Plaagbestryding - Groente: Biologie vat Rhizoctonia vas (Regstellings onder)

Johan van der Merwe

Ná twee jaar se proewe en duur lesse sien mnr. Maritz Hanekom uit daarna om uiteindelik ’n aartappeloes sonder Rhizoctonia-skade te produseer.
In 2014 het Rhizoctonia meer as 20% van die aartappeloes op Bottervlei, net buite Vanrhynsdorp, verwoes. Vir mnr. Maritz Hanekom, die plaasbestuurder, was dit ’n bekommernis.
“Ons het nie ’n chemiese middel gehad wat vir ons die versekering kon gee dat ons gronde skoon is nie. Ons het reeds al ons moere met Mancozeb (reg.nr. L7381), ’n swamdoder, behandel, maar dit was net doeltreffend in die beginstadium van die seisoen. Rhizoctonia floreer in die boonste 5 cm van die grond, waar daar meer hitte is.
“As die moer dus begin uitloop, vreet die Rhozictonia die stingels pikswart nog voordat dit uitgekom het. Later in die seisoen begin die swamme ook die knolle aanval. Ons het al ’n aartappel hier uitgehaal wat soos ’n truffel lyk.”
Maritz sê hulle het die eerste keer in die 2015-seisoen met biologiese produkte begin eksperimenteer.
“Ons het steeds die Mancozeb op die moere gesit en Momento (reg.nr. L7984), ’n kon­takswamdoder, met planttyd in die plantvoor geplaas. Daarna, tussen week sewe en nege ná opkoms, het ons Bactolife (500 ml/ha) en Sclerostop (500 ml/ha) van BacTech toegedien. Dit het beslis ’n uitwerking gehad, maar nog nie so doeltreffend as wat ons gehoop het nie. Ons het sowat 10% van ons oes verloor,” verduidelik Maritz.
Die voorgeskrewe dosis Bactolife en Sclerostop is 1-1,5 liter per hektaar. Verlede jaar het Maritz, ná die belowende resultate van slegs 500 ml/ha, besluit om die volle dosis toe te dien.
‘Op die regte pad’
Mnr. Jaco Meyer van Metanoia Agri, wat BacTech se produkte in die suide van Suid-Afrika versprei, het Maritz aangeraai om BacTech se Rescue voor planttyd toe te dien.
“Rescue steriliseer basies die grond en kan dus nie saam met ander biologiese produkte gebruik word nie. Dit is egter baie doeltreffend om reeds vroeg in die seisoen patogene organismes in die grond ’n knou te gee.”
Maritz het in die 2016-seisoen weer sy moere met Diathane (reg.nr. L2914) behandel en Monceren (reg.nr. L3123) in die plantvoor toegedien.
“Tydens week een ná opkoms het ons 500 ml Rescue per hektaar toegedien en tussen week agt en nege altesame een liter Bactolife per hektaar en een liter Sclerostop per hektaar.
“Tussen week 12 en week 13, toe ons op ons roetine-inspeksies in die land gaan grawe het, het ons gesien die Rhizoctonia was weer besig om op die knolle houvas te kry. Ons het dus verlede jaar steeds ’n verlies gehad, maar dit was minder as 5%. Dit het my oortuig dat ons op die regte pad is.
“Vanjaar het ons besluit om weer 500 ml Rescue per hektaar toe te dien. Tussen week drie en vier het ons 500 ml/ha elk van BacTech se Bactoviridus en FungalGo toegedien en in week agt het ons 500 ml/ha elk van Bactolife en Sclerostop toegedien. Ons gaan nou, tydens week 12, begin om nog 500 ml/ha elk Bactolife en Sclerostop toe te dien om die aartappels tot oestyd skoon te hou.
“Ek grawe twee of drie maal per week in die landerye en het nog nêrens ’n teken van Rhizoctonia gesien nie. Hierdie program gee my dus die gemoedsrus dat ek reg deur die seisoen teen swamme beskerm is,” sê Maritz.
Volgens Jaco het hierdie program Maritz R3 580 per hektaar gekos en is sy gemiddelde opbrengs 50 ton/ha.
As aangeneem word dat Maritz weens Rhizoctonia 10% van sy oes, of 5 ton/ha, sou moes inboet en dat die gemiddelde prys vir sy aartappels R3,50/kg was, het hy
R17 500/ha verloor voordat hy die biologiese produkte begin gebruik het.
Vir Maritz was die 2015-seisoen egter die grootste les wat hy die afgelope tyd geleer het. “Ons het nie die voorgeskrewe dosisse gevolg nie en ons het die prys betaal. My raad aan ander boere is om die program ordentlik toe te pas. Al beproef jy dit net op ’n gedeelte van jou aanplantings, maak seker dat jy die proef volledig en doeltreffend doen.
“Die biologiese produkte is maklik om te gebruik, kan deur die spilpunt toegedien word, is veilig en hier by my is dit beslis doeltreffend. En dan is daar nog so hier en daar ’n meevallertjie ook. Sedert ek die bio­logiese produkte gebruik, is die knopwortel-aalwurmtellings in my grond die helfte minder.”

Só werk die produkte

Volgens dr. Johann Kruger, eienaar van Clonemaster’s Laboratory en die ontwikkelaar van BacTech-produkte, skei Rescue, Fungal Go en Bactoviridus metaboliete af wat antibakteriese funksies het.
“Die drie produkte bevat vier soorte bakterieë wat almal behoort tot die aktinomisiet-orde, wat normaalweg in termofiele kompostering voorkom. Hierdie bakterieë is vroeër jare saam met kompos in landerye ingewerk, maar dié praktyk vind nie meer plaas nie.
“Die bakterieë skei belangrike metaboliete af en is spesifiek geselekteer om anaërobiese bakterieë te vernietig en patogene wortelswamme te onderdruk. Dit speel ’n groot rol in die bekamping van Pythium, Phytophthora en Fusarium, hoewel party Fusarium-spesies weerstandig kan wees teen die werking van hierdie bakteriese metaboliete.”
Bactolife bestaan uit vyf verskillende Bacilli-organismes wat gebruik word vir die rehabilitasie van die grond. “Die organismes word meestal voorkomend gebruik, nadat die grond skoongemaak of gesteriliseer is, sodat die grond eerste met goeie organismes beset kan word – voor patogene organismes met besproeiing terugkeer.
“Sclerostop bevat ’n organisme van die Serratia-familie wat help om sclerotia (oorlewingstrukture vol fungi-spore) te vernietig en Sclerotinia op veral aartappels te voorkom. Deur ondervinding is gevind dat hierdie produk aan ’n verskeidenheid ander swamme goeie weerstand bied, onder meer Rhizoctonia.”

Foto

Bo: Mnre. Jaco Maree (regs), eienaar van Metanoia, en Maritz Hanekom, plaasbestuurder van Drooge Vallei Aartappels se Botter­vlei-boerdery
.
LINKS: Silwerskoon! Dié aartappels is die Simba-kultivar FL2108. Die aartappels word ná oestyd na die fabriek op Lambertsbaai geneem. Dié wat nie na die skyfiefabriek geneem kan word nie, word verpak en mark toe gestuur. “Dit is verreweg die lekkerste tjip-aartappel,” meen Maritz.

Die aartappels in die sanderige gronde van die Bottervlei-boerdery naby Vanrhynsdorp staan lowergroen in die laat winter. Met die hulp van ’n omvattende biologiese program sien hierdie boerdery daarna uit om uiteindelik ’n oes sonder Rhizoctonia-skade te lewer.

Plaasinligting


ligging: Vanrhynsdorp,
Wes-Kaap

Naam: Drooge Vallei Aartappels, Bottervlei

Grootte: 2 200 ha, waarvan 150 ha besproei word

Vertakkings: Aartappels (sowat 80 ha), rosyntjie-druiwe (sowat 44 ha), botterskorsies en beet

Reënval: 150-200 mm/jaar

 KORTom

Hierdie aartappelboerdery het met biologiese produkte Rhozictonia geheel en al onskadelik gemaak.

Hoewel biologiese middels as veilig geag word, moet dit steeds volgens voorskrif toegedien word.

Deur biologiese produkte te beproef, kan jy ’n pasgemaakte program vir jou eie boerdery ontwikkel.

Navrae: Mnre. Maritz Hanekom, e-pos: hanekommaritz@gmail.com; Jaco Meyer, e-pos: jaco@metanoia-agri.co.za; sel 082 879 0220.

Regstellings

Twee foute het voorgekom in twee afsonderlike fotobyskrifte by die artikel “Biologie vat Rhizoctonia vas” (LBW, 20 Oktober, bl. 50). In die byskrif by die foto van mnre. Jaco Meyer en Maritz Hanekom word verkeerdelik na Meyer as mnr. Jaco Maree verwys. Meyer se naam is korrek in die res van die artikel.

In die byskrif by die foto van die Simba-kultivar FL2108 word gemeld dat aartappels na ’n fabriek op Lambertsbaai of na die plaaslike mark gestuur word. Dit is foutief, want ál hierdie aartappels gaan regstreeks na Simba.

Bladsy 50 - 51