Klimaatsverandering: Wes-Kaap eerste om nuwe klimaat te takel

Stephanie Midgley

Die Wes-Kaapse regering takel klimaatsverandering in dié provinsie met die SmartAgri-projek en was onlangs die eerste provinsie wat ’n klimaatsveranderingsraamwerk vir die landbou bekend gestel het.
Die huidige droogte beklemtoon die kwesbaarheid van die landbou as dit kom by klimaatuiterstes, en daar word verwag dat klimaatsverandering toenemend moeilike toestande vir boere sal skep. Dit vergroot die behoefte om boere en landboubesighede in die Wes-Kaap te ondersteun ten einde meer klimaatbestand te wees.
Hoewel boere daaraan gewoond is om op klimaatsveranderlikheid te reageer, sal daar in die toekoms meer en meer vernuwende oplossings gevind moet word om langtermynveranderings die hoof te bied. Die sektor moet saamstaan en gekoördineerd optree om te keer dat klimaatsverandering die landbou en voedselsekerheid destabiliseer en ekonomiese en landelike ontwikkeling ondermyn.
In ’n eerste gesamentlike poging het ’n konsortium bestaande uit die Wes-Kaapse departement van landbou en die departement van omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning die SmartAgri-projek (SmartAgriculture for Climate Resilience) in Augustus 2014 van stapel gestuur. Onder leiding van die Universiteit van Kaapstad se African Climate and Development Initiative (ACDI) is ’n provinsiale raamwerk vir reaksie op klimaatsverandering vir die landbou in die Wes-Kaap ontwikkel. ’n Plan om dit in werking te stel, sal in Maart vanjaar gereed wees.
Die doel van die projek is om praktiese en relevante reaksies vir die landbou in die Wes-Kaap te identifiseer en boere aan te moedig om praktyke wat volhoubaarheid verseker, in te stel.

VLOEDE, DROOGTES, HITTEGOLWE
Weerdata wys reeds dat verwarming plaasgevind het (in die algemeen 1 ºC oor die laaste 50 jaar), veral in die middel- tot laatsomer. Die data toon ’n afname in die aantal reëndae oor die provinsie heen, veral in die herfs en in die suidelike streke, maar met ’n toenemende neiging in die westelike streke in die lente.
Hierdie neigings word ook deur die landbougemeenskap waargeneem. Dit kan dui op ’n toenemend later begin en einde van seisoene. Daar is tans geen waarneembare neigings wat betref totale winter- of jaarlikse reënval in die provinsie nie.
Die Wes-Kaap ondervind gereeld vloede, droogtes en hittegolwe, en soms haelstorms. Hierdie gebeurtenisse het al ’n beduidende impak op boere gehad.
Vloede is die algemeenste probleem en veroorsaak die meeste skade en die hoogste koste wat betref optrede en herstelwerk. Van 2003 tot 2008 het ses sulke vloede plaasgevind vanweë geïsoleerde laagdrukstelsels. In die vloed van Junie 2007 in die Citrusdalstreek is plase van die buitewêreld afgesny, plaaswerkers ontruim en die sitrusoes ernstig ontwrig. Dit het beduidende verliese in uitvoerverdienste veroorsaak.

HAEL MEER ALGEMEEN
Gedurende die ernstige droogte van 2009 tot 2011 het boere in die oostelike streke, veral die Karoo, groot verliese gely. Die huidige droogte aan die Weskus tref veral Swartlandse graanboere.
Haelstorms is nie ’n gereelde gebeurtenis in die Wes-Kaap nie, maar daar is ’n skynbare neiging dat hael val op plekke waar dit nooit voorheen voorgekom het nie. Hael kan groot fisieke en ekonomiese skade aanrig. In November 2006 het ’n haelstorm Haarlem getref en skade ter waarde van R9,4 miljoen in 400 ha vrugtebome aangerig. ’n Groot deel van die vrugteoes is in November 2013 vernietig en baie oorlewende vrugte beskadig deur ’n swaer haelstorm in die omgewing van Witzenberg, Ceres en die Koue-Bokkeveld.

IMPAK VERSKIL
Hoewel die landbou vatbaar is vir klimaatskommelinge, toon die SmartAgri-projek dat die impak nie oral dieselfde gaan wees nie. Die skaal van die impak sal afhang van onder meer plaaslike boerderystelsels, waarmee geboer word en natuurlike hulpbronne. Sonder voldoende vroegtydige reaksie kan klimaatsverandering die toekomstige ontwikkeling in hierdie sektor beperk en werksgeleenthede en mense se lewensbestaan in gevaar stel.
Om op klimaatverwante risiko’s te reageer, verg besluitneming in ’n veranderende en onseker wêreld. Die Wes-Kaapse landbousektor pas by die veranderinge aan deur op die eise van die huidige klimaatsveranderlikheid en uiterstes ten opsigte van sosiaal-ekonomiese druk te reageer. Indien boere en hul vennote in die waardeketting toegang tot meer gepaste opsies het, sal hulle kan vernuwe en hul praktyke verbeter.
Op produksievlak toon die landbou in die Wes-Kaap ’n redelik goeie vermoë om by veranderinge aan te pas, met net ’n paar landbouprodukte wat waarskynlik in gevaar sal verkeer met ’n matige verwarming (tot in die middel van die eeu). Herstelvermoë kan egter verminder weens veelvoudige stresfaktore wat met die klimaat in wisselwerking is, ’n meer gereelde voorkoms van klimaatgebeurtenisse met onvoldoende tyd om te herstel en in die algemeen moeiliker toestande in van die meer marginale streke.

VOLHOUBARE AANPASSINGS
Hoewel daar strategiese optredes is, is die meeste optredes in dié stadium reaktief en op die kort termyn ingestel. SmartAgri se publikasie Status quo review of climate change and agriculture in the Western Cape verskaf ’n gedetailleerde ontleding van aanpassings wat reeds by verskillende kommoditeite plaasvind, asook dié wat nog ontwikkel behoort te word.
In die koringbedryf word die toenemende toepassing van bewaringslandbou beskou as ’n doeltreffende aanpassing teen wisselvallige reënval. Daar is talle bewyse vir die doeltreffendheid daarvan tydens die heersende droogte in die Swartland.
Vrugte- en wynboere gebruik ál meer die FruitLook-program om hul besproeiingsbestuur te verfyn en met minder water goeie oeste en gehalte te verkry.
Melkbeeste is besonder kwesbaar vir hittestres. Daarom verskaf boere ekstra skaduwee en drinkwater en pas hulle hul weidingsbestuur aan. Ook in die volstruisbedryf moet weidingsbestuur meer volhoubaar toegepas word ten einde grond te beskerm teen erosie weens droogtes en swaar reënval wat mekaar afwissel.
Maatreëls moet kragtig wees om ’n groot verskeidenheid toekomstige klimaatsmoontlikhede te weerstaan. Aanpassings moet met volhoubare ontwikkeling en werkskepping versoenbaar wees.
Die volgende benaderings is ’n beginpunt en moet verder ontwikkel word:
Beplanning vir klimaatsverandering en -veranderlikheid deur klimaatsmoniteringstelsels, weervoorspelling en klimaatsveranderingsprojeksies, die vermindering en bestuur van ramprisiko’s en die versekering en vroegtydige risikobestuur.
Volhoubare en aangepaste grond- en waterbestuur deur verbeterde besproeiingstegnologie en -skedulering; die uitroei van indringerbome; die rehabilitasie en restourasie van vleie; bewaringslandbou; beter waterbestuur en nuwe, volhoubare bronne van water; beter watergehalte; en beter grondbestuur.
Volhoubare en aangepaste gewasbestuur deur die ontwikkeling van hitte- en droogtebestande kultivars; terreinspesifieke keuses van gewasse en kultivars; geïntegreerde plaag-, siekte- en onkruidbestuur; die bestuur van eenjarige gewasse, byvoorbeeld deur buigsame plantdatums; tegnologie om stygende temperature te bestuur; en nuwe produksiegebiede.
Volhoubare en aangepaste lewendehawebestuur deur teling, raskeuse en plaag- en siektebekamping.
Volhoubare en aangepaste boerderystelsels deur diversifikasie of gemengde boerderye en geïntegreerde of organiese produksie.
Ekostelselgebaseerde aanpassing, wat insluit die gebruik van biodiversiteit en dienste wat deur gesonde ekostelsels verskaf word.

ENERGIE EN KWEEKHUISGASSE
Elektrisiteitsopwekking en die gebruik van vloeibare fossielbrandstowwe, soos diesel, veroorsaak kweekhuisgasvrystellings wat klimaatsverandering aanvuur. Energie is egter ’n noodsaaklike produksiemiddel in landbouproduksie en -verwerking. In die Wes-Kaap is die landbousektor vir 2% van alle energieverbruik en 5% van kweekhuisgasvrystellings verantwoordelik. Energiebronne word in verskillende stadiums van landbouproduksie en -verwerking gebruik, veral in die voorbereiding van grond, besproeiing, verkoeling en verpakking. Die belangrikste bronne van energie vir landboubedrywighede is diesel en elektrisiteit.
Daar word geraam dat die veebedryf sowat 16% van die provinsie se landboukweekhuisgasvrystellings veroorsaak (met die meeste daarvan van beeste afkomstig). Graan dra 28% by (waarvan koring die meeste), vrugte en wyn 55% (die grootste bydraers is kernvrugte en wyndruiwe).
Die landbousektor se ekonomiese mededingendheid moet in stand gehou en uitgebrei word. Dit behels die versekering van die internasionale aanvaarbaarheid van landbouprodukte uit die provinsie deur die omgewingsimpak van produksie te verminder en aan aanvaarde energieverbruiks- en emissiestandaarde te voldoen. Die sektor kan ’n beduidende rol speel in die strewe na verminderde kweekhuisgasvrystellings.
Navorsingsresultate vir die vrugte- en wynbedryf toon dat elektrisiteitsverbruik (veral vir besproeiingspompe, pakhuise en koelkamers), sintetiese stikstofkunsmis, dieselverbruik en verpakking die grootste bronne van kweekhuisgasvrystellings is. Maatreëls wat hierdie vrystellings moet verminder, sluit in die vermindering van elektrisiteitsverbruik deur doeltreffendheid te verhoog en na hernieubare (nie-fossiel-) energiebronne, soos wind- en sonkrag, oor te gaan en die doeltreffender en verminderde gebruik van stikstofkunsmis. Waar organiese afval hoog is, bied afval-tot-energie-tegnologie geleenthede om afvalverwante vrystellings te verminder en boere se afhanklikheid van die elektrisiteitsnetwerk te verminder.
Die ekstensiewe landbou kan ’n bydrae lewer deur die isolering van koolstof deur die herstel van weiveld, die vermindering van grondagteruitgang, die bevordering van bewaringslandbou en die presieser en doeltreffender gebruik van stikstofkunsmis.
Die sektor moet nou verder as reaksie vorder en strategies vir die nabye en medium-
termyntoekoms beplan. Daar is gebiede in die Wes-Kaap waar die landbou al hoe meer gemarginaliseer word weens wisselvallige reën en klimaatuiterstes, byvoorbeeld die noordelike streke van die Weskus, die Koupstreek (Laingsburg), die oostelike Rûens, die Bo-Langkloof en die Outenikwastreek.

GELEENTHEDE
Party landbou-ekologiese streke kan baat vind by relatief gunstige klimaatsveranderinge, soos matige verwarming met stabiele of selfs verhoogde reënval. Dit geld veral die Suid-Kaap, die matige kusstrook tussen die Indiese Oseaan en die Outeniquaberg en dele van die Rûens waar water beskikbaar is.
In ander gevalle kan ’n verskuiwing na lewenskragtiger gewasse en soorte lewende hawe en boerderystelsels die landbou teen verdorring beskerm sonder om winsgewendheid of werksgeleenthede te benadeel.
Geleenthede vir groei in die waardeketting moet deeglik oorweeg word teenoor die risiko’s en die impak van klimaatsverandering, waaronder die kwessie van die beperking van die hulpbronne wat daarvoor nodig is.
Die oorgang vanaf die blote meting van die koolstofspoor van die landbou na die vermindering daarvan moet gemaak word, en met die regte beleidsondersteuning. Baie van die moontlike versagtingsopsies het potensiaal vir finansiële voordele (soos koolstofkrediete) of dui op aanpassingsvoordele wat tot ’n groter produksiepotensiaal lei (byvoorbeeld goedkoper energie en bewaringslandbou).
Die Wes-Kaap sal op kort en mediumtermyn waarskynlik ’n sterk landboustreek bly mits beplanning die toekomstige klimaat in aanmerking neem en gepaste ondersteuning verskaf word. Die Wes-Kaapse departement van landbou onderneem om die volhoubare gebruik van water- en grondhulpbronne te bevorder en “klimaatslim” landbouproduksie te verhoog. Inisiatiewe wat reeds in werking gestel word, sluit in die FruitLook-program en die bevordering van bewaringslandbou.
Boere wat FruitLook gebruik, berig dat dit hulle gehelp het om verstoppings in ’n besproeiingstelsel en dreineringsprobleme te identifiseer, onder- en oorbesproeiing reg te stel, besproeiingskedulering by grondtipe aan te pas en ’n na-seisoenevaluering van besproeiingsdoeltreffendheid te doen. Meer as 60% van boere vind baat by beter waterbestuur. Meer as 40% het minstens 10% water bespaar en 10% het meer as 30% bespaar.
Bewaringslandbou word tans deur sowat 75% van Wes-Kaaps graanboere ingestel. Die heersende droogte het getoon dat boere wat hierdie tegnologie gebruik, verlede jaar wesenlik minder oesverliese gely het as hul medeboere. Die finansiële voordele van veral verminderde dieselverbruik blyk ook duidelik uit langtermynproewe.
Aandag moet gegee word aan rompslomp wat boere verhinder om by die veranderende klimaat aan te pas. Dié uitdaging vereis ’n gesamentlike poging waaruit geleenthede en vernuwing terselfdertyd kan vloei.

SÓ KAN WES-KAAPSE KLIMAAT VERANDER

Klimaatmodelleringstudies dui aan dat die gemiddelde jaarlikse temperatuur verder sal styg met 1,5 °C tot 3 °C teen die middel van die 21ste eeu vergeleke met die gemiddelde jaarlikse temperatuur wat van 1976 tot 2005 ondervind is.
Die grootste toenames sal waarskynlik in die binneland plaasvind en die kleinstes langs die kus danksy die matigende uitwerking van die Indiese en die Atlantiese Oseaan. Dit beteken die Wes-Kaap kan hoër minimum- en maksimumtemperature verwag, terwyl die getal koue dae en nagte sal daal en die getal baie warm dae en nagte sal styg. Die aantal koue-eenhede sal beduidend daal. Dit raak veral vrugteboere.
Die studies toon ook met ’n hoë vlak van sekerheid dat die provinsie se westelike dele teen die middel van die eeu en daarna ’n afname in winterreën sal ondervind. ’n Belangrike verandering sluit in ’n suidwaartse verskuiwing in die frontale storms wat in die winter reën bring.
Die berge en die oseaan se invloed sal egter tot ingewikkelder gevolge op plaaslike vlak lei, veral wat reënvalsyfers betref. Op kort termyn kan hierdie invloede byvoorbeeld tot hoër reënval op die berge se windkant lei of veroorsaak dat reënval na die lente en die somer verskuif. Toekomstige veranderinge in die totale jaarlikse reënval sal grootliks afhang van die heftigheid van verskeie stelselreaksies op die veranderende globale klimaat. Aangesien die wetenskap in hierdie verband nog nie absolute sekerheid kan bied nie, behoort landbougemeenskappe die moontlikheid van ’n verhoging of ’n verlaging in reënval in ag te neem.
Wat byna belangriker is, is verskuiwings in die seisoene, aangesien dit ’n groot impak kan hê op die ontwikkeling en produkgehalte van baie gewasse. Veranderings in die ruimtelike verspreiding en uiterstes in reënval is ook waarskynlik, al is die mate en rigting van hierdie veranderinge nog onbekend. Droogtes, vloede en hittegolwe sal waarskynlik in die toekoms meer gereeld voorkom.

Foto's

Werksessies wat daarop gemik is om praktiese maniere te kry om die landbou in die Wes-Kaap meer klimaatbestand te maak, is verlede jaar op verskillende plekke in die provinsie gehou. Belanghebbendes wat die werksessie op Moorreesburg bygewoon het, is, van links, mnre. Theunis Smit en John Dürr van die Rooivleisprodusenteorganisasie in die Wes-Kaap en mee. Maret Scholtz van Nulandis, Nicole Wagner, senior landbou-ekonoom by die Wes-Kaapse departement van landbou, en Jean-Marie Strauss, rampbestuurder van die departement.

Die ontwikkeling van hitte- en droogtebestande kultivars, soos by  Roodebloem-proefplaas buite Caledon, kan help om klimaatsverandering die hoof te bied.

BO: Dr. Stephanie Midgley.

REGS: Die landbou is kwesbaar vir klimaatuiterstes wat waterbronne, soos die Clanwilliamdam, inkort. Daar word verwag dat klimaatsverandering toenemend moeilike toestande vir boere gaan skep. FOTO’s: AMELIA GENIS

WAT KAN BOERE DOEN?

Optredes wat op feitlik alle soorte boerderye van toepassing is, sluit in:
Stel boerderypraktyke in werking wat die grond beskerm. Meer boere moet bewaringslandboupraktyke aanneem (dit kan aangepas word vir vee- en vrugteproduksie) en aktief probeer om grondgesondheid te verbeter. Bewaringslandbou veroorsaak ook ’n toename in die grond se vermoë om water te behou en in die grond se organiese koolstofinhoud en biodiversiteit. Dit is ook belangrik om doeltreffende gronderosiemaatreëls in te stel.
Die verbeterde bestuur van oppervlak- en grondwaterhulpbronne om waterverbruik so doeltreffend moontlik te maak, waterverliese binne die stelsel te beperk en watergehalte te behou. Hou te alle tye ’n organiese grondlaag in stand en verwyder indringerplante wat baie water gebruik. Waterinfrastruktuur moet in stand gehou word om verliese en krisisse tydens droogtes te vermy. Opvangsgebiede en vleilande vereis bewaring en goeie bestuur. Hou ook die nodige ongerepte buffer tussen rivieroewers/vleilande en bewerkte grond in stand.
Natuurlike gevare en die uitbreking siektes en plae is ’n groot risiko, en boere moet voorkomende risikobestuur toepas. Dit behoort in te sluit: Leer by gevestigde boere met langtermynervaring van droogtes, omvattende vloed- en droogtebeplanning deur alle partye (boere en die Regering in vennootskap), aandag aan brandstrookbestuur en toegang tot die beste beskikbare weervoorspellings vir besluitnemingsdoeleindes. In die toekoms gaan die ontwikkeling van vroeëwaarskuwingstelsels met betrekking tot plae en siektes uiters belangrik wees.
Die vraag na verhoogde energiedoeltreffendheid en die gebruik van volhoubare energie op plase word deur die energiekrisis en klimaatsverandering aangevuur. Boere wat energie benodig vir besproeiingspompe en die instandhouding van die kouevervoerstelsel vir bederfbare produkte is besonder kwesbaar. Die gebruik van wisselspoedpompe en strategiese besproeiingskedulering kan pompkoste en waterverbruik beduidend laat afneem. Boere kan fotovoltaïese stelsels op die dak van plaasstrukture of by waterpompe laat installeer.

 Ligging

Wes-Kaap

 KORTom

Die Wes-Kaap is die eerste provinsie wat ’n klimaatsveranderingsraamwerk vir die landbou bekend gestel het.

As ’n gebruiker van natuurlike hulpbronne is die landbou besonder kwesbaar vir klimaatsverandering.

Bewaringsboerdery en besproeiings-bestuur en -skedulering is van die aanpassings wat boere reeds gemaak het.

NAVRAE: E-pos: smartagriwesterncape@gmail.com; webwerf: http://www.greenagri.org.za. Inligtingsboekies sal binnekort beskikbaar wees.

Bladsy 36 - 37
Kleurfoto's