Gesinsafdeling: Nuwigheid - Dun plastiekraam maak byeboer se beursie vetter

Carien Kruger

Die maatskappy African Honey Bee is spesifiek gestig om arm gemeenskappe te help om lewensvatbare byboerderye op die been te bring. Die stigter meen boere moet ter wille van die koste so ’n projek saam met hul bure aanpak.
Volgens mnr. Guy Stubbs, stigter van African Honey Bee, kos ’n dunner heuningkasraam van plastiek pleks van die tradisionele hout, minder, hou langer én maak ’n beter wins vir die byeboer moontlik. Die Afri-frame is ’n dun raam van plastiek wat presies in die bestaande grootte heuningkaste (bekend as supers) pas.
Waar die tradisionele houtrame 35 mm breed is, is hierdie raam net 32 mm breed en daarom kan elf rame, pleks van die gewone tien, in een kas pas. Navorsing het getoon die gemiddelde ruimte tussen heuningkoeke in wilde byekolonies in Suid-Afrika is 32 mm.
Guy het African Honey Bee in 2007 gestig met die doel om mense in arm gemeenskappe te help om byeboere te word.
As deel van die proses om uit te vind watter toerusting en metodes die beste gaan werk, het hy in 2011 met mnr. Anton Schehle, ’n bekende in byeboerkringe, koppe bymekaargesit. Danksy advies van Anton en mnr. Craig Botha, ’n plastiekontwikkelaar, het Guy die Afri-frame ontwikkel.
Die plastiekraam het ’n beginstrook aan die onderkant van die boonste balk wat met byewas gesmeer word voordat dit in die super gesit word – ’n byewas-fondasie is dus onnodig. Guy sê omdat die byeruimte natuurlik is, bou die bye regstreeks op die gesmeerde beginstrook.
Omdat die raam so groot soos ’n heuningkas-raam is, is daar ’n korter afstand vir die bye om ’n koek van bo na onder te bou as om ’n koek op ’n broeikasraam (dubbel die grootte) te bou. Die byeboer kan die byekas vervoer sonder dat die koek van die raam afbreek. Wanneer die raam vol heuningkoek is, word dit liggies op die rand van ’n houer getik sodat die koek uitval. Dit beteken ou koek word nie weer gebruik nie en probleme met wasmot word voorkom.

Swaartekragstelsel
Guy sê hy span nie draad om die heuningkoek te ondersteun nie omdat hy nie uit­swaaiers gebruik om die heuning uit die koek te kry nie. Hy gebruik ’n eenvoudige swaartekragstelsel van verskillende filters waardeur die heuning drup. Só word die natuurlike geur van die heuning beter behou, sê hy.
Die middelste deel van die raam se boonste balk is aan albei kante 8 mm smaller om die koninginbye natuurlike vryheid te gee.
Stubbs sê hy gebruik gewoonlik drie supers vir ’n produksiegrootte swermkas. Die koninginbye lê in die middel van die kas en die heuning word van die kante af geoes.
Die raam is só ontwerp dat dit makliker skoon gehou kan word, want mikro-organismes, parasiete en swamme kan hulle nêrens tuismaak nie. Die raam weeg 90 gram vergeleke met ’n houtraam van soortgelyke grootte wat sowat 200 gram kan weeg.
Guy, wat uit Centurion werk, verkoop die raam teen R9 (BTW ingesluit) per raam, vervoerkoste uitgesluit. Die minimum hoeveelheid per bestelling is 33.

Inkomste  - Nektar vir opheffing

Byeboerdery kan vir arm mense ’n bron van inkomste bied, sê mnr. Guy Stubbs, stigter van African Honey Bee.
Guy is ’n bekroonde fotograaf en
beskryf homself as ’n Christen- maatskaplike entrepreneur.
Danksy beter bestuiwing bied byeboerdery ook die breër voordeel van beter oeste.
Volgens Guy verbruik Suid-Afrika sowat 3 000 ton heuning per jaar, waarvan een derde plaaslik geproduseer word. Hy meen die potensiaal vir plaaslike produksie is nader aan 10 000 ton per jaar.
African Honey Bee bied Saqa-geakkrediteerde leerlingskapopleiding in die onderneming se metode van byeboerdery en verkoop handleidings en toerusting.
Die onderneming het in 2011 ’n kleinsakeontwikkelingsentrum
vir byeboerdery in die Bosbokrand-omgewing begin.
Guy het bereken ’n byeboer met 30 kaste met sterk swerms bye se inkomste kan soveel soos die minimum jaarlikse plaaswerkerloon wees. Sy raad aan boere wat so ’n projek vir hul plaaswerkers wil aanpak, is om dit vir skaalekonomie saam met bure te doen.

Foto's

BO: Die plastiek-Afri-frame is dunner as ’n tradisionele houtraam. Dit beteken elf pleks van tien rame kan in ’n heuningkas pas. Omdat die “byespasie” reg is, bou die bye hul koek perfek op die beginstrook sonder dat ’n byewas-fondasie nodig is.
LINKS: Mnr. Nixon Kalumbu, een van African Honey Bee se byeboervennote, sny heuningkoek vol heuning uit ’n Afri-frame.
BO: Mnr. Guy Stubbs by byekorwe waarin die Afri-frame gebruik is. Hulle staan op African Honey Bee se spe­siale staander.
BO REGS: African Honey Bee se spesiale staander met hok en slot. Die byeboere leer om takke tussen die korwe te sit omdat dit bye help om hul pad terug na dieselfde kas te navigeer.
REGS: Só lyk die African Honey Bee-byekorf en pas die korf en die Afri-frame inmekaar.
Foto’s en grafika: GUY STUBBS

 KORTom

’n Heuningraam van plastiek hou langer.
Een ekstra raam kan in die heuningkas pas omdat dit dunner is.
Probleme met wasmot word voorkom omdat ou byekoeke nie weer gebruik word nie.


Kategorie: Bye en plastieraam
Bladsy 70 - 71
Kleurfoto's
Navrae: Kyk na die Afri-frame by www.africanhoneybee.co.za of stuur ’n SMS met die woord “katalogus” en jou e-posadres of faksnommer aan mnr. Guy Stubbs, sel 082 454 1028.