Spesiale Fokus - Besproeiing: Hou oog op grondvog en spaar water

Liza Bohlmann

Dit is oral in die landbou van toepassing: Om te meet is om te weet. Hierdie gulde reël geld ook by waterbronbestuur en word al hoe belangriker in ’n era waarin die beskikbaarheid van water vir besproeiing ’n plaas kan maak of breek.
Monitering kan op meer as een ma-nier geskied en tegnologie, soos grondvog- en watervloeimeters, asook infrarooisatellietbeelde is maar enkele hulpmiddels wat die boer kan inspan om sy besproeiing te optimaliseer.
Maar hoe kan ’n boer op sy eie plaas en met sy eie begroting op ’n bekostigbare manier belê in sy eie produksiemonitering?
Grondvogmeters is reeds ’n hele aantal jare ’n bekende manier om grondvog te bepaal, maar dit is dikwels ’n onderbenutte bron van inligting. Die boer moet eerstens sy behoeftes rondom die moontlike inligting wat hy kan bekom, bepaal.
Aangesien elke plaas en boer sy eie behoeftes het vir grondvogmonitering en besproeiingstelsels in die lig van die be­skikbaarheid van water, is dit nodig om die regte vrae te vra voordat op ’n moniteringstelsel en diensverskaffer besluit word.
Is dit om oor- of onderbesproeiing te voorkom, om besproei-ingskedulering aan te pas by natuurlike reënval of om ’n kombinasie van hierdie presisieboerderybeginsels toe te pas?

KUNDIGE ADVIES
Mnr. Hannes le Roux, uitvoerende hoof van AquaCheck, sê dit is belangrik om van waterbestuur en monitering ’n voorrangsaak te maak. Verbruikers se groter bewustheid van die verantwoordelike gebruik van natuurlike hulpbronne en ’n groter klem op omgewingsvriendelike landboupraktyke plaas al hoe meer druk op boere om doeltreffender om te gaan met produksiemiddele. “Die mark verwag verantwoordelike watergebruik en sekere kleinhandelaars dring reeds aan op inligting oor hoeveel water in die verbouingsproses verbruik word.”
Goeie tegniese raad en ondersteuning is bykans net so belangrik soos die toerusting en sagteware wat gebruik word.
Me. Angelique Zeelie, ’n besproeiingslandboukundige by AquaCheck, sê die volgende dienste van vogmeterverskaffers is onontbeerlik: “Landboukundige interpretasie en ondersteuning is van deurslaggewende belang. Die landbousektor het toegang tot ongelooflike tegnologie wat sagte- en hardeware betref, maar die mens moet dié tegnologie reg aanwend en die inligting interpreteer.
“Die rol van ’n besproeiingslandboukundige is om na die boerderystelsel as geheel te kyk. Ons benader elke boerdery derhalwe holisties.
“Kennis van grond, agronomie, hortologie, klimaat en besproeiingstelsels moet as ’n gevallestudie gesien word, want dié instrument meet ontrekking. Ons wil tred hou met die fenologiese stadia van gewasse en bepaal wat die onttrekkingspatroon beïnvloed.
“Sodoende kan die stelsel dien as ’n bestuurshulpmiddel vir die boer wat selfs oesmanipulasie moontlik maak.”

VERSKILLENDE BOERDERYE
Grondvogapparate kan net so maklik gebruik word op lande met spilpuntbesproeiing as in vrugteboorde of wingerde. “Die groot verskil rakende eenjarige en meerjarige gewasse is dat die graan- en groentegewasse se grondvogapparate meestal nie permanent geïnstalleer word nie. Die redes daarvoor sluit in tydelike besproeiingspype, gewasrotering, grondvoorbereiding, asook trekkers en werktuie wat tydens oes- en planttyd bedrywig is,” sê Zeelie.
“Terselfdertyd verwys ons egter na die sogenoemde standaard-grondvogapparate.
“In sulke gevalle speel kundigheid en goeie advies ’n rol in die keuse tussen verskillende grondvogmeters en die aanwending daarvan. By weidings, byvoorbeeld, kan die boer ondergrondse grondvogapparate permanent installeer.”
Met die installering van grondvogapparate vir eenjarige gewasse moet die boer let op:
Tydsberekening. Moet dit nie te laat installeer nie. By aartappels is die belangrikste be­­-
sproeiingstydperk in die eerste drie tot vier weke. ’n Mens wil daarom nie dae of selfs ’n week se inligting verloor nie.
Die plasing van die grondvogmonteringspunt. In ’n mielieland moet gevra word of die apparaat as ’n verteenwoordigde meetpunt van die spilpunt dien rakende die plantestand, plaagbestryding, ens. Eindelik moet besluite oor die mielies se wateraanvraag geneem word op grond van die lesings wat by die meetpunt ontvang word.

KIES REG, GEBRUIK REG
Grondvogmeters kan by enige gewasverbouing gebruik word – van graan en vrugtebome tot groente of blomme. Grondvogmeters word selfs gebruik by droëlandgraan om die vordering van die groei deur die groeityd en die potensiële opbrengs te monitor. Die kombinasie van worteldiepte en gronddiepte sal bepaal watter lengte grondvogmeter gebruik moet word.
Tipiese aspekte wat gemeet word, sluit in grondvogontrekking en die grondtemperatuur wat deurlopend per sensor (en dus op verskeie gronddieptes) registreer.
Wanneer die grondvogapparaat met gerekenariseerde te-lemetrie gekoppel word, kan die data onmiddellik aan die boer beskikbaar wees. Dan kan vinnige en doeltreffende bestuursbesluite geneem word. Reënmeters word veral aan die apparate gekoppel. Bykomende sensors is ook beskikbaar.
Hierin speel rekenaarsagteware weer ’n belangrike rol, want dit kan ’n wye reeks inligting van verskeie bronne ontvang en ’n eenvoudige terugvoerbeeld
vir die boer skep.
Grondvogmeters meet tipies die voginhoud en grondtemperatuur op elke 10 cm. Na gelang van die lengte van die apparaat kan grondvog en temperatuur tot op ’n diepte van 1,5 m gemeet word. Deur die ontleding van die data op die meegaande sagteware kan die boer dan die volgende vrae beantwoord:
Op watter diepte vind die meeste vogonttrekking plaas?
Is daar enige langdurige toestande van anaërobiese toestande wat wortelvrot kan bevorder?
Ervaar die plant enige toestande van vogstremming?
Hoe doeltreffend was ’n be-sproeiingsiklus?
By watter grondvogstatus is die watergebruiksdoeltreffendheid van die plant optimaal?
Het enige loging van bemestingstowwe plaasgevind?

WINS EN WATER
Voorbeelde in die praktyk is talryk wanneer na die kostebesparingselement van grondvogmonitering gekyk word. Boere kan bespaar danksy beter besproeiingskedulering. Deur volgens die behoefte van die plant te besproei, word waterpompe minder gebruik en word bespaar op water en elektrisiteit.
Deur oorbesproeiing te vermy, sal die algehele opbrengs, wortelgesondheid en waterbesparing verbeter.
As meer water per seisoen be­skikbaar is, kan dié toegekende water vir uitbreiding van bedrywighede benut word.
Ongewenste faktore, soos sonbrand, kan verlaag word deur die grondvogstatus gedurende die warm maande noukeurig te bestuur en verkoelingsbesproeiing toe te pas wanneer nodig.
Langtermynvoordele wat die bemarkbaarheid van produkte betref, is ook haalbaar met die hulp van grondvogmeters.
“In die toekoms gaan waterverbruiksdoeltreffendheid selfs belangriker geag word as die koolstofspoor, want die neiging is om al hoe meer tonnemaat met minder water te produseer,” sê Zeelie.
Hoe kies jy grondvogmeters?
Mnr. Leonard Hein, bestuurder van agronomiese dienste by AquaCheck, sê verskeie punte moet oorweeg word voordat boere ’n grondvogmeterstelsel aanskaf:
Vir watter doel word die grondvogmeters aangeskaf?
Watter gewasse wil jy moniteer en hoe diep is hul wortels?
Hoeveel grondvogsensors word benodig om ’n akkurate verteenwoordiging van die plaas te gee?
Hoe verskil die grond op jou plaas?
Hoe sensitief is die sensors?
Wat kan die grondvogmeters alles meet en hoe maklik is dit om die inligting te verwerk en te verstaan?
Hoe kommunikeer die meters data (koordloos, radiosein of GPRS)?
Wat is die grondvogmeters se datakapasiteit?
Is dit maklik om die stelsel te onderhou (weerbestand, batterykrag, sonkrag, bewese rekord van betroubaarheid)?
Is dit moontlik om die inligting te integreer in ’n outomatiese besproeiingskedule?
Is agronomiese ondersteuningsdienste ingesluit?

Satelliet -tegnologie help aartappelboere in die Sandveld

’n Paar jaar gelede het die Nederlandse instelling WaterWatch in Wageningen saam met die WNNR die Sandveldprojek begin. Dié studie is deur die Wes-Kaapse departement van landbou, die Departement van Waterwese en die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinsituut gefinansier.
In die Sandveldstudie het die kollig grootliks geval op die waarneming en monitering van watergebruik by aartappels en of die besproeiingspraktyke in die Sandveld in die Wes-Kaap volhoubaar is.
Dié watergebruik, oftewel evapotranspirasie, is gemeet deur satellietbeelde se infrarooispektrum te gebruik.
Die watergebruiksdoeltreffendheid by aartappelboere in die Sandveld is gemeet op grond van hoeveel kilogram aartappels per kubieke meter water geproduseer word. Met monitering is onder meer in ag geneem wat die totale hoeveelheid water­gebruik teenoor die jaarlikse natuurlike aanvulling van die waterbronne is.
Van die waarnemings wat gemaak is, is dat die waterverbruiksdoeltreffendheid bykans dieselfde is tussen somer- en winteraanplantings van aartappels in die Sandveld.
Someraanplantings gebruik meer water as winteraanplantings, maar het ook ’n hoër opbrengs. In die studie op ses plase in die Sandveld is ook bevind dat die watertoediening meer as genoeg is vir wat die aartappelplante nodig het.

Foto's

BO: Die watergebruiksdoeltreffendheid van plase sal in die toekoms al hoe belangriker wees vir die verbruiker. Grondvogmeters kan bydra om presiese besproeiing vir ’n verskeidenheid van gewasse makliker toe te pas. Foto: AquaCheck
links: Vra die regte vrae voordat besluit word watter grondvogmeterstelsel die beste vir jou plaas sal werk. Sien ook toe dat die nodige agronomiese ondersteuningsdienste en naverkoopdiens beskikbaar is.

 KORTom

Die verskille in landerye en boorde in dieselfde streek of selfs op dieselfde plaas maak die noukeurige monitering van grondv

Bladsy 84 - 85
Kleurfoto's.