Kortliks: 'n Ekstra oog uit die lug

Onbemande helikopters en vliegtuie (drones) ontwikkel deesdae vinnig as ’n opwindende nuwe werktuig vir presisieboere.
In ’n Amerikaanse ondersoek na die kommersiële gebruik van robot-helikopters en -vliegtuie vir hul lugvaartowerheid is onlangs bevind dat presisieboerdery een van die belowendste markte vir dié tegnologie is.
En mense soos Chris Anderson, oud-joernalis, skrywer en deesdae uitvoerende hoof
van 3-D Robotics, ’n maatskappy wat elektronika en lugvaartuie vervaardig, meen die toekoms van boerdery lê dalk in dié robot-vaartuie.
Anderson, wat al op die tydskrif Time se jaarlikse lys van top-100-denkers was, het onlangs op ’n konferensie in Amerika gesê hy meen onbemande lugvaartuie gaan een van die grootste bronne van inligting in die landbou word.
Talle maatskappye en entrepreneurs het al sulke produkte spesifiek vir die landbou ontwikkel, en die Amerikaanse federale lugvaartowerheid is nou besig om die nodige reëls en regulasies vir hul wettige kommersiële gebruik teen 2015 saam te stel.
Die belangstelling het ook na Suid-Afrika oorgespoel. Mnr. Wesley Versfeld van Krugersdorp het drie maande gelede sy stokperdjie in ’n besigheid omgeskep en die maatskappy EasyUAV (die UAV staan vir unmanned aerial vehicles) gestig, wat robot-helikopters bou en verkoop. Sedertdien het hy al vier verkoop – twee vir veiligheidspatrollies, een vir landmeting en een aan ’n saaiboer van Noordwes.
Die boer gebruik die helikopter om sy gewasse se vordering en stand op die land na te gaan.
Versfeld sê hy kan nie voorbly om navrae te beantwoord nie. Sowat die helfte is oor tuie vir sekuriteitsdoeleindes, maar die res is oor presisieboerdery en landmeting.
Die sagteware waarmee die vaartuie toegerus is, word nie net gebruik om probleemkolle op die land na te speur nie, maar kan ook ingespan word om ’n 3D-model te bou om byvoorbeeld die beste roete vir ’n nuwe pypleiding te identifiseer.
Die soort kamerastelsel wat die tuig het, bepaal die soort inligting wat ingesamel word. Dit wissel van gewone stilfoto’s en video in hoë resolusie tot infrarooi-foto’s.
Met gevorderde kameras wat hittewaarneming en multi-spektrale foto’s neem, kan die onbemande vaartuig selfs gebruik word om groeiprobleme en plantgesondheid na te speur wat nie met die blote oog of ’n gewone lugfoto gesien kan word nie.
Die inligting wat ingesamel word, kan ook gebruik word om plaag- en onkruidbestryding en bemesting te verfyn deur toediening tot probleemkolle te beperk.
Versfeld sê feitlik enige moderne digitale kamera kan met die hulp van ’n filter omskep word om infrarooi-foto’s vanaf die tuig te neem. ’n Spesiaal aangepaste kamera kan ook teen sowat R40 000 ingevoer word. Die sagteware is redelik duur. Uiteindelik kan die koste van so ’n toegeruste, onbemande tuig in die omgewing van R100 000 draai.
— MARLEEN SMITH
Foto: ’n Onbemande robot-helikopter neem videomateriaal in ’n wingerd. Aangesien die helikopters goedkoop is en relatief laag vlieg, kan dit gedetaileerde inligting oor wingerde, boorde en landerye versamel. Boere kan hul plaagbestryding daarvolgens aanpas of klein verskille in die grond se produktiwiteit waarneem. Foto: www.huffingtonpost.com

Bladsy 30