeld, is nie groot genoeg om vir die vegvlugsone van die beeste te voorsien nie. Dit maak die hantering van die beeste moeilik omdat ’n mens die heeltyd in hul persoonlike ruimte inbeweeg. Verder is daar ook gewoonlik te veel werkers in die kraal, wat beteken dat daar die heeltyd iemand êrens is waar hy nie moet wees nie.
Die beeste se eerste keer in die kraal moet ook ’n goeie ervaring wees – as die beeste eers vir een man geskrik het of as jy die eerste keer wat die beeste in die kraal is hul horings brand, gaan jy in die toekoms sukkel om hulle weer daar in te kry. Van Zyl maak kraalervarings aangenaam deur te verseker alles word rustig gedoen: “Niemand skree of loop vinnig nie.”
Van Zyl sê hy dink die hoofrede waarom die beginsels nie baie wyd toegepas word nie, is omdat boere nie daarvan bewus is nie: “My mond het oopgehang toe ek die eerste keer gesien het hoe ’n cowboy in Amerika man­alleen ’n trop van duisend beeste aanjaag. Ek was bly toe ek sien dit werk by my beeste ook.”
Hy voeg by dat veeboere met allerhande kursusse oor teelmateriaal, prestasietoetsing, voeding en dieregesondheid gepeper word, maar daar is betreklik min kursusse oor lae­stres-veehantering, soos wat RCS aanbied. Van Zyl het sowat 900 beeste en boer op 2 500 ha.
Mnr. Angus McIntosh, wat met gemengde beeste by Spier boer, sê sy plaaswerkers kan nie ophou praat oor die goed wat hulle by die werksessie oor lae-stres-veehantering geleer het nie en dit maak ’n yslike verskil op die plaas.
Hy het tans drie mans wat met sy 250 beeste werk. Hoewel veehantering nou doeltreffender is, gaan hy nie minder veehanteerders in die toekoms gebruik nie, aangesien hy sy beeste gaan verdubbel soos wat hy sy weidingsgebied vergroot. Hy het tans 74 ha onder besproeiing wat hy tot 130 ha wil uitbrei.

Nuttige tegniek -Die grondleggers

Daar is twee mense wat die fondasie vir laestres-veehantering gelê het. Dit is deur die Amerikaners prof. Temple Grandin en mnr. Bud Williams ontwikkel. Vir mense wat nie geweet het hoe die sielkunde agter die tegniek werk nie, het dit soms gelyk asof die twee besig was om met diere te toor as daar gekyk was na wat hulle met diere reggekry het.
Grandin is ’n doktor in veekunde en ’n professor aan die Universiteit van Colorado in Amerika. Sy het ’n klomp boeke oor goeie veehantering geskryf en pleeg oorleg met die veebedryf oor die gedrag van vee in Amerika.
Williams was net nog altyd bedrewe met diere en het wêreldwyd bekendheid daarvoor verwerf. Daar is, byvoorbeeld, stories van hoe hy in Kanada op sy motorfiets van rendiere tot ’n beer met die laestres-veehanteringstegniek na veiligheid laat beweeg het.

LBW vra ...  Mnr. David McLean

Mnr. David McLean het op ’n veeplaas in Suidwes-Queensland grootgeword. Sy familie boer met skape, beeste en bokke op die plaas wat 32 000 ha groot is. Hy het onlangs boere in Suid-Afrika oor laestres-veehantering tougewys gemaak. 
Hoe het jy by die laestres-hantering van vee betrokke geraak?
Ek het dit geleer en geoefen op ’n plaas waar ek in Noord-Queensland gewerk het. Die plaas was 30 000 ha groot en ek en nog ‘n werker het alleen al die vee gehanteer. Daar was sowat 5 000 beeste. 
Wat is die tipiese kuddegrootte waarmee jy werk?
Dit is gemiddeld 2 500 diere op ’n slag. Ons kliënte se kuddes wissel egter van 50 tot 10 000 diere.
Vertel ’n snaakse voorval.
Ek en ’n span werkers het een keer vee vir meer as 13 km aangejaag toe ons agterkom dat die ander span oral langs die pad diere vasgemaak het wat “wild” was. Ons het tot wie weet watter tyd daardie nag gewerk om al die diere op kraal te kry.

Foto's

LINKS: As jy van agter na voor in die drukgang stap, sal die dier gaan staan.

links onder: Mnr. Angus McIntosh. Hy boer met gemengde beeste by Spier net buite Stellenbosch.
 
middel onder: Mnr. Gerrit van Zyl, ’n beesboer van Dewetsdorp in die Vrystaat.
FOTO: Johan Norval

regs onder: Prof. Louw Hoffman van die departement veekunde aan die Universiteit Stellenbosch. Foto: verskaf

 KORTom

Vee moet rustig en met die minimum geraas gehanteer word.
Gebruik die diere se natuurlike instinkte om hulle te beweeg.
Plaas druk op diere net tot hulle doen wat jy wil hê.

Kategorie: Veehantering
Bladsy 24 - 26
Kleurfoto's