Nuwe produkte pasgemaak varsmark

Johan Coetsee

Die saadmaatskappy Hygrotech het vanjaar onder meer ’n rits nuwe tamatiekultivars gekweek. Dié kultivars behoort so reg in produsente en verbruikers se kraal te pas, want dit lewer groot vrugte met goeie houvermoë, aanpasbaarheid en uitstekende smaak.

Tamaties

1. Die tamatiekultivar Boudica is Hygrotech se nuwe, groot tamatie wat vrugte van meer as 200 g lewer. Hoewel die tamatievrugte groot is, is dit ferm met ’n goeie houvermoë. Boudica sal vanweë die grootte van die vrugte die beste in ooplandverbouing presteer. Tydens onlangse proewe in ooplandverbouing was dié kultivar se vruggroottes in ’n laat stadium van die bestes onder almal. Boudica spog met ’n siekteweerstand teen tamatie-geel-krulblaarvirus (tomato yellow leaf curl virus, TYLCV), die kromnekvirus (tomato spotted wilt virus, TSWV), tamatie-mosaïekvirus (tomato mosaic virus, ToMV), verticillium, fusarium ras 2, Altenaria-blaarvlek en knopwortel­aalwurm (Meloidogyne spp.).
2. Die tamatiekultivar SCX 767 is die jongste toevoeging tot die Seedcor-produklys en is wyd aanpasbaar deurdat dit in tonnels, op oop landee en onder skadunetstrukture geplant kan word. Die beste eienskappe van dié unieke kultivar is sy vruggrootte (150 g tot 200 g), sterk groeiwyse, vruggehalte en houvermoë. SCX 767 bied goeie weerstand teen die siektes TYLCV, TSWV, die fusarium-kroonvirus en wortelvrot (fusarium crown en root rot), aalwurm, verticillium, fusarium rasse 1 en 2 en ToMV.
3. ’n Nuwe saladet-tamatie is veral geskik vir verbouing in tonnels en skadunetstrukture. Die vrugte weeg tussen 100 g en 130 g en het ’n dik wand. Die vrugte is ferm en het ’n goeie raklewe. “Hierdie kultivar is nog in ’n ontwikkelingsfase, maar proefmateriaal is beskikbaar,” sê mnr. Hugo Burger van Hygrotech.
4. Marinika is die nuwe, rooi kersietamatie uit die Enza-stal en dra vrugte van sowat 20 g. Dit is veral geskik vir tonnel- en skaduhokverbouing. Die vrugte is ferm met ’n goeie smaak en houvermoë. Marinika het ’n besonderse weerstand teen ToMV, roesvlek A, B, C, D, E
(leaf mold), grysblaarvlek (grey leaf spot), Alternaria-stamkanker, fusarium-kromnek rasse 0 en 1 (fusarium wilt), fusarium-kroonvirus (fusarium crown), wortelvrot en bakteriesoorte (bacterial species).

5. Die kultivar FS995 is ’n nuwe, oranje pruimtamatie (plum tomato) met ’n hoë suikergehalte (Brix) en dra vrugte wat sowat 15 g weeg. Die vrugte is ferm en het goeie kraak-weerstand. Die kultivar is geskik om in tonnels en skadu­strukture te verbou. Die vrugte is oesgereed sowat 80 dae nadat dit geplant is. “Hierdie uitsonderlike kultivar is die moeite werd om te toets,” sê Burger.

SOETMIELIES

6. Hier bekyk mnr. Dennis Zettler (links) van die Wynland-boerdery naby Stellenbosch en Burger die nuwe soetmieliekultivars HTSP 1 en HTSP 2 wat tans beskikbaar is. Dié supersoetkultivars is geskik vir prosessering, vooraf-verpakking en die varsmark. Volgens Zettler, wat produkte vir verskeie supermarkte lewer, het hierdie kultivars die afgelope planttyd goeie uitpak­resultate gelewer. Vanweë die sterk agronomiese eien­skappe van die kultivars, is dit geskik vir vroeë én laat aanplantings in die Wes-Kaap.

Waatlemoen en spanspek

7. Die waatlemoenkultivar Dynasty is ’n Crimson Sweet-baster wat uit dieselfde teelprogram
as die welbekende Carmen-waatlemoen afkomstig is. Dynasty het ’n besonderse rooi vleis en gehalte wat hom in ’n hoër kategorie plaas as die meeste waatlemoenkultivars. Die vrug weeg sowat 12 kg en word vyf dae vroeër ryp as Carmen. Dié kultivar kan dus in die vroeë segment geplant word om ’n beter gehalte waatlemoen op die mark te plaas. Vanweë die aantreklike vleiskleur kan supermarkte dit ook as halwes bemark.
8. Die spanspekkultivar Karameza is die nuwe Eastern Shipper-kultivar met LSL-gene uit die Enza-stal wat nou vir die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar is. Karameza lewer vrugte van tot 1,8 kg met ’n klein saadholte, ferm vleis en ’n suikergehalte van bo 15 °Brix. Die kultivar het weerstand teen die fusarium-rasse 0, 1 en 2, asook poeieragtige meeldou-rasse 1, 2 en 5. “Boere wat spanspek vir die verwerkingsmark verbou, sal nie teleurgesteld wees met hierdie kultivar nie,” sê Burger.

Brandrissie

9. Die kultivar P179 is ’n kleiner Jalapeno-brandrissie met ’n hoë opbrengs en eenvormige vruggrootte en -vorm. Die vrugte verkleur van groen tot rooi ongeveer 95 dae nadat dit uitgeplant is. Die vrugte toon sterk weerstand teen vrugkrake en behou dus sy gladde voorkoms. Hierdie klein-tipe Jalapeno’s is geskik vir
die maak van Jalapeno-poppers wat in restaurante as voorgereg bedien word. Die vrugte is danksy sy goeie blaarbedekking goed teen sonbrand beskerm.

Soetrissies

10. Die kultivar Amistar is ’n rooi soetrissie (pepper) uit die Seedcor-stal wat vir ooplandverbouing geskik is. Dit het mooi blokkige vrugte met dik wande. Vanweë die groeiwyse en blaarbedekking word vrugte goed teen sonbrand beskerm. “Uit verskeie proefresultate in die Wes-Kaap blyk dit dat Amistar en Procraft mekaar goed aanvul wat vruggehalte en opbrengs betref.” Amistar het weerstand teen TSWV, die aartappel-Y-virus (potato Y virus), ToMV en bakteriese blaarvlek rasse 1, 2 en 3 (bacterial leaf spot).
11. Procraft is die nuwe, rooi oopland-soetrissie. Dit is die afgelope groeityd op verskeie plekke teen bestaande kultivars beproef en het goeie resultate getoon. Die kultivar is ’n sterk plant met ’n sterk groeiwyse wat blokkige vrugte met ’n medium-dik wand lewer. Die kultivar het ’n besondere weerstand teen bakteriese vlek rasse 1, 2 en 3 (bacterial spot), die aartappel-Y-virus rasse 0 en 1, die Tobamo-virus, TSWV en die tabak-etsvirus (tobacco etch virus). “Die vrugvorm bly tot in ’n laat stadium van die oestydperk behoue.”

 KORTom

Minstens vyf nuwe tamatiekultivars is onlangs bekend gestel om aan verbruikers en boere se vereistes te voldoen.
Twee nuwe soetrissie-kultivars is ideaal vir oopland-verbouing.
’n Waatlemoen-kultivar is daarop gemik om beter gehalte vir die vroeë marktyd te lewer. 
Die super-soetmieliekultivars is geskik vir prosessering, vooraf-verpakking en die varsmark.

Kategorie: Groente/Saad
Bladsy 56 - 57
Kleurfoto's