Kortliks: Draakvrug vul subtropiese mandjie aan

Boere in subtropiese produksiegebiede kan gerus oorweeg om die pitaya of draakvrug aan te plant, sê mnr. Guy Whitney, ’n si­trusboer van Tzaneen. Hy het jare lange ondervinding in die bemarking van sitrus en ander subtropiese vrugte op die internasionale mark.
Guy het vir 29 jaar in Amerika gewoon waar hy die subtropiese vrugtebedryf in ver­skeie hoedanighede in Kalifornië en Washington gedien het.
“Pitaya is een van die sogenoemde supervrugte en is vinnig besig om vastrapplek op die wêreldvrugtemark te kry. In Asië neem die vrug se gewildheid besonder vinnig toe en baie boere in Kalifornië is voornemens om hierdie vrug op groot skaal aan te plant sodra die droogte daar sy houvas op landboupruduksie verslap.”
Die kaktusagtige rankplant wat hierdie vrugte voortbring, het sy oorsprong in Mexiko, maar is oor die jare in ander dele van Sentraal-Amerika, asook in ander lande, soos Kambodja, Thailand, Taiwan, Maleisië, Viëtnam, Sri Lanka, die Filippyne, Indonesië, Japan (Okinawa), Hawaii, Israel, Australië, China en Ciprus, aangeplant.
Die gewig van die vrugte van verskil­lende kultivars wissel tussen 150 g en 600 g. In uitsonderlike gevalle kan vrugte selfs tot
1 kg weeg.
Volgens Wikipedia kan sade wat uit die vrugtepulp van ryp vrugte verwyder is, gedroog en geplant word. Steggies kan ook geplant word. Omdat dit ’n vetplant is, moet ’n mens waak teen te veel water. Sodra die rankplant ’n totale gewig van ongeveer
5 kg bereik, sal dit begin blom om vrugte te vorm.
Die plant blom gedurende die nag en maak staat op vlermuise en motte vir bevrugting. Soggens verwelk die blomme. Die plante kan tussen vyf en ses oeste per jaar lewer.
Die plant oorleef gemaklik temperature van tot 40 °C en doen veral goed in tropiese klimaatstreke met ’n matige reënval. Hoewel dit koue weerstaan, kan die plant nie lang blootstelling aan vriesende temperature verduur nie.
In teenstelling met die pitaya se kleurvolle en treffende voorkoms, het die vrug glo nie ’n skerp smaak nie en word dit vergelyk met kiwi of spanspek met ’n tikkie soetigheid.
Mnr. Derek Donkin, uitvoerende hoof van Subtrop, sê hoewel daar al boere is wat dié vrug in Suid-Afrika aanplant, is dit nog maar op klein skaal. Hy meen egter dat dit nog ’n belangrike rol in die subtropiese vrugtemandjie kan speel.
Hy sê hy het die vrugte onlangs op plaaslike winkelrakke opgemerk en meen daardie produkte kom uit Suid-Afrika. “As ’n groep, soos Checkers, dit begin aanhou, beteken dit daar is reeds ’n aanvraag op die mark daarvoor,” sê hy. – JASPER RAATS

Bladsy 28