Groente - Bakteriee trek brakgrond se tande

Johan van der Merwe

Deur betroubare biologiese middele op sy brakgrond by Touwsrivier toe te dien om van die soute ontslae te raak, het mnr. Cordré Smith sy pampoenoes verdubbel.
Die goggas in die grond het skielik ’n goudpot geword vir mnr. Cordré Smith, groente-en-vrugteboer van die Erfdeel-boerdery tussen Ceres en Touwsrivier. Met die hulp van bakterieë kon hy die sout in die brakgrond op sy plaas naby Touwsrivier onskadelik maak en die pampoenoes van 29 ton per hektaar verlede jaar die afgelope somer meer as verdubbel tot 60 ton
per hektaar.
Cordré het al meer as vier jaar gelede die eerste keer gesien hoe magtig die mikro­skopiese wesens is toe hy uit nood ’n boord appels, wat lamgelê was deur die appelherplantsiekte, binne een seisoen met biologiese behandeling gesond gekry het.
Die biologiese middels wat Cordré gebruik, word deur BacTech, ’n Suid-Afrikaanse maatskappy, vervaardig.

Biologie g’n foefie nie
Die familie Smith het ’n ruk gelede die plaas Tiervlakte net buite Touwsrivier gekoop, waar daar al geruime tyd uitvoerpampoene verbou word. Die beste aangetekende produksie op hierdie brakgrond was 30 ton pampoene per hektaar.
In sy eerste seisoen op die plaas het Cordré besluit om pampoene te plant op ’n landery waar daar vir ’n paar seisoene vanweë die hoë soutinhoud van die grond nie meer met groente geboer is nie.
Die plaaswerkers was maar erg skepties, sê Cordré.
Mnr. Cillié (Rooitier) du Plessis, plaasbestuurder op Tiervlakte, kon egter sy oë nie glo nie. “Hierdie goed werk regtig,” meen Cillié, wat al 35 jaar lank met groente boer. “Te veel manne het al op die plaas aangekom met groot kanne vol donker foefies en blink beloftes. As hulle verdwyn, is dit net ek wat geld verloor. Selfs ná die eerste toediening het hierdie goed ’n verskil gemaak.”.

Kwesbaarheid verdwyn
Dis ’n yskoue winteroggend op Touwsrivier en die uieplantjies staan kwesbaar klein, maar groen op die rooi kleigrond. In elke agtste ry staan die plantjies egter yl.
“Ons het in die somer pampoene hier geplant onder ’n plastiekgrondbedekking met druppers onder die plastiek. Ons het deur die drupstelsel ’n week voor planttyd 300 ml van BacTech se NoSo+ per hektaar toegedien, weer op die tweeblaarstadium en weer net voor blom.
“Die pampoene is nie oor die volle oppervlak geplant nie. Ons het werkrye oopgelaat waar daar nie geplant of besproei is nie en daardie stroke grond het dus ook nie NoSo+ gekry nie.”
Die uiesaad is ná die pampoene oor die volle oppervlak gesaai – en ’n week voordat die plante moet groei, het die saad opgekom, sê Cillié.
Hy het geskrik, want daar was stroke wat glad nie opgekom het nie.
“Ek het eers gedink daar is iewers fout of ’n siekte. Toe ek teen die land afstap, sien ek die stroke waar die saad nie opkom nie, is presies daar waar geen pampoene in die somer geplant is nie.”
Cillié se enigste afleiding is dat die oneweredige opkoms deur die NoSo+-behandeling van die pampoene veroorsaak is.
“Dit het waarskynlik veroorsaak dat die behandelde grond steeds minder soute bevat en die stroke waar daar niks behandeling was nie en dus steeds baie brak is, steeds ’n buffer vir die saad se ontkieming bevat.
“Dis nie moontlik dat die oneweredigheid deur oorskietkunsmis veroorsaak is nie, want ons het ’n vol-oppervlakte voorplantbemesting daar gestrooi voordat ons die uiesaad geplant het, en daar is dus genoeg en ’n eweredige hoeveelheid kos in die grond,” sê Cillié.
Die NoSo+ is bakterieë wat natriumchloried ontbind en die natrium gebruik in die vervaardiging van aminosure, sê dr. Johan Kruger, die stigter van BacTech (sien ook die kassie op die volgende bladsy).
“Die aminosure word dan in die bakterieë se metaboliese prosesse gebruik en word uiteindelik ’n opneembare voedingstof vir plantwortels. Die proses laat dan die chloried-anione in die grond agter,” sê Johan.
Hy sê in die afgelope agt jaar dat NoSo+ gebruik word, het ’n chloriedprobleem nog nooit ontstaan nie.

Baie voordele uit een behandeling
Hierdie proses in die grond bring meer voordele mee as bloot om die soute uit die grond te verwyder, sê Cordré.
“Dit skep ’n mikroklimaat waarin grondlewe baie gretiger is om te floreer. Voedingstowwe is baie meer beskikbaar en die grond se struktuur en waterhouvermoë neem toe, juis omdat daar nou ’n meer diverse grondlewe moontlik is.
“Indien die verdubbeling in produksie van die pampoene nie ’n goed genoeg bewys is nie, dan is hierdie oneweredige opkoms van die uiesaad goed genoeg bewys vir my.”

Skop teen herplantsiekte
Cordré het egter nie meer bewyse nodig nie, want reeds vier jaar gelede het BacTech se biologiese produkte vir hom van groot verliese gered.
Hy het ’n blok appels gevestig nadat 12 hektaar se bome op kort kennisgewing beskikbaar geraak het. Ongelukkig was die enigste beskikbare grond onvoorberei en daar was voorheen appels geplant; die risiko van appel-herplantsiekte was dus groot.
“Ons het die grond met ’n skeurploeg diep losgemaak en geplant. Toe daardie somer kom, het die boompies gebot, maar van groei was daar nie sprake nie. Ek het besef herplantsiekte het dié boompies aan die keel beet.
“Ons het toe die volgende seisoen maandeliks, vyf maande lank, 1 000 liter kompostee en 1 liter Bactolife per hektaar deur die besproeiing toegedien. Die Bactolife bestaan uit ’n verskeidenheid Bacillus-bakterieë wat groei en wortelontwikkeling aanhelp. Die bome het stelselmatig begin herstel en vandag, drie jaar later, is daar geen teken meer dat hierdie boord op die randjie van vrek was nie,” sê Cordré.

Toekoms is biologies
Hoewel Cordré uitstekende resultate met biologiese middels behaal, het hy nog nie heeltemal afstand gedoen van chemiese middels nie. Hy glo egter dit is duur om teen die natuur te boer.
“Ek gebruik glad nie meer rooi-etiketprodukte nie. Dit is eerstens nie meer nodig nie en tweedens is dit vir my ’n beginselsaak – ek wil saam met die natuur boer en die hulpbronne wat dit inhou, soos predatore en natuurlike weerstandigheid teen siektes en plae, so goed moontlik benut.”
Dit is nog nie altyd moontlik om hierdie strategie ten volle toe te pas nie, maar Cordré glo dat hy binne die volgende dekade net biologiese produkte sal gebruik.
Tans dien Cordré 100 liter kompostee per maand per hektaar by sy vrugtebome toe en 100 liter per week per hektaar by sy groente. By sy vrugte dien hy ook tussen 500 ml en 1 liter Bactolife en Chitter per hektaar per seisoen in twee toedienings toe. By sy groente dien hy een maal per seisoen 500 ml elk van Bactolife en Chitter toe.

Insekte se moses
Chitter is saamgestel uit ’n verskeidenheid Paenibacillus-bakterieë, wat die chitinaseensiem vervaardig wat chitien afbreek. Die eiers en skelette van aalwurms, kalanders, sny­kewers en nog baie ander skadelike insekte bestaan uit chitien. Chitter sorg dus vir ’n drastiese afname in die getalle van hierdie plae in en op die grond.
Een maal per seisoen dien Cordré by die vrugte en groente ook 50 ml per hektaar van BacTech se Predator toe. Predator bestaan uit ’n versameling Beauveria- en Metarhizium-swamme wat op miere, kalanders, bloedluise, blaaspootjie en nog baie ander insekte parasiteer.
“Ons spuit niks anders meer vir bloedluis nie. Die ongeluk, egter, is dat ons nog nie ’n doeltreffende biologiese teenvoeter vir skadelike swamme het nie. Wanneer ons dan swamdoders spuit, maak ons die Predator-swamme ook vrek. Maar ek glo dit sal nie lank wees voordat daar doeltreffende, bekostigbare biologiese middels beskikbaar is om swamme te beveg nie,” sê Cordré.

Verhoog potensiaal
As Cordré sy sin kan kry, sal hy net biologiese produkte gebruik. Die resultate oortuig hom dat dit die volhoubare manier van boer is, en dat hy selfs die boerderypotensiaal mettertyd kan verhoog sonder om insetkoste te laat styg.
“Ons doen jaarliks in Maart blaaront­ledings op ons vrugte om te bepaal watter spoorelemente ons moet toedien ná die oes. Sedert my biologiese aanslag verhoog het, het my spoorelementtoediening met tot 75% verminder en party boorde het glad nie meer spoorelementaanvullings nodig nie.”
Dit is nie noodwendig die besparing wat hom opgewonde maak nie. “Dit is die goeie gesondheid en volgehoue voldoende voedingstatus van die bome wat voordelig is.”
Dit verbeter die gehalte en houvermoë van die vrugte, die bome bied meer weerstand en die opbrengs word uiteindelik verhoog.
“Deur die biologiese produkte is ek nou al bykans op ’n plek waar die boom se voedingstatus deurentyd optimaal is. Ek wil die boerdery, die grond veral, aan my seun oordra met ’n groter potensiaal as wat ek dit ontvang het. Die biologiese produkte stel my in staat om hierdie doel te bereik.”

Navrae: Mnr. Cordré Smith, epos: erfdeel@mweb.co.za, BacTech, e-pos: sales@bactech.co.za, tel. 034 325 9454.

Biologiese produkte ver van registrasie


Dr. Johan Kruger, ’n mikrobioloog van Newcastle in KwaZulu-Natal, het reeds 33 jaar gelede die navorsingsinstituut BacTech gestig met die oog daarop om biologiese antwoorde te kry vir siektes en plae in die landbou.
In die laboratorium op Newcastle isoleer en berei Johan en sy kollegas mikrobes voor wat in Suid-Afrikaanse gronde voorkom en doeltreffend in die landbousektor aangewend word. Die funksies van die mikro-organismes wissel van die vervaardiging van antibiotika tot stikstofbinding.
“BacTech is nie ’n kommersiële produsent van biologiese middels nie, maar ’n navorsingsorganisasie. Indien produsente kan baat vind by produkte wat uit ons navorsing voortgespruit het, sal ons dit aan hulle verskaf, maar ons vervaardig nie ’n voorraad van elke produk en smous dan soveel as wat ons kan aan boere nie,” verduidelik hy.
Geen van BacTech se produkte is geregistreer teen enige siekte of plaag nie. Daar is twee groot redes waarom Johan nie vreeslik energie aan ’n registrasieproses bestee nie.
“Eerstens is die stelsel waarvolgens produkte geregistreer word, ondoeltreffend en gebrekkig. Hoe is dit moontlik dat ’n produk soos aldikarb (two-step) eerstens wettig verklaar is? Daarna, wanneer dit verbied word omdat dit gevind is om dodelik giftig te wees vir mens en dier, is daar niemand wat verantwoordelikheid aanvaar nie. Dan is die grond en waterweë reeds vergiftig. Ek wil nie met so ’n ondoeltreffende stelsel vereenselwig word nie.
“Tweedens behoort die proses waarvolgens biologiese produkte getoets word, heeltemal anders te wees as die proses waarvolgens chemiese produkte en gifstowwe getoets word. Ek het al baie geraas gemaak daaroor en in ’n stadium het die owerheid my gevra om insette te lewer. Die proses is aan die gang om ’n afsonderlike protokol vir die produkregistrasie te ontwikkel, maar daar is min hoop dat dit enigsins doeltreffend gaan wees,” sê Johan.
Prof. Erik Holm van die gediversifiseerde boerdery-onderneming ZZ2, wat ’n sterk natuurboerdery-aanslag het, het dieselfde frustrasie.
“Die Departement van Landbou hou vol dat die registrasie van biologiese produkte aan dieselfde maatstawwe moet voldoen as waarvolgens chemiese produkte geregistreer word. Dit beteken die bestanddele van die produk moet geïdentifiseer, geïsoleer en gekwantifiseer word. Alles behalwe die kwantifisering, tot op ’n vlak wat die departement se voorskrifte vereis, is moontlik,” sê Erik.
Registrasie en die gevolglike kommer­sialisering kan dus nie plaasvind nie.
Volgens Johan is daar groot waardering vir biologiese tegnologie in Indië en Rusland. Die wetgewing, regulering en verspreiding van biologiese middels is baie doeltreffend, wat die bedrywe daar betroubaarder maak vir die produsent.
In Rusland spruit hierdie situasie uit ’n gebrek aan toegang tot die chemiese produkte wat in die laaste deel van die vorige eeu aan die Weste beskikbaar was.
Die Sowjetunie moes toe noodgedwonge navorsing doen oor biologiese middels om in sy behoeftes aan plaagdoders en bemesting te voorsien. Vandag pluk Rusland die vrugte daarvan met ’n goed ontwikkelde biologiebedryf.
Johan sê die invloed van die groot landbouchemiese maatskappye oor regulering is kommerwekkend.
“Die eindverbruiker van voedsel gaan uiteindelik egter die produsent dwing om van sy afhanklikheid van chemiese stowwe afstand te doen.”

Navrae: Dr. Johan Kruger, e-pos: home@clonemasters.org

Foto's

Van links is mnre. Corné en Cordré Smith, en Cillié (Rooitier) du Plessis, plaasbestuurder op Tiervlakte. Cillié meen die manier waarop biologiese middels toegedien word, verg streng aandag. “Dit is goed om die middels reeds voor plant toe te dien en dit is belangrik om die grond klam te hou aangesien dit lewende organismes is.”

Op die agtergrond is die pad wat in die somer in ’n pampoenland as ’n werkry oop gelos is, duidelik sigbaar. Die uiesaad wat in hierdie strook gesaai is, is ook opmerklik baie stadiger as die ander.

Die ry uiesaad wat in die onderste regterhoek van die foto doodloop, is duidelik baie yler as die uiesaad in die ander rye. Op die agtergrond is die werkry wat in die pampoenland in die vorige seisoen oopgelaat is.

Dié uiesaad word gekweek om as uieplantjies op die Smiths se familieplaas, Erfdeel, naby Ceres uitgeplant te word. Hoewel hierdie grond nie die brakste op Tiervlakte is nie, word die biologiese middels steeds hier aangewend.

Dr. Johan Kruger

 Plaasinligting


Ligging: Touwsrivier,
Wes-Kaap

Naam: Tiervlakte

Grootte: 1 500 ha,
waarvan 30 ha onder besproeiing is

Vertakkings: Merinolandskaap, uiesaad, uieplantjies, pampoen, blomkool, lusern

Grondtipe: Swaar klei

Reënval: Sowat 350 mm per jaar

 KORTom

Ná die gebruik van biologiese middels op brakgrond het die opbrengs van uitvoerpampoene meer as verdubbel.

Mnr. Cordré Smith het die werking van biologiese middels reeds vyf jaar gelede waargeneem nadat dit ’n 12 ha-appelboord van appelherplantsiekte genees het.

Die registrasie van biologiese produkte word gekniehalter omdat dit oor dieselfde kam as chemiese produkte geskeer word. In dié opsig is Rusland en Indië die wêreld voor wat ontwikkeling en registrasie betref.

Bladsy 45 - 47