Nuus: Vrugte-uitvoer:  Bedryf en staat vat hande

Danksy jare se harde werk aan beter verhoudinge tussen die varsvrugtebedryf en die staat kan nuwe uitvoermarkte moontlik saam ontsluit word. CARIEN KRUGER en FREDALETTE UYS berig.
’n Kundige sal binnekort in Pretoria by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye op die salarisrekening van die bedryfsorganisasie FruitSA aangestel word om aan uitvoerkwessies aandag te gee. Dít wys hoe sterk die vennootskapsgees tussen die varsvrugtebedryf en die staat al ontwikkel het.
“Ons as die vrugtebedryf het
besef ons sal met die Regering moet saamwerk as ons marktoegang wil bevorder,” sê dr. Kona-
nani Liphadzi, uitvoerende hoof van FruitSA.
“Ons weet die departement het probleme ten opsigte van menslike hulpbronne, wat die ontsluiting en handhawing van sommige markte vir ons vrugte belemmer. Weens besparingsmaatreëls kan die departement nie nóg personeel aanstel of mense rondskuif nie. Dis hoekom ons ons hulp aangebied het.
“Dié soort vennootskap is wat die Suid-Afrikaanse ekonomie nou nodig het.
“As ’n bedryf kan ons nie bekostig om net vingers na die Regering te wys nie; ons moet saamwerk om die gemeenskaplike doelwitte van ekonomiese groei, die skep van werkgeleenthede en armoedeverligting te bereik.
“Ons hoop ook hierdie stap gaan help om die vertrouens-
gaping tussen die Regering en die bedryf te oorbrug.”
Dié vlak van samewerking is in sterk kontras met die gaping wat daar tussen die partye was toe die uitvoer van sagtevrugte en tafeldruiwe na Thailand agt jaar gelede gestaak moes word weens administratiewe gesloer aan Suid-Afrikaanse staatskant.
Die rondetafel-beginsel, soos in die legende van koning Ar-
thur, waar dit gebruik is om te wys almal is gelyk, is gebruik om verhoudinge op te bou.
Mnr. Anton Kruger, hoof van die Varsprodukte-uitvoerdersforum (FPEF), sê die bedryf en die Regering het die Fruit Industry Value Chain Roundtable (FIVCRT) gestig om aan verskillende probleme aandag te gee, insluitend uitvoerkwessies.
Suksesse wat al bereik is, is dat Suid-Afrikaanse appels sedert Januarie laas jaar na China uitgevoer kon word en die eerste bokse tafeldruiwe in Januarie weer na Thailand uitgevoer is.

Beter kommunikasie
FruitSA en die departement teken binnekort ’n memorandum van verstandhouding waarvolgens ’n bedryfsverteenwoordiger na verwagting van 1 Julie af by die departement sal begin werk.
Liphadzi kon nog nie die persoon se naam bekend maak nie, maar sê dis iemand met die nodige ondervinding om die departement te steun.
Volgens mnr. Anton Rabe, uitvoerende direkteur van Hortgro, sal die persoon aan ’n aangewese direkteur verslag doen.
Die persoon sal verantwoordelik wees vir die verskillende vrugtebedrywe se behoeftes ten opsigte van marktoegang, tegniese kwessies, die opvolg van versoeke uit invoerlande en steun vir die ontwikkeling van uitvoerprotokolle. Rabe sê vir eers sal net een persoon vir slegs een jaar gesekondeer word.
“Dit is ’n ‘nuwe terrein’ en almal moet aan ’n nuwe manier van doen en samewerking gewoond raak.”

Holisties
Mnr. Johann Boonzaaier, landbou-ekonoom wat vir die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP) navorsing oor die vrugtebedryf doen, sê omdat sagtevrugte hoogs bederfbaar is, is logistiek en die bestuur van die koueketting van kardinale belang vir suksesvolle uitvoer.
“Dit neem ongelooflik lank om al die ‘papierwerk’ vir die finalisering van handelsooreenkomste vir uitvoermarkte gereed te kry. Dié dokumentasie moet bygehou word, wat onder meer die instandhouding van diplomatieke bande, skakeling en besoeke behels.”
Die BFAP het in 2011 ’n verslag uitgebring oor die invloed van die verbod op die uitvoer van vars Suid-Afrikaanse appels, pere en tafeldruiwe na Thailand.
Die organisasie het toe bereken dat die onderskeie bedrywe vanaf Januarie 2008 tot die seisoen van 2011 gesamentlik R442 miljoen se skade gely het, met die tafeldruifbedryf wat die meeste skade berokken is.
Boonzaaier sê só ’n situasie kan net voorkom word as daar samewerking op alle vlakke is.
’n Holistiese benadering is nodig waarby die Departement van Landbou en die bedrywe betrokke is, en wat almal in die waardeketting insluit, soos verskaffers van produksiemiddele, boere, produkhanteerders, verwerkers, bemarkers en uitvoerders.

Nuwe markte
Kruger én Rabe is optimisties dat hoewel alle probleme nog nie uitgestryk is nie, daar ver gevorder is danksy goeie samewerking.
Kruger sê een van die belang-
rike suksesse wat behaal is, is Indonesië wat Mutual Country of Recognition-status aan Suid-Afrika toegestaan het.
“Dit beteken Suid-Afrika is een van sewe lande wat die hawe van Djakarta mag gebruik. “Voorheen moes Suid-Afrika, saam met ander lande wat nie dié status het nie, die hawe van Surabaya (sowat 250 km van Djakarta af) gebruik het, wat reistyd van twee dae by die proses gevoeg het.”
Kruger sê daar word nog gewerk aan die verbetering van elektroniese sertifisering en dokumentasie, en om vir meer produkte toegang tot meer lande te kry. Suid-Afrika se belangrikste uitvoermarkte vir vars vrugte is Brittanje, die Europese Unie, die Midde-Ooste en Rusland.
Die potensiële uitvoermarkte wat nou ondersoek word, is China, Japan, Thailand, Suid-Korea, Indië, Indonesië, Vietnam, die Filippyne en Suidoos-Asië.

ou koeie
Na aanleiding van onlangse ongunstige beriggewing oor miljoene rande se skade aan die bedryf weens gestaakte uitvoer, sê Rabe dit help nie om by die verlede stil te staan nie.
“Ja, daar was sommige oorsigte en stadige reaksies wat ’n nadelige finansiële invloed op ons bedryf gehad het. En, ja, daar is sommige amptenare wat nie presteer soos ’n mens sou verwag nie.
“Maar dit sou onregverdig wees om die skuld vir alles op amptenare van die Departement van Landbou te pak.”

 UITVOER - SA SITRUS PRESTEER BO VERWAGTING

Die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf het verlede jaar R14,2 miljard uit uitvoer verdien, sê mnr. Deon Joubert, spesiale gesant vir marktoegang en EU-sake van die Suid-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (CGA).
Dit is sowat R5,2 miljard meer as die gewone jaarlikse uitvoer van nagenoeg R9 miljard.
Van die R14,2 miljard rand se uitvoer was R500 miljoen se sitrus vir versapping en ’n verdere R500 miljoen s’n het na Afrikalande gegaan.
Joubert sê Suid-Afrika se sitruskwekers presteer ongelooflik goed ten spyte van die vereistes wat die Europese Unie, Suid-Afrika se grootste uitvoermark, ten opsigte van swartvlek vir boere stel. “Ons boere pas onmiddellik aan by enige nuwe vereistes, soms selfs vinniger as wat die EU nuwe beleid aan sy kant in werking kan stel.”
Suid-Afrika wag byvoorbeeld nou vir die EU om uitsluitsel te gee oor watter hawes en invoerders Suid-Afrikaanse sitrus vir versapping mag ontvang kragtens ’n nuwe reël van die EU wat op 1 Junie in werking moes tree. “Ons boere het dadelik daarby aangepas om te voldoen aan die vereistes van die EU, maar nou wag ons op hulle,” sê Joubert.
Hy sê hoewel oponthoud aan die Europese kant niks ernstigs is nie en binne ’n dag of twee opgelos sal wees, getuig die hele situasie van Suid-Afrikaanse boere se erns met die EU se reëls en hul toewyding tot die uitvoermark. — JASPER RAATS

Bladsy 25